Nehemia 5:1-13
Terwyl Nehemia en die Judeërs fluks aan die bou was aan die mure van Jerusalem, het daar skielik ‘n bedreiging van ‘n totaal ander aard opgeduik. Nee, dit was nie Sanballat en sy gevolg nie, maar dit het gekom uit hulle eie geledere.
Judea het gebukgegaan onder ‘n ekonomiese krisis. Aan die een kant het die bouwerk aan die muur sy tol begin eis, want feitlik ál die mans was betrokke by die bouwerk en verdediging van die stad, gevolglik het hulle boerderye agteruitgegaan. Die noodsaaklike opbrengs om hulle gesinne aan die lewe te hou, was nie meer daar nie en mense het begin verarm. Verder het die spanning met hulle buurvolke hulle buitelandse handel baie nadelig getref, en die inkomste was net eenvoudig nie meer daar nie!
Die gevolg van hierdie toestand was dat hulle kos moes aankoop omdat hulle nie self kon produseer nie. Maar daar was ook nie geld daarvoor nie, omdat hulle nie meer ‘n inkomste uit handel gehad het nie. Om die saak te vererger moes hulle steeds belasting betaal op hulle landerye en wingerde, al het dit niks geproduseer nie. Hulle was dus genoodsaak om geld te leen. Vir sulke lenings moes daar natuurlik sekuriteit verskaf word, dus moes hulle hulle grond verpand.
Die situasie het só handuit geruk dat sommige van hulle selfs hulle kinders as slawe moes gee aan die geldskieters. Ander het weer hulle eiendom verloor. Dit was ‘n hopelose situasie! Die hartseer van dit alles, was dat hierdie geldskieters hulle eie mense was! Dit was die welgestelde Judeërs wat kon bekostig om geld uit te leen aan hulle volksgenote, maar nou het hulle munt geslaan uit die situasie. Hulle was egter heeltemal binne hulle reg volgens die voorskrifte van Moses. Die bepaling was dat as ‘n volksgenoot om die een of ander rede jou slaaf word, dan kon jy vir ses jaar lank sy/haar eienaar bly, waarna die persoon vrygestel moes word (Deut. 15:12-15).
Die omstandighede hier was egter dat hulle nie kon bekostig om só ‘n situasie te laat voortduur in hulle huidige omstandighede nie. Almal moes saamstaan ter wille van almal se voordeel. Om dus ‘n deel van hulle werkmag te laat gebuk gaan onder ‘n onbillike las van slawerny en skuld terwyl die ekonomie in ‘n haglike toestand was, sou net tot nadeel van die hele volk wees. Boonop kon dit die bouwerk knou en die noodsaaklike voedselproduksie groot skade berokken.
Nehemia was ontsteld toe hy besef wat aan die gang was, en hy het met die skuldiges gesels, maar dit het blykbaar nie die gewenste reaksie gehad nie. Hy was dus genoodsaak om ‘n volksvergadering byeen te roep waar hy hard met die rykes gepraat het. Wat hulle besig was om te doen, was ongehoord! Dit was beslis nie tot eer van God nie, en dit sou beteken dat hulle vyande die vinger kon wys na die volk!
Toe pleit Nehemia by hulle. Hy sluit homself nie uit nie en hy bieg dat hy en sy medewerkers sélf ook aan mense geld en koring geleen het. Hy was bereid om ‘n voorbeeld te stel en al die skuld af te skryf. Dan doen hy ‘n beroep op die ander geldskieters om sy voorbeeld te volg en hulle skuldenaars se eiendomme aan hulle terug te gee. Boonop vra hy dat hulle ook die rente op hulle skuld moes afskryf.
Hierdie was beslis nie ‘n geringe saak wat Nehemia van die rykes gevra het nie, nogtans het elkeen van hulle ingestem. Daarna ontbied Nehemia die priesters om hulle onderneming met ‘n eed te bevestig. Dit sou dus nie slegs ‘n vriendelike belofte bly nie, maar ‘n ernstige saak voor God word! Nehemia sluit hierdie perikoop af met die woorde: “Die hele byeenkoms het gesê “Amen!” en hulle het die Here geloof. Die volk het woord gehou.”
Wat ‘n wonderlike, asemrowende oomblik in die geskiedenis van ‘n volk!
Die verskil tussen ryk en arm het deur die eeue baie spanning veroorsaak en ‘n al hoe groter wordende kloof tussen mense veroorsaak. Die rykes word ryker en die armes word armer. Boonop gebruik rykes die regstelsel om hulle rykdom te vermeerder terwyl die armes hulle regte al hoe meer kwytraak. Dis ‘n reuse sneeubaleffek wat ‘n gemeenskap verskeur!
Die geloofsgemeenskap word opgeroep om die voorbeeld te stel en iets te doen aan die toenemende armoede. Vir ‘n begin is dit ons plig om ons medegelowiges se nood te verlig. Maar dit moet ook baie wyer uitkring as slegs ons “binnekring”, want daar buite is derduisende wat in groot nood verkeer!
Nie alleen is dit die “regte ding om te doen” nie, maar dit is ook deel van ons getuienis om die Naam van die Here groot te maak. Dit is ‘n manier om die liefde van die Here aan die wêreld daar buite bekend te stel!
Gebed:
Here, gee my asseblief ‘n oop hart en hand teenoor mense in nood sodat ek U wonderbare liefde so kan versprei!