Daar is 'n groot aantal E-boeke wat gratis afgelaai kan word in beide E-pub en PDF formaat by dagstukkie.co.za/eboeke
Is daar enige ooglopende verskille tussen die kerk en die wêreld? “Maar natúúrlik!” sal jy seker vererg wil antwoord. Maar moenie te haastig wees met jou antwoord nie! Ons moet eers ‘n slaggie baie goed gaan kyk, en sien of daar waarlik ‘n verskil is om van kennis te neem. As daar nie is nie, dan is die kerk besig om te sink!
Dominee stap Sondagoggend selfvoldaan die kerk binne. Agter hom streep die diakens en ouderlinge aan ná hulle oggendsessie in die konsistorie waar hulle belangrike sake bespreek het, soos Saterdagmiddag se rugbywedstryd, die Proteas se vertoning tydens die Wêreldbeker, en wat hulle gaan doen om die ingang na die kerkgebou te verfraai
Die kerkkoor sit héél voor, netjies uitgevat in swart en wit. Dominee is trots op sy gemeente. As hy die kansel bestyg, dink hy aan al die voorbereiding wat gedoen is om hierdie diens spesiaal te maak. Hy het die hele week lank gewerk aan sy preek, en hy is tevrede dat dit van hoogstaande gehalte is. Hy weet ook dat die koor baie hard geoefen het vir hulle uitvoering van ‘n ingewikkelde Latynse lied met hemelse harmonie.
Agter in die kerk sit ‘n persoon met ‘n baie swaar gemoed. Die laste van die lewe het vir haar te veel geword: haar man het haar verlaat en haar kinders is ‘n mislukking. Vir oulaas het sy gekom om troos te soek voordat sy selfmoord gaan pleeg. Voorlangs sit ‘n man wat besig is met ‘n skema om miljoene te maak uit ander mense se ellende. Hy sit in die kerk om sy gewete te sus. Niemand weet van sy donker geheim nie. Op die verste punt sit ‘n vrou alleen. Haar finansiële toestand het haar gedryf tot prostitusie. Sy wil nie in daardie verskriklike situasie wees nie, sy het hulp kom soek in die kerk.
Die koor het hulle uitvoering voortreflik gelewer, en die mense het selfs spontaan hande geklap, al kon hulle nie ‘n enkele woord verstaan van wat gesing is nie. Die dominee se preek was uit die boonste rakke, en die skyfievertoning wat hy saamgestel het, het asems weggeslaan. Ná die tyd kon niemand onthou wat hy gesê het nie, maar almal het geweet dat hierdie dominee ‘n baie slim man moet wees om só ‘n voortreflike preek te kon lewer. Hy was tevrede!
Die vrou is huistoe en het selfmoord gepleeg. Die man se skema het op die lappe gekom en hy is tronk toe. Die prostituut het haar eie onderneming begin en baie manne gelukkig gemaak. Die koor het géén verskil gemaak in hulle lewens nie, en só ook nie die uitmuntende preek van die slim dominee nie.
Daar is ‘n gesegde wat lui dat jy só hemels-gebonde kan wees dat jy géén aardse waarde het nie. As gelowiges moet ons baie versigtig wees dat ons nie bó die wêreld uitstyg nie. Daar is twee dinge wat ons as gelowiges baie goed moet besef: Die eerste is dat ons nie meer deel is van die wêreld nie. Ons moet dus alles in ons vermoë doen om die sondige lewe waarin ons voorheen vasgevang was, agter te laat, en heilig te lewe. Ewe belangrik is, dat ons nie met ons koppe in die hemel kan leef nie. Ons moet steeds in die wêreld leef tussen ongelowiges. Hoe gaan die ongelowiges ooit tot inkeer kom as daar nie gelowiges tussen hulle en saam met hulle is om hulle van God se liefde en genade en Sy verlossingsplan te leer nie? Jesus het immers die voorbeeld gestel toe Hy saam met tollenaars gekuier het en met sondige mense gemeng het.
Dit is ook van uiterste belang dat ons onsself vergewis van presies wat in die wêreld aangaan, sodat ons empatie kan hê met die probleme van ongelowiges. As ons nie hulle omstandighede verstaan nie, kan ons nie vir hulle preek nie. Sommige gelowiges lees nooit koerant nie en kyk nooit TV nie, want dit kan hulle lewens “besoedel.” Ek het baie groot simpatie daarmee, want sodoende kan jy dalk nader aan God leef. Maar dit is tóg belangrik om jou nie totaal van die wêreld af te sny nie.
Die dominee hier bo sou dalk die harte van die drie mense met probleme kon aanraak as hy die eenvoudige evangelieboodskap verkondig het en sy wêreldse wysheid eenkant gesit het. Die koor kon dalk tot hulle harte deurgedring het deur ‘n eenvoudige lied oor God se genade te sing. Die probleem is dat ons dikwels die eenvoudige Skrifwaarhede as onbelangrik ag en eerder die groot filosofiese kwessies wil aanhaal.
Hierdie is juis een van die groot verskille tussen die kerk en die wêreld, dat die wêreld die hogere wyshede soek, en die eenvoudige verwerp. Gelowiges se hele bestaan wentel rondom die eenvoudigste begrippe. “Glo in Jesus en jy het die ewige lewe,” is vir baie mense hééltemal te eenvoudig. Vir die gelowige is dit egter die mooiste begrip wat jy ooit oor kon droom. “Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense”, skryf Paulus (1 Kor 1:25).
Keer ‘n slag terug na die eenvoudige dinge toe!
Gebed:
Here, ek is sélf baie skuldig, want so dikwels probeer ek my eie wysheid bewys, en vergeet ek van die eenvoud van U wonderlike Evangelie.