1 Korintiërs 1:18-25
Is daar werklik beduidende verskille tussen die kerk en die wêreld?
Die ooglopende antwoord is: “Maar natúúrlik!”
Ons moet egter nie te haastig wees met ‘n antwoord nie! Kom ons gaan kyk eers ‘n slaggie baie goed en dan besluit ons of daar waarlik ‘n verskil is om van kennis te neem. As daar nie is nie, dan is die kerk in gróót moeilikheid!
Dominee stap Sondagoggend selfvoldaan die kerk binne. Agter hom streep die diakens en ouderlinge aan ná hulle oggendsessie in die konsistorie waar hulle belangrike sake bespreek het, soos wat hulle gaan doen om die ingang na die kerkgebou te verfraai en natuurlik Saterdagmiddag se rugbywedstryd waar die Haaie die Bulle gewys het waar Dawid die wortels gegrawe het!
Die kerkkoor sit héél voor, netjies uitgevat in swart en wit. Dominee is trots op sy gemeente. As hy die kansel bestyg, dink hy aan al die voorbereiding wat gedoen is om hierdie diens spesiaal te maak. Hy het die hele week lank gewerk aan sy preek, en hy is tevrede dat dit van hoogstaande gehalte is. Hy weet ook dat die koor baie hard geoefen het vir hulle uitvoering van ‘n ingewikkelde Latynse lied met hemelse harmonie.
Agter in die kerk sit ‘n persoon met ‘n baie swaar gemoed. Die laste van die lewe het vir haar te veel geword: haar man het haar verlaat en haar kinders is ‘n mislukking. Vir oulaas het sy gekom om troos te soek voordat sy haar eie lewe gaan neem. Voorlangs sit ‘n man wat besig is met ‘n skema om miljoene te maak uit ander mense se ellende. Hy sit in die kerk om sy gewete te sus. Niemand weet van sy donker geheim nie. Op die verste punt sit ‘n vrou alleen. Haar finansiële toestand het haar gedryf tot prostitusie. Sy wil nie in daardie verskriklike situasie wees nie, sy het hulp kom soek in die kerk.
Die koor het hulle uitvoering voortreflik gelewer, en die mense het selfs spontaan hande geklap, al kon hulle nie ‘n enkele woord verstaan van wat gesing is nie. Die dominee se preek was uit die boonste rakke, en die skyfievertoning wat hy saamgestel het, het asems weggeslaan. Ná die tyd kon niemand onthou wat hy gesê het nie, maar almal het geweet dat hierdie dominee ‘n baie slim man moet wees om só ‘n voortreflike preek te kon lewer. Hy was tevrede!
Die vrou is huistoe en het ‘n oordosis slaappille gedrink. Die man se skema het op die lappe gekom en hy is tronk toe. Die prostituut het haar eie onderneming begin en baie manne gelukkig gemaak. Die koor het géén verskil gemaak in hierdie mense se lewens nie, en só ook nie die uitmuntende preek van die voortreflike dominee nie!
Daar is ‘n gesegde wat lui dat jy só hemels-gebonde kan wees dat jy géén aardse waarde het nie. As gelowiges moet ons baie versigtig wees dat ons nie bó die wêreld uitstyg nie. As gelowiges moet ons baie deeglik besef dat ons nie meer deel is van die wêreld nie. Ons moet dus alles in ons vermoë doen om die sondige lewe waarin ons voorheen vasgevang was, agter te laat en heilig te lewe. Dit is egter nét so belangrik dat ons nie met ons koppe in die hemel lewe nie. Ons moet steeds in die wêreld leef tussen ongelowiges. Hoe gaan die ongelowiges óóit tot inkeer kan kom as daar nie gelowiges tussen hulle en saam met hulle is om hulle van God se liefde en genade en Sy verlossingsplan te leer nie? Jesus het immers die voorbeeld gestel toe Hy saam met tollenaars gekuier het en met sondige mense gemeng het.
Dit is ook van uiterste belang dat ons onsself vergewis van presies wat in die wêreld aangaan, sodat ons empatie kan hê met die probleme van ongelowiges. As ons nie hulle omstandighede verstaan nie, kan ons nie vir hulle preek nie. Baie gelowiges lees nooit koerant nie en kyk nooit TV nuus nie, want dis net oorlog, moord, korrupsie en politiek en dit kan hulle lewens “besoedel.” Ek het baie groot simpatie daarmee, want sodoende kan jy dalk nader aan God leef. Maar dit is tóg belangrik dat jy jou nie totaal van die wêreld afsny nie.
Die dominee hier bo sou dalk die harte van die drie mense in ons storie kon aanraak as hy ‘n eenvoudige boodskap gegee het wat harte aanraak eerder as sy oratoriese meesterstuk. Die koor kon dalk tot hulle harte deurgedring het deur ‘n eenvoudige lied oor God se genade en liefde te sing. Die probleem is dat ons dikwels die eenvoudige Skrifwaarhede as onbelangrik ag en eerder die groot filosofiese kwessies wil aanhaal.
Hierdie is juis een van die groot verskille tussen die kerk en die wêreld, dat die wêreld die verhewe wyshede soek en die eenvoudige verwerp. Gelowiges se hele bestaan wentel rondom die eenvoudigste begrippe. “Glo in Jesus en Hy gee jou die ewige lewe,” is vir baie mense hééltemal te eenvoudig. Vir die gelowige is dit egter die mooiste begrip wat jy ooit oor kon droom. “Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense,” skryf Paulus in 1 Kor 1:25.
Keer ‘n slag terug na die eenvoudige dinge toe!
Gebed:
Here, ek is sélf baie skuldig, want so dikwels probeer ek my eie wysheid bewys, en ek vergeet van die eenvoud van U wonderlike Evangelie!