Eensgesindheid

16 January, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Eensgesindheid

1 Korintiërs 1:10-17

VIDEO | LUISTER

Op skool wou ‘n onderwyser eendag vir ons prakties probeer bewys dat wanneer mense saamstaan, dan is hulle baie sterk. Hy het die oggend ‘n dosie vuurhoutjies uit sy laai gehaal en met ‘n groot gebaar een vuurhoutjie uit die dosie gehaal: “Wie dink dat hy hierdie vuurhoutjie kan breek?”

Ek onthou nog hoe ons gelag het oor sy simpele vraag. Een outjie - die sterkste van ons klomp - is vorentoe aangepor en hy kry die taak om die vuurhoutjie te breek, onder luide applous van sy klasmaats. Toe gooi die onderwyser die hele inhoud van die dosie in sy hand uit, maak die vuurhoutjies in ‘n bondel en gee dit vir die kêrel. “Probeer nou om hierdie bondel te breek!”

Op die oog af lyk dit maklik, maar die arme outjie was naderhand rooi in die gesig van inspanning, maar om die dood kry hy nie die bondel vuurhoutjies gebreek nie. “Dit bewys dat as mense saamstaan, dan het hulle groot krag! Met ander woorde: eendrag maak mag,” verduidelik die onderwyser.

Op daardie oomblik spring ‘n meisie agter in die klas op. “Aag gee tog hier, dan wys ek julle hoe dit gedoen word!” Sy gryp die bondel vuurhoutjies by die seun en almal bars uit van die lag, want hier wil ‘n simpel meisiekind die onmoontlike probeer regkry! Hulle is nuwe intrekkers, iewers op ‘n plaas naby Waterval Boven, dus ken niemand haar juis nie. Sy vat die vuurhoutjies vas, en dan val ons monde oop van verbasing as sy sowaar die hele bondel breek. Sy gee ‘n betekenisvolle kyk in die verleë onderwyser se rigting, en gaan sit weer.

Wat niemand geweet het nie, is dat hierdie meisie so sterk soos ‘n bees was. Deur harde plaaswerk het sy sterk geword - so sterk dat sy ‘n sak mielies in elke hand kon optel en daarmee loop. Ons seuns het gou-gou baie groot respek vir haar gekry, en sy het die bynaam gekry van “Bondelbreker!”

Eensgesindheid onder gelowiges, is iets wat baie sterk op Paulus se agenda is. Ons lees ook daarvan in sy brief aan die Filippense. In vandag se Skrifgedeelte hamer Paulus sommer gróót spykers in hierdie gedagte in, want hy wou die probleme as gevolg van verdeeldheid in Korinte probeer hokslaan.

Verdeeldheid word gewoonlik veroorsaak deur die feit dat verskillende mense verskillende leiersfigure aanhang. Waar daar meer as een leraar in ‘n gemeente is, is hierdie probleem feitlik onvermydelik. In ‘n sekere gemeente was daar ‘n jong, dinamiese leraar wat alles op die moderne manier wou doen. Hy wou wegbreek van die ou tradisies. Die tweede leraar was ‘n ou omie wat bly vasklou het aan die ou kerklike tradisies. Daar was baie spanning in die gemeente, want helfte van die gemeente staan bankvas agter die een terwyl die ander helfte die ander leraar ondersteun. Die gemeente kon eenvoudig nie saamstaan nie.

In Korinte was daar drie leraars betrokke: Paulus, Apollos en Sefas, en elkeen van hierdie drie het hulle aanhangers gehad. Alhoewel Paulus ten tye van die brief lankal nie meer deel was van die gemeente nie, was daar steeds diegene wat van niemand anders wou weet as Paulus nie. Dis nie noodwendig die leraars wat die verdeeldheid veroorsaak het nie, maar eerder kulturele, sosiale of etniese verskille in die gemeente wat gemaak het dat mense saamkliek. Slawe was as ‘n laer klas beskou en verstoot deur sommige. En dan was daar die Jode wat steeds nie met “heidene” wou meng nie, al was albei gelowiges.

Die probleem het nie gelê by die feit dat mense ‘n voorkeur vir die prediking van ‘n spesifieke leraar gehad het nie, maar omdat daar verdeeldheid tussen groepe was, en dat hulle net eenvoudig nie kon saamstaan en saam aanbid nie. “Is Christus dan verdeel?” sug Paulus in vers 13.

Dit is wél so dat predikers verskillende preekstyle het. Dalk is dit vir jou meer aanvaarbaar om te luister na ‘n ou tradisionele prediker, en iemand anders verkies weer ‘n dinamiese prediker. Ons moet egter onthou dat dit nie om die persoon of preekstyl gaan nie. Beide preek wat die Heilige Gees hulle op die hart gelê het, en ons durf dit dus nie minag nie. Ons moet bereid wees om na enige prediker te luister wat die suiwer Woord verkondig. Dit is verkeerd om agter iemand aan te hardloop, net omdat ons sy preekstyl geniet. Dit is na God wat ons luister, en nie die leraar nie.

Dit is egter nog belangriker, dat ons nie durf toelaat dat kultuur- etniese- of sosiale verskille ons as gelowiges van mekaar skei nie. ‘n Klompie van ons gemeente het per geleentheid saam met ‘n Zoeloe gemeente in ‘n “township” naby Stanger gaan aanbid. Hulle het uit hulle pad gegaan om ons tuis te laat voel, en dit was ‘n heerlike belewenis. As ons net probeer, kán gelowiges saamstaan ten spyte van verskille. Dit maak ons geloof sterk!

Gebed:

Here, vergewe my dat ek dikwels so onverdraagsaam is teenoor ander gelowiges wat anders as ek is. Help my asseblief om te aanvaar en saam te staan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Nog ‘n Grote Val
16 February, 2026
Is Sakramente Genoeg?
13 February, 2026
Lewenswedloop
12 February, 2026
Verantwoordelike Vryheid
11 February, 2026
Onderhoud met Paulus
10 February, 2026