Eensgesindheid

29 January, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Eensgesindheid

Filippense 4:2,3

Trots en fier kom hy aangestap deur die dorre veld, sy helder streeppatrone afgeëts teen die vaal van die winterbos. Hy weet presies waar hy mieliepitte te wagte kan wees, en hy lei propvol selfversekering sy trop reguit na die stoep van die boshuisie, waar ons eenmaal in Marloth Park gekuier het. ‘n Paar jong vlakvarkies sien die optog raak, en besluit dat dit nie ‘n slegte idee kan wees om deel te word van hierdie opmars nie. En so kom dit dan dat ons rustige oggend van ontspan op die stoep skielik verander in ‘n besige voersessie. Die arme Mosbolletjie kan nie voorbly om mieliepitte uit te strooi nie, en intussen probeer sy nog foto's neem ook.

Alles verloop aanvanklik baie vreetsaam, en dit is so pragtig om die vlakvarke en sebras so saam om dieselfde tafel te sien aansit. Maar alles is nie hééltemal pluis nie. Die voorraad mieliepitte is maar beperk en die varkies sukkel om tussen die malende massa gestreepte bene hier en daar ‘n pit opgetel te kry. Kort-kort kry een outjie ‘n venynige skop teen die blad. Hy gee 'n pynlike skree en gaan maar weer doodluiters voort en probeer die vrede bewaar so goed hy kan.

Maar dan besluit een sebra dat hy nou net mooi genoeg gehad het van hierdie lastige varkies wat knaend al om sy bene inwurm. Hy mik ‘n goeie skoot en skop die varkie dat hy dáár trek. Vark se kind laat hom nie afsit nie, en hy is terug, om maar net weereens met 'n geniepsige hoef kennis te maak. Sebra vererg hom bloediglik en begin links en regs houe en byte uitdeel. Seergemaakte vlakvarkies laat spaander in alle rigtings. Ons paradys-prentjie het skielik uitmekaargeval!

Dit is so tragies wanneer dit gebeur dat gelowiges wat hard werk vir die Evangelie net op ‘n dag begin om verhoudingsprobleme te ontwikkel, en dan kan hulle nie uit mekaar se hare bly nie. Paulus skryf hier vir twee vroue, Eodia en Sintege, wat baie tragies in so ‘n situasie verval het. Hulle was albei goud werd, en hulle het hard gewerk om die Evangelie uit te dra. Hulle het ’n voorreg gehad waarvoor menige gelowige hulle voortande sou gee, om saam met Paulus te kon werk in die wingerd van die Koninkryk. Hulle name was geskryf in die Boek van die Lewe! Maar hulle kon net eenvoudig nie om dieselfde vuur sit nie. Eensgesindheid het ontbreek en ‘n groot afbreuk gedoen aan hulle kosbare werk.

Paulus pleit by hulle om asseblieftog die strydbyl te begrawe en om in die naam van die Evangelie eensgesind te wees. En so pleit Paulus ook by my en jou dat indien daar sulke onenigheid bestaan, ons ten alle koste versoening moet kry. Sluk jou trots en maak vrede, want saam kan jy net sovéél meer vir die Evangelie doen. Maar dis nie ál nie: as daar sulke tweedrag en twis is, doen dit groot skade aan die boodskap wat gelowiges aan die wêreld moet uitdra - die boodskap van liefde. “As dit is hoe Christene lewe, dan wil ek niks daarmee te doene hê nie!” Klink dit bekend? Dikwels hoor jy berigte oor gelowiges, selfs predikante wat in ’n hewige twis betrokke raak en mekaar selfs met die vuis bydam. In ons eie gemeente het ek dit al beleef, en dan maak dit jou baie diep seer as medegelowiges vir mekaar staan en knor.

Saam met Paulus wil ek vanoggend by jou pleit om vrede te gaan maak ter wille van die Evangelie.

Die feit is, dat as daar sulke tweedrag bestaan tussen jou en ‘n medegelowige, dan moet jy baie ernstig gaan kyk na jou eie verhouding met die Here. Dan is daar iewers iets baie groot verkeerd! Dalk wil jy vir my sê: “Maar hy het eerste begin! Hy het my seergemaak met ‘n kwetsende opmerking!” Of dalk: “Ons dink net eenvoudig nie dieselfde nie.” Dan moet jy dalk weer ‘n slag Paulus se briljante beskrywing in 1 Kor 13 gaan lees, oor wat liefde werklik beteken. “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, nie afgunstig, grootpraterig en verwaand nie.” Paulus sê verder dat liefde nie liggeraak is of boekhou van die kwaad nie.

As ek my lewe ‘n slag gaan meet teen wat Paulus skryf oor liefde, dan wil ek my rooi gesig uit skaamte iewers gaan wegsteek, want dikwels is ek besig om met liefdelose handelinge tweedrag te saai. Iemand moet net iets skeef vir my sê, dan is ek op my perdjie en hap na die persoon soos die sebra die varkie gehap het. Ons is gans en al te liggeraak, en boonop soek ons hééltemal te maklik ons eie belang en trap in die proses op iemand anders. Geduld en vriendelikheid is meer as dikwels nie deel van ‘n gelowige se lewe nie.

Al hierdie dinge veroorsaak dat daar tweedrag kom tussen gelowiges wat andersins baie vir die Evangelie kon beteken. As tweedrag dan iewers deel van jou lewe is, dan is my innige gebed dat jy weer hierdie skrifgedeelte saam met 1 Kor 13 biddend gaan deurlees, en die liefdeloosheid in jou lewe gaan regmaak, ter wille van die Evangelie, asook jou verhouding met die Here.

Gebed:

Here, daar is soveel liefdeloosheid wat steeds deel van my lewe is. Help my asseblief om dit reg te stel.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026