Efesiërs 2:11-22
Vanoggend gaan ons eers ’n slag kerk praat. Soos ons reeds gesê het, bestaan die kerk uit ál die gelowiges, ongeag aan watter denominasie hulle behoort en ongeag hulle ras, kultuur en so meer. Paulus spreek júís hierdie saak aan, waar Christus die skeidsmuur tussen Jode en nie-Jode afgebreek het sodat daar nou slegs één mensheid in Christus is. Almal wat nie Jode was nie, was beskou as heidene. Hulle was sogenaamde “onbesnedenes” en die Jode het geglo dat hulle ver van God af verwyder was omdat God se verbond en beloftes tot Israel beperk was. Jesus het egter hierdie skeidsmuur verwyder sodat heidene óók nou deel van God se verbond uitmaak. Was dit nie hiervoor nie, dan sou slegs Jode deel kon kry aan God se koninkryk en beloftes. Ons sou uitgesluit wees!
Jesus breek baie mure af - mure wat dikwels totaal onnodige skeiding bring tussen gelowiges. Sommige gelowiges is al ou, gesoute Christene wat reeds deur die meul van die lewe gegaan het en sterk staan in die geloof. Dit is só maklik om geestelik hoogmoedig te raak omdat jy reeds “ge-arriveer” het. Dit is egter géén rede om neus in die lug te wees nie, want dit is immers nie jý wat die verskil gemaak het nie, maar Christus! Jy mag dalk selfs kan spog met ‘n ellelange voorgeslag van gelowiges wat uitgestyg het in die geloofslewe. Dit beteken egter absoluut niks!
Die omgekeerde is egter nét so waar. As jy ‘n nuwe Christen is wat nog maar in jou babaskoene staan in die geloofslewe, hoef jy vir géén oomblik minderwaardig te voel nie. In Christus is jy en die gesoute Christen presies op dieselfde plek. Christus het die muur van onderskeid totaal afgebreek.
Daar is inderdaad dikwels hemelhoë mure wat gelowiges van mekaar skei. Soms is dit geloofsoortuigings soos die doop, waar party glo dat ‘n mens reeds as baba gedoop moet word, terwyl ander glo dat jy nie gedoop mag word voordat jy ‘n vaste geloof in Jesus het nie. Sommige glo dat jy doodstil in die kerk moet sit en jou stemmig gedra, terwyl ander weer hande klap en dans om só hulle spiritualiteit uit te leef. Maar daar is ook ander mure wat ons skei, soos byvoorbeeld ouderdomsverskille. Jongmense het ‘n totaal ander aanbiddingstyl as ouer mense. Verskille soos voorkoms, intelligensie, politieke oortuiging, finansiële posisie, ras, status en nog baie ander kan skeidingsmure bou. As jy nou rêrag Jesus se liefde wil doodmaak, moet jy ‘n “kliek” vorm met mense wat nes jy dink, of tot wie jy van nature aangetrokke voel. Sodoende beperk jy jou liefde tot slegs ‘n handjievol uitgesoekte mense!
Jesus het hierdie mure waarbinne mense hulleself afsluit, afgebreek sodat alle gelowiges gelyk is, al behoort ons aan verskillende rasse of kulture en al is daar geloofsoortuigings waaroor jy potensieel ure lank kan stry. Arm en ryk, jonk en oud, begaafd en eenvoudig - in Christus is daar absoluut geen verskil nie! Christus het ons één gemaak en Hy het ook ‘n einde aan die vyandskap gemaak, sodat ons almal deur één Gees vrye toegang tot die Vader het. Hierdie is ‘n wonderlike kleinood wat ons moet koester en met mekaar moet deel. Ons moet positiewe maniere soek om versoening prakties te kan uitleef.
Inderdaad het Jesus alrééds begin om hierdie mure af te breek tydens Sy bediening, 2000 jaar gelede. Hy het nóóit onderskeid getref tussen mense nie en só het Hy die voorbeeld kom stel hoe dit prakties gedoen moet word. Waar géén Jood ooit met ‘n Samaritaan gesels het nie, het Jesus ‘n gesprek aangeknoop met ‘n Samaritaanse vrou, nogal met ‘n ellelange, gure reputasie! Hy het homself uitgenooi na ‘n verfoeilike tollenaar om saam met hom te gaan eet en kuier. Dit was absoluut taboe vir die Jode, want tollenaars was “verraaiers”! Boonop nooi hierdie tollenaar toe nog, om die saak te vererger, ál sy slegte vriende uit om saam te kom eet! Natuurlik was die hoogmoedige Fariseërs gewalg deur Sy optrede!
Ons moet duidelik besef dat daar in die kerk nie so ‘n ding soos ‘n eersteklas en tweedeklas Christen is nie. Alle gelowiges is gelyk. Elke Christen-gelowige is ‘n volle burger met gelyke status in God se koninkryk! Daar is nie bywoners nie!
Elke Christen-gelowige is lid van God se huisgesin. God het elkeen sy eie kind gemaak en almal verbind met die bloed van Jesus. Ons is dus broers en susters!
Alle Christene is sáám die geestelike huis van God, Sy heilige tempel. Elke gelowige is deel van daardie gebou, soos bakstene ingebou om die struktuur te vorm. Soos burgers gelyke status het, en gesinslede broers en susters is en ‘n gebou ‘n eenheid is, so moet gelowiges óók ‘n hegte eenheid vorm. Ons is gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus as ons Hoeksteen (vers 20). As Hoeksteen bind Hy juis die ganse gebou van die kerk saam tot ‘n magtige eenheid en ‘n heilige tempel vir God, ‘n tempel waarin die Heilige Gees woon (vers 21,22).
Kom ons leef daardie wonderlike eenheid vandag prakties uit.
Gebed:
Here, dankie dat U die mure tussen ons afgebreek het. Bewaar ons asseblief daarvan om weer die mure te herbou.