Inleiding tot Nehemia
Dualisme is onaanvaarbaar vir ‘n gelowige! Jy het sékerlik al iemand hoor sê: “Ek kan dit nie glo van Koos nie! Hy is dan só ‘n gawe man, hoe is dit moontlik dat hy so ‘n buffel kan wees wanneer hy by die huis is? Hy het sy arme vrou en kinders verrinneweer!”
Ja, dikwels is iemand die goedheid vansélf by die werk en ‘n skobbejak tuis, of andersom ‘n goedhartige gesinsman tuis maar ‘n ware buffel by die werk, wat sy werknemers ‘n harde tyd gee. Dit is beslis nie iets wat by ‘n gelowige pas nie! Jy is nie Sondag by die kerk die vroom Christen en Maandagaand saam met jou pêlle die een wat vloek en vuil grappies vertel nie. Jy is konsekwent. ‘n Fontein kan mos nie terselfdertyd vars én bitter water uitborrel nie?!
Dit is wat ons by Nehemia sien – hy bly konsekwent in alle omstandighede! In die koning se hof is hy die bekwame skinker wat sy werk met toewyding uitvoer, en later bou hy mure in Jerusalem met presies dieselfde toewyding, alles ter wille van dié God wat hy met volle toewyding dien.
Nehemia se verhaal het afgespeel terwyl Artasasta koning was in Persië, tussen 465 en 424 vC. Hy het ook bekend gestaan as Artaxerxes I. Dit was ‘n tyd van groot politieke onstabiliteit, met opstande regoor die Persiese ryk, tot selfs in Egipte. Nehemia was die koning se skinker, en dus ‘n hooggeplaaste amptenaar en die koning se vertroueling. Dit sou dus vir die koning tot voordeel wees om iemand soos Nehemia na Jerusalem te stuur om daar stabiliteit te bewerkstellig.
Alhoewel hierdie boek onder meer handel oor Nehemia se persoonlike herinnerings van die herbou van Jerusalem, was dit egter eers meer as 100 jaar later op skrif gestel, waarskynlik deur dieselfde priesters as wat Kronieke en Esra verwerk en saamgestel het. Dit kon selfs so laat as 330 vC, in die tyd van Alexander die Grote sy beslag gekry het. Sommige teoloë is van mening dat die oorspronklike skryfwerk nie deur Nehemia gedoen was nie, maar eerder deur Esra.
Ons kan die boek in vier hoofdele opdeel. Die eerste sewe hoofstukke handel hoofsaaklik hoe die mure van Jerusalem herbou was, dikwels onder groot weerstand. Die tweede deel, hoofstukke 8 tot 10 handel oor Esra se hervormings. Deel drie, hoofstukke 11 en 12 beskryf ‘n paar aangeleenthede wat Nehemia hanteer het, soos die inwyding van die muur, asook die saamstel van ‘n lys van wie in Jerusalem moes bly, en wie na ander nedersettings moes gaan. Die vierde deel, hoofstuk 13 vertel van sy tweede besoek aan Jerusalem.
Wie was Nehemia? Ons weet nie veel van sy persoon af nie, buiten dat hy ‘n Judeër was wat tydens die ballingskap uit Judea weggevoer was. Hy het uiteindelik in die hof van die koning opgeëindig, waar hy ‘n hoë pos beklee het in die stad Susan. Dis terloops dieselfde stad waar Ester ook koningin was!
Nadat hy na Jerusalem gestuur was, het hy nóú saamgewerk met Esra, waar hulle baanbrekerswerk gedoen het om die stad nie alleen fisies te herbou nie, maar ook geestelik. Alhoewel hulle saamgewerk het, het hulle persoonlikhede baie wyd verskil. Esra het met mooi woorde, konsultasie en oorreding sy doel bereik met sy taak. Nehemia was weer die sterk leier wat verkies het om sy werk te doen sonder om ander se raad te vra. Hy het nie teenstand geduld nie, en hy het beslis geweet wat hy wou hê!
Ten spyte hiervan, het hy die volk agter hom gehad, want almal het sy leierskap ten volle vertrou! Hulle het geweet dat dít wat hy gedoen het, nie in sy eie belang was nie, maar in húlle belang. Dit het hulle geïnspireer om met groot ywer hulle volle gewig in die taak in te gooi.
Ons leer Nehemia ken as iemand wat lief was vir die Here. Ons sien ‘n lang, hartroerende gebed toe hy verneem het van die toestand van Jerusalem. Later sien ons egter by ‘n paar geleenthede ook dat hy ‘n “skietgebed” opgestuur het toe die nood gedruk het.
Op die oog af lyk die boek Nehemia of dit ‘n storie is van ‘n muur wat gebou word, maar dit is véél meer en elkeen van ons kan vandag leer uit hierdie boek wat steeds vandag, meer as 2000 jaar later aktueel is!
Gebed:
Here, ons gebed is dat U hierdie boek wat lyk na net nog ‘n stukkie geskiedenis, vir ons sal oopbreek sodat ons duidelik U stem daarin sal hoor!