Droogte

20 June, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Droogte

Joël 1:15-20

VIDEO | OUDIO

Dit was iewers in die vroeë 90’s toe ons een Septembermaand besluit om te gaan vakansie hou in ons boshuisie in Marloth Park in die Laeveld. Donkeroggend is ons uit Ballito weg sodat ons teen half agt die oggend by die Swaziland grenspos kon wees. Skaars ry ons Swaziland binne, toe sien ek al dat dinge hier bedroef gaan. Die talle beeste en donkies wat ons langs die pad aantref se ribbebene beur prominent deur die vel - sommige lyk soos lewende geraamtes. Baie gou sien ons ook die rede - daar is nêrens ‘n groenigheidjie te bespeur nie. Daar is nie eers enigiets wat kurkdroog is wat die arme goed kan vreet nie. Plek-plek is dit net die kaal rooi grond sonder enige plantbedekking.

Later ry ons deur ‘n gebied waar die suikerlande gewoonlik weelderig staan. Selfs hier wys die versengende droogte sy grynslag want die riet is vaal en verskrompel. Swaziland gaan gebuk onder ‘n droogte wat die arm land op sy knieë dwing. Ek geniet nie die rit nie - alles is neerdrukkend!

Wanneer ons die middag by Border Gate, die anderkantste grenspos kom, slaak ek eintlik ‘n sug van verligting. Maar dis so warm dat die kraaie gaap. Die laaste klompie kilometer na Marloth Park is nie juis minder neerdrukkend nie want ook hiér het die droogte sy tol geëis. Brandmaer beeste staan en kou aan plastieksakke in een van die verarmde dorpies waar vuil kindertjies in die stof speel.

Uiteindelik kom ons in die “paradys”, Marloth Park aan. My hart sak in my skoene want waar dit hierdie tyd van die jaar al lowergroen moet wees na die eerste lentereëns, is die wêreld kurkdroog uitgedor. ‘n Troppie brandmaer rooibokkies staar ons met dowwe oë aan sonder enige lus vir die lewe. Daar is niks meer oor om voor te lewe nie, want tussen die uitgedroogte sekelbosse pryk die vuurwarm gebakte kaal rooi grond sonder ‘n sprietjie gras in sig. Ons ry verby ‘n karkas van ‘n rooibok wat gevrek het.

Ek voel siek.

Waar ons gewoonlik opgewonde is om af te pak en die natuur te geniet met ‘n biertjie in die hand, is dit hierdie keer vir ons ‘n swaar las om die motor moeisaam af te pak. Ek sug swaar, want die skroeiende Salatiwind beroof my van my asem. Daardie aand is selfs die knetterende ou hardekool vuurtjie nie eers ‘n groot troos nie. Die naguiltjie sing nie en die leeu brul nie. Dit is net die hiëna wat sy droewige klaaglied deur die grypende doringkloue van die sekelbosse laat weergalm.

Die volgende oggend begin sommer al klaar rooiwarm, kort nadat die vuuurrooi son se strale deur die kaal takke begin brand. Teen twaalfuur is dit onhoudbaar. “Iets moet gebeur.....” sê ons vir mekaar. My innige gebed gaan vir die arme diere wat so verskriklik ly. Nie ver van die huis af nie het iets gevrek - ek ruik die dood…..

En dan gebeur dit: Die vuurwarm wind gaan lê baie skielik en ‘n doodse stilte sak toe oor die bos. Daar is selfs nie ‘n enkele voëlgeluidjie nie. Dan verskyn ‘n enkele spierwit wolkie op die horison, “so groot soos ‘n man se vuis”. Binne minute groei dit aan tot ‘n swaar wolkbank. Die wind begin baie skielik opkom, maar dié slag uit die suid-ooste. En dan weet ek: vanmiddag kom die gróót reën! Ja, na vanmiddag gaan die bos weer lewe!

In Joël 1:16-20 beskryf die profeet feitlik woord-vir-woord die toneel wat ons hier bo beleef het. “Die dag van die Here is naby”, begin hy hierdie perikoop, “dit is ‘n dag van verwoesting, dit kom van die Almagtige af.” Hy wil die erns van God se komende oordeel oor Sy volk beklemtoon. Op daardie dag gaan God met mag ingryp in die bestaan van Sy volk wat Hom nie opreg wil dien nie.

‘n Verskriklike hongersnood gaan die volk tref sodat die blydskap en die gejuig van hulle kultus totaal gaan verdwyn.

Joël staan egter nie afsydig teenoor die verskriklike oordeel wat die volk gaan tref nie en dan roep hy namens die volk tot God vir uitkoms. Hy preek dus nie maar net vir die volk nie, maar hy skaar hom saam met hulle en stel die voorbeeld om sélf te bid vir uitkoms.

Die vraag is of God na sy gebed en al die gebede wat van die volk opstyg gaan luister? Sal die Here hulle ooit genadig wees en vir hulle uitkoms gee?

As ek en jy tot die Here bid, dan voel dit ook dikwels asof die Here gladnie eers luister na ons gebed nie. Het die Here dan van ons vergeet? Sal Hy ooit uitkoms gee?

Uit eie ondervinding kan ek vandag sê dat ons nie moet moed verloor nie! Die Here luister met groot deernis na ons gebed. Ja, soms gaan Hy nie die uitkoms gee waarvoor ons vra nie, maar dan moet ons besef dat Hy ‘n baie groter doel het met die dinge wat ons tref en dat ons later wanneer ons terugkyk, dikwels God se groot raadsplan sien en wéét dat dit so móés gebeur!

Gebed:

Here, wanneer dit swaar gaan met my, vra ek dat U my rustig sal maak sodat U raadsplan tot uitvoer kan kom!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026