Genesis 18:1-15
By die groot bome van Mamre staan Abraham se tente opgeslaan. Dit is middag, die warmste tyd van die dag. Dis die tyd wanneer almal liewer ‘n siesta vang en jy wegbly uit die moordende son. In sy tentopening sit die bejaarde ou Abraham, sy gedagtes elders.
Skielik staan daar drie manne ‘n entjie van hom af. Hy skrik - hoe is dit dan moontlik dat hy hulle nooit sien aankom het nie? Die een oomblik was dit net die kaal klippe en grond, en nou staan hulle hier? Abraham spring op en draf nader. Op nege-en-negentig dra sy bene hom nog besonder goed. Vreemdelinge hier rond is so ‘n rare ding, dat ‘n mens draf as jy hulle sien. Ook niks aanstellerig oor die skatryk Abraham nie, en beleefd buig hy voor die manne. Hulle moet sekerlik vreeslik honger en dors wees na ‘n lang staptog deur die woestyn. Dus nooi hy die manne uit om tog maar “‘n stukkie brood” saam met hom te geniet, en dan kan hy hulle sommer ‘n bietjie lafenis gee vir hulle moeë voete. Hulle is nou eenmaal hier, waarom sal hulle dan by hom verbyloop?
En so begin ‘n verhaaltjie wat gehul is in misterie. Wie was die manne? Waarvandaan het hulle so uit die niet verskyn? Waarheen was hulle op pad? Waarom was Abraham so opgewonde en gretig om hulle te bedien van kop tot tone? Dit word later duidelik dat hulle vir Abraham en sy situasie baie goed ken, al het hy hulle nog nooit tevore met ‘n oog gesien nie.
Maar die misterie verdiep. As die manne instem om te gaan sit vir “’n stukkie brood”, haak Abraham se kop skoon uit, want die opdrag wat hy vir Sara gee, is om nie minder nie as sestien kilogram meel te vat en te knie om roosterkoeke te bak. Met so ‘n berg meel sou ‘n man sékerlik genoeg roosterkoeke kon bak om ‘n jong weermag te voed! Maar dit hou nie op nie, want volgende draf Abraham gou oor na die beeskamp, en soek daar ‘n mooi jong tollie uit om te slag vir sy gaste. En daar kom botter en melk, en hierdie “stukkie brood” word sommer ‘n reuse feesmaal, gáns te veel vir net drie mense!
Nogtans hoor ons nêrens dat die gaste protesteer oor hierdie berg kos wat die tafels laat kreun nie.
Hierdie was gasvryheid op sy beste. Wat is dit wat maak dat jy wildvreemde mense trakteer asof hulle konings is, sonder om eers uit te vra na wie en wat hulle is? Vandag is sulke soort gasvryheid ‘n rare ding. Vreemdelinge word met groot wantroue aangekyk, dalk ook nie met ongegronde redes nie. Jy weet mos nooit meer wie jy kan vertrou en wie nie. Dikwels fel ons ‘n oordeel oor ‘n vreemdeling nog voordat ons hom ontmoet het. Die persoon wat by jou deur opdaag, word dikwels begroet met ‘n nors: “Wat wil jy hê?” ‘n Paar jaar gelede daag daar een aand ‘n man op by die kerk terwyl ons besig is met ons kooroefening. Hy lyk maar bra gehawend, en hy maak homself tuis op een van die agterste gestoeltes van die kerk. Ek kyk die “boemelaar” baie skepties aan, met my neus baie hoog in die lug. Nie lank nie, of die man begin luidrugtig kommentaar lewer oor ons sang, en ek wens hom uit my lewe uit. “Met watter hartseer storie gaan hy nou weer kom bedel?” wonder ek hardop teenoor die ander koorlede. Die man kry lelike skewe kyke, ten spyte van sy baie positiewe kommentaar.
Toe ons klaar is met ons oefening, klap hy hande. Nee, hy wil niks hê nie! Hy het maar net groot behoefte gehad om die mooi musiek te kom waardeer. En ja, hy ís ‘n boemelaar, en nou gaan hy iewers onder ‘n boom slaap. Maar dankie vir die mooi musiek! En toe verdwyn hy. Ek voel soos ‘n wurm!
Op ‘n ander geleentheid struikel ek weer baie hard, toe ek ‘n man en vrou in ‘n sakesentrum sien loop. “Bedelaars! Swendelaars!” Ek veroordeel hulle dáár en dán, want hulle lyk bitter verdag! Ek loop ‘n wye draai om hulle. Dan skrik ek my yskoud as die man skielik reg langs my staan waar ek iets moet koop in ‘n klein winkeltjie. Tot my skande moet ek verneem dat hy ‘n man van die gereg is wat op soek is na ’n swendelaar wat onder baie verdagte omstandighede sake gedoen het in Ballito, en baie mense ingedoen het. Hoe verkeerd was ek nie! Dit is nie vir my en jou om te oordeel nie!
Die besoek van die drie vreemdelinge het toe geblyk dat een van die drie die Here was. Hy het geweet van Sara, en toe sê Hy vir Abraham dat Hy hulle weer na ‘n jaar sou besoek, en dat Sara dan met ‘n baba in die arms sou staan. Sara het in haar mou gelag, want sy was al lankal verby menopouse, dus is dit ‘n belaglike gedagte. Met groot deernis reageer Hy op Sara se gelag: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” Dan moet ek en jy ook deeglik kennis neem, want Hy is die onpeilbare, die Een wat op misterieuse wyse dinge doen en dikwels op baie verrassende wyse optree. Hy is die Een wat die onmoontlike kan doen, en dikwels ook wél doen.
Hoe dikwels het ek nie moes luister na mense wat vertel dat hulle op onverklaarbare wyse genees is net voordat hulle ‘n operasie moes ondergaan! Ons kan maar op Hom vertrou en ons kan gerus maar die onmoontlike van Hom verwag! Hy is immers God Almagtig!
Gebed:
Here, dankie dat ons vanoggend net weereens kan besef dat U die Almagtige God is.