1 Johannes 2:28-3:10
Ek was jonk en vol lewenslus en die hunkering na avontuur het gebruis deur my jong are. Toe die voorbokke van die kerk se jongklomp in Durban dus die dag die idee kry om die Drakensberge te gaan uitklim, was ek voor in die koor om saam te gaan. Louis (Snor) Fourie en Arthur (Stinkie) Pringle het al voorheen die Groot Draak aangedurf, en nou moet hulle ons ander voorberei op die vier dae van klim. Hoe nader die dag kom, hoe groter raak die opgewondenheid.
Wanneer ons die koue, nat oggend pikdonker uit Durban vertrek, het elkeen van die 21 stappers al ‘n hele fiksmaak-program deurgewerk. Ek spring op en af van opgewondenheid, maar terselfdertyd knaag die onsekerheid aan my - gaan ek dit ooit maak? Wanneer ons begin stap, sak daar ‘n ysige misreëntjie oor ons uit. Die eerste paar kilometer gaan dit draf-draf, maar dan begin my bene moeg raak. Die opdraendes word al hoe steiler en die rugsak met vier dae se voorraad, klere en ‘n tent word al hoe swaarder. My voete is seer, en die aanhoudende reën maak die wêreld amper onbegaanbaar glad. Die wonderlike uitsig wat ek beloof is, gebeur nie, want ‘n misgordyn verberg dit.
Een van die meisies se voete gee moeilikheid, en die safari word oneindig vertraag. Dit is al laatmiddag as ons Boesmanspas aandurf, die laaste pas na bo. Die klim is bitter steil en klipperig, maar my gevoel is dat ons darem nou al amper héél bo moet wees. En dan skielik maak die misgordyn oop. Voor ons troon vertikale kranse hemelwaarts. My oog volg die ongenaakbare rotsmuur, op en op en op, tot amper in die oneindigheid. My moed sak in my skoene. Moet ons nog tot daar héél bo? Ek sal dit nooit, ooit maak nie! Die nag oorval ons, en ons moet kamp maak teen die onherbergsame pas. Daar is nie grond om op te slaap nie, net klippe. Dis bitter koud, ver onder vriespunt. Ek verlang na my bed!
Boesmanspas 1968
Dag twee begin met ‘n uitmergelende klouter teen die rotsbesaaide Boesmanspas op. Ek sukkel om asem te kry. Suurstof is bitter skaars daar bo. En dan is daar boonop daardie ewige misbank wat alles om jou toemaak! Dan hoor ek die voorste ouens skree: “Ons is bo!” Ek kry nuwe moed. Aanhou, vasbyt, deurdruk. Uiteindelik bo! Vol verwagting wag ons dat die misbank lig. En dan, soos ‘n gordyn word dit vir ons oopgeskuif. Ek snak na my asem. Reg voor ons is ‘n loodregte afgrond, ‘n kilometer hoog. Ons kyk uit oor die hele Natal. Asemrowend, onbeskryflik mooi! Alles was deur en deur die moeite werd! Wat ‘n verruklike gesig!
Johannes beskryf daardie eendag waarna ek en jy kan uitsien, die dag wanneer ons “soos Jesus” sal wees. As jong gelowige bruis daar ook ‘n opgewondenheid deur jou are, net soos die dag toe ek hoor van die berge. In jou geestesoog lyk die pad besaai met roosblare, en al wat jy sien is die einddoel. Maar dan begin jy die geloofspad loop. Weldra kom jy agter dat dit al hoe moeiliker en moeiliker raak. Jy word moeg en dikwels trek daardie misgordyn van onsekerheid om jou toe. Dis beslis nie maklik nie! Johannes wil ons hier moed inpraat. Hy sê ons moenie moed verloor nie. Ja, ons sal beslis die aanslae van die bose en die antichris beleef, maar ons moet deurdruk, want die einde is naby. Ons moet volhard in ons geloofsvertroue op Jesus Christus, en in Hom bly. Alhoewel die pad na bo glad en steil en vol klippe is, moet ons net in Jesus se “voetpaadjie” bly loop.
Ons mag dalk by ‘n punt kom waar ons opgewonde dink dat die einde uiteindelik aangebreek het. Ons sug as ons die onverbiddelike kranse voor ons sien. Dan moet ons net weer vasklou aan die groot liefde wat Jesus aan ons bewys het. Moenie dat die kranse van die lewe jou intimideer en laat omdraai, terug na die sonde nie, maar hou al die tyd in gedagte dat jy God se kind geword het uit Sy groot genade en liefde. Byt vas en oorwin die rotsblokke van die sonde wat jou pad na Bo versper.
Inderdaad hang die misgordyn gedurig om jou, sodat jy nie kan sien waarheen jy waarlik op pad is nie. Ons kan maar net in ons geestesoog die wonderlike beskrywing van die nuwe Jerusalem sien, soos Johannes dit in Openbaring aan ons beskryf. Ons moet dus in daardie verwagting van die wonderlike, onbeskryflike wat op ons wag, leef en aanhou veg teen die sonde. Ons moet besef dat dit die duiwel is wat die sondeklippe oor ons lewenspad kom strooi het, en juis daarom moet ons die sonde oorwin. Sonde is immers God se vyand, én ons s’n!
Dalk is jy nou besig om die Boesmanspas van jou geloofslewe uit te klouter. Dalk voel dit soms of jy nie meer asem het vir die laaste, steil, amper-onklimbare stukkie pad nie. Dalk raak jy moedeloos omdat die misgordyn van onsekerheid jou toevou. Weet dan vandag verséker dat die wonderlikste, onbeskryflike, asemrowende ewige lewe saam met Jesus daar bo op jou wag.
Gebed:
Here, gee my asseblief die moed en deursettingsvermoë om vas te byt en die pad voluit te klim tot eer van U grote Naam.