Galasiërs 6:1-10
Paulus het dikwels ‘n paar los opmerkings gemaak aan die einde van sy briewe. Nou doen hy dit ook in die brief aan die Galasiërs.
Sy opmerkings sluit baie nou aan by die vorige gedeelte, oor hoe iemand se lewe onder beheer van die Heilige Gees moet lyk. In die vorige oordenking het ons gesien dat dit gevaarlik is om jou vryheid te misbruik in jou verhouding met jou medemens en veral teenoor jou medegelowige. Paulus vryf nou as’t ware sy vermaninge in met spesifieke opdragte oor hoe om jou liefde uit te leef.
Ons moet baie deeglik onthou dat ons almal nog daardie sondige natuur in ons het en dat enigeen die een of ander tyd kan struikel. Gewoonlik is jy egter blind vir jou eie foute, en selfkritiek is buite die kwessie. So gebeur dit dan soms dat ek ‘n medegelowige “uitvang” dat hy in die een of ander liederlike sonde beland, moontlik in iets soos in Paulus se sondelysie van Gal. 5:19 en 20. “Piet is alweer gesuip!” sou ‘n mens byvoorbeeld kon uitroep, en die arme man veroordeel tot in die warm plek. Tien teen een gaan jy sy sonde boonop aan die groot klok hang. “Nee”, sê Paulus, “dis nie die regte manier nie!” Laat jou eerder lei deur die Heilige Gees oor hoe om op te tree teenoor Piet. Nét in die vorige dagstukkie het ons nog gelees van watter groot plek liefde moet inneem wanneer ons deur die Heilige Gees beheer word. Die idee is dan om daardie liefde teenoor Piet te gaan uitleef en hom in ‘n gees van sagmoedigheid te gaan reghelp.
Boonop moet ek in my agterkop die gedagte dra dat ek self ook maar mens is, en dat dit só maklik is vir my om in presies dieselfde situasie te beland. Die duiwel lê en wag vir ‘n geskikte oomblik om my te verlei, ‘n tyd van swakheid, waar my verhouding met God dalk nie so sterk is nie. Ek mag dus nie veroordeel nie, want dieselfde oordeel kan myself ook tref!
Paulus sê verder dat ons bereid moet wees om mekaar se laste te dra. Watter laste? Die sake wat vir jou as medegelowige die lewe moeilik maak. Dit kan siekte, werkloosheid, geldelike probleme en dergelike dinge wees of dalk emosionele probleme, soos iemand wat 'n geliefde aan die dood moes afstaan. Wees ‘n skouer om op te kan huil vir iemand wat deur ‘n tyd van droefheid gaan. Wees bereid om te luister en so daardie persoon se las ligter te maak. Op hierdie manier gee jy uitvoering aan die wet. Watter wet? Liefde!
Verder vra Paulus dat ons kritiese selfondersoek moet doen. Dink ek nie miskien ek is belangriker as wat ek werklik is nie. Is dit wat ek doen werklik goed en prysenswaardig? Vergelyk ek my lewe met ander mense s’n, dan maak ek ‘n groot fout. Eintlik moet ek my lewe vergelyk met wat God van my verwag in my lewe: Hoeveel punte gaan ek kry?
As ek ‘n voorbeeld uit my eie lewe kan neem: hierdie dagstukkies is ‘n reuse sukses. Hulle word daagliks deur duisende mense regoor die wêreld gelees. Verskeie gemeentes gebruik dit in hulle kerkblaadjies. Rede om te roem? Rede om te dink dat ek beter is as ander? Geensins! As ek die dag begin groot kop kry oor hierdie dagstukkies, dan kan ek net sowel ophou skryf! Uit my eie krag is ek nie in staat om ‘n enkele dagstukkie te skryf nie. Dit is genade alleen, en hópe hulp van die Heilige Gees wat hulle laat gebeur. Boonop is dit God wat my ‘n skryftalent gegee het, en as ek dit nie tot Sy eer gebruik nie, misbruik ek dit. Inderdaad moet ek ook rekenskap gee van wat ek met my talente doen. Die Here het my die talent gegee om te kan skryf. Gebruik ek dit? Steek ek dit onder die spreekwoordelike maatemmer weg? Of misbruik ek dit dalk?
Dan vra Paulus van sy lesers om hulle geestelike leiers te ondersteun. Moenie dat iemand ál sy tyd en krag in die werk van die gemeente sit sonder om hom ook finansieel te help nie. Ek weet daar is gemeentes waar die geestelike werkers, jeugwerkers, Pastore ens. geen of bitter min vergoeding kry terwyl die gemeente in luuksheid lewe. Dit is verkeerd!
In die slot van hierdie perikoop sê Paulus dat ons baie mooi na ons geestelike lewe moet kyk. Moenie in sonde verval nie, want wat jy saai sal jy oes. As dit sonde is, oes jy slegte dinge. Die keuses wat ek maak het almal gevolge. As ek byvoorbeeld oor iemand skinder, doen ek nie alleen die ander persoon skade aan nie, maar ek word self uiteindelik gebrandmerk as ‘n skinderbek!
Die idee is om eerder goed te doen aan ander mense. Dra ander se belange op die hart. Wees bewus van die nood van jou medemens en doen iets daaromtrent. Liefde moet die fokuspunt van jou lewe wees. O ja, en natúúrlik gaan jou medegelowiges voorkeur kry wanneer jy êrens moet help, maar onthou ook dat daar ander mense in die wêreld is, ongelowiges. Moet nooit van hulle vergeet nie. Jesus het eenmaal gesê dat jy selfs jou vyande moet liefhê. Liefde is nie ‘n emosie nie, maar ‘n praktiese uitleef van jou geloof, en dus moet jy ook aan ongelowiges barmhartigheid bewys.
Gebed:
Here, help my asseblief om eerlik introspeksie te doen en reg te maak wat verkeerd is in my lewe, en veral om my liefde prakties te kan uitleef.