Miga 5:6-14
In die dorre, droë landskap van Palestina smag alles en almal na ‘n bietjie water, net ‘n ou lafenissie. Wanneer die bloedige son egter agter die horison verdwyn, sak ‘n swaar dou oor die dorre aarde neer wat plant en dier feitlik sopnat laat, en heerlik verfris in die vroeë oggend. Dorstige diere lek dankbaar die dou van die grashalms af en uitgedorde plante suig die vog in om nuwe lewe te kry.
Aan die dorre Skedelkus van Suider Afrika lê die oudste woestyn in die wêreld dor, droog, morsdood. Maar wanneer die misbank voeg-oggend sy sagte donskombers oor die landskap tooi, dan kry hierdie lewelose sandduine skielik lewe. Insekte, geitjies en gemsbokke drink die dou wat kondenseer op die skaars grashalmpies - lewegewende, lawende dou in ‘n wêreld waar die dood lê en loer.
Miga beskryf “dié van Jakob wat oorbly” soos dou in ‘n dorre wêreld, dou wat van die Here kom. Hulle sal tussen baie mense wees. Maar nie alleen sal hulle soos dou wees nie maar ook soos lewegewende sagte reën wat diep in die dorre aarde indring en die wortels van die plante deurdrenk met nuwe lewe.
Ons gelowiges is ook deel van “dié van Jakob wat oorbly” en daar rus dus ‘n baie groot verantwoordelikheid op ons om soos dou en sagte reën te wees in die wêreld waar ons woon en werk. Gelowiges mag net eenvoudig nie “werkloos” sit en wag vir die koms van die nuwe Koning van wie ons in die vorige dagstukkie gelees het nie. Ons woon in ‘n wêreld “tussen baie volke”. Wie is hierdie volke? Almal wat ongelowig is. Daar is diegene wat natuurlik openlik afgode aanbid, soos die Hindoes. Maar die meeste mense met wie ons te doen kry, skaar hulleself onder die vaandel van Christelike geloof, maar hulle bedryf ‘n dooie Godsdiens. Hulle glo in God se bestaan (die duiwel glo dit ook!) en hulle glo selfs dat God die Skepper is. Maar hulle het nog nooit by Jesus uitgekom nie. Dan is daardie Godsdiens dor en selfs dood soos die Skedelkus.
Dit is juis hier waar ons gelowiges se taak lê, om soos lawende dou of reën vir sulke mense te wees. Ons moet ‘n seën wees vir die omgewing, ‘n bate. Dit is natuurlik nie iets wat jy uit jou eie krag kan doen nie. Net soos wat die dou en die misbank van die Skedelkus ‘n gawe is wat God gee, so kry ons ook die gawe en krag van God om vir mense ‘n lafenis te wees. Hy gee hierdie gereedskap vir ons in ons hande. Maar die verantwoordelikheid lê dan by ons om dit te gebruik.
Wanneer is jy so ‘n lafenis vir die mense om jou? Wanneer alles in jou soos ‘n vars bries, soos dou is. Bloot deur liefde uit te leef en uit te straal is alreeds so ‘n lafenis. Ek begin deur tot die diepe besef te kom van God se groot liefde vir my. Dit behoort in my ‘n oorweldigende vrede en lewensvreugde te ontketen, iets wat op my gesig en my hele houding gesien kan word. Dit pas net eenvoudig nie by ‘n gelowige om nors en onvriendelik te wees nie, selfs nie eers wanneer dit met jou sleg gaan nie. Onthou: swaarkry is maar net ‘n proses van suiwering om ons sterker te maak, en iets waarvoor ons dankbaar moet wees.
My lewe van vreugde, liefde en vrede moet vir ander ‘n aangename geur wees, sodat hulle honger sal word om ook daardie lewe te wil kry. Dit maak dan deure oop om die Evangelie aan hulle oor te dra.
Maar daar is ook ‘n tweede aspek wat Miga noem - en dit is dat gelowiges soos leeus sal wees. Die beeld wat ‘n leeu uitstraal is een van krag en onoorwinlikheid. As gelowige sê jy nie maar “ja en amen” op alles nie, maar jy kry die krag om te kan standpunt inneem en te kan stry vir die uitbreiding van God se Koninkryk. Natuurlik het die Koninkryk vyande en teenstaanders, en dit beteken dan ook dat gelowiges sterk moet kan staan onder moeilike omstandighede.
Om egter dou of ‘n leeu te wees, beteken dat ek eers die hand in eie boesem moet steek en regmaak wat daar in my lewe verkeerd is. Maar ek moet ook leer dat ek nie my vertroue op wêreldse dinge kan stel nie, maar alleen op God. Miga praat van “perde en strydwaens en vestingstede” - dinge wat jou ‘n valse gevoel van sekuriteit gee. Vandag kan ons dalk praat van ‘n gesonde bankbalans, ‘n goeie werk of posisie op die kerkraad. Maar dit kan ook wees dat jy jou krag sien in jou goeie Godsdiensbeoefening - ek gaan elke Sondag kerk toe, gee my tiende, help die armes. Jy bult jou geestelike spiere.
Maar dit is alles valse sekuriteite. Jou ware sekuriteit kom alleen van God af - ‘n totale afhanklikheid van God. Dit is Hy alleen wat my die krag kan gee om te kan opstaan in Sy Koninkryk. En dit is Hy alleen wat my verfrissende en lawende dou kan maak in die dor wêreld. Dit mag ons nooit vergeet nie.
Gebed:
Here, dankie dat U vir my al die toerusting gee om diensbaar te kan wees in U Koninkryk. Help my om daardie toerusting met krag te kan gebruik, maar terselfdertyd ook in nederigheid en volle afhanklikheid van U.