2 Timoteus 2:14-18
Voor die huis waar ek ’n paar jaar gelede gebly het, staan daar ‘n noem-noemboompie, ‘n ou grote wat al baie somers beleef het. Vir diegene wat nie hierdie pragtige struik-boom ken nie, wil ek net verduidelik: dit is ‘n immergroen boompie wat sowat 2m hoog groei. Dit neem baie jare vir hom om so groot te word. Dis egter ‘n merkwaardige boom met donkergroen, skitterblink blare en hy is oortrek met stewige gevurkte dorings waardeur g’n niks en niemand kan kom nie! Sy dieprooi vruggies, so groot soos ‘n man se duim is heerlik om te eet. Sy kort, krom takkies vleg deurmekaar om ‘n ondeurdringbare massa te vorm.
Ek het my noem-noem jare gelede met groot liefde geplant en versorg en elke jaar het ek met trots gesien hoedat hy talle vrugte dra. Toe ek egter een mooi dag gaan soek vir ‘n sappige noem-noem om te eet, moet ek tot my skok sien dat hy feitlik onherkenbaar toegerank was. Hy was feitlik totaal weggesteek agter ‘n rankplant wat besig was om hom te versmoor. O ja, ek het die ranker vroëer daar gesien en nie juis daarop ag geslaan nie, want wat kan dan nou die formidabele noem-noem skade berokken? En boonop het die rankplant mooi blommetjies gehad ook! Maar skielik het hy alles oorgeneem! Ek móés net eenvoudig ingryp!
Een Saterdag het ek ingespring om die indringer uit te roei. Met groot moeite het ek begin om die ranke uit te pluk, maar hoe verder ek gevorder het, hoe meer kon ek sien ek dat die rankplant die ganse noem-noem ingeneem en verstrengel het. Met méning het ek die indringer stuk-vir-stuk uitgepluk. In die proses het van die noem-noem se bros takkies afgebreek. Die melksap wat uitgedrup het, het wit traandruppels gemaak. Ek moes my hande diep insteek om die indringer by te kom en in die proses het die noem-noem se skrikwekkende dorings my genadeloos gesteek en gekrap!
Tot my skok moes ek ontdek dat daar ‘n tweede indringer was wat deur die rankplant weggesteek was. Uiteindelik het ek tot die slotsom gekom dat dit byna ‘n onbegonne taak was. Daar was slegs één genade: die noem-noem moes ernstig gesnoei word om hom te red. Dit was ‘n pynlike proses vir myself sowel as die boompie. Maar my noem-noem het ‘n splinternuwe lewe gekry en weereens ’n oorvloed vrugte gedra!
‘n Mens se lewe is ook maar dikwels so. Jy laat toe dat daar hier en daar ongemerk ‘n sonde-struik deur die takke van jou lewe rank. Aanvanklik lyk dit niksseggend, selfs baie mooi! Maar ongemerk begin die sonde al hoe meer te rank en rank, totdat jou geloofslewe naderhand onherkenbaar is. Die gevaar is dat dit ook ander sondes wat jou lewe bedreig kan verdoesel, sodat hulle ongestoord kan voortbroei, goed gekamoefleer deur die “geringer” sonderankies wat jou oordek!
Om van daardie dinge ontslae te raak, kos dikwels dat jy gaan seerkry en dat jou lewe ernstig “gesnoei” moet word sodat jy weer bruikbaar kan word. Dit is nie lekker nie en ek is séker dat die Here ook in die snoeiproses “seerkry”…...
In Efese het Paulus gevaarligte sien brand. Daar was óók só ‘n “sondestruik” wat besig was om die gemeente te verstrengel en as hierdie indringer nie verwyder sou word nie, kon die gemeente totaal daardeur gewurg word. Daar was mense wat gestry het oor onbenullighede. Op die oog af klink dit na iets niksseggend, maar as so ‘n gestry jou hele geestelike lewe begin oorheers, brand die gevaarligte. Daar was sommige gemeentelede wat in die proses só meegevoer geraak het, dat hulle al totaal van die waarheid afgedwaal het. Die tragiese was dat sommige mense wat nog nie sterk in die geloof gestaan het nie, se geloof ook daardeur vernietig is!
Mense probeer dikwels om my te betrek by allerhande argumente. Ek het net eenvoudig nie die tyd of energie om by sulke dinge betrokke te raak nie en buitendien loop dit gewoonlik op niks uit. Dus ignoreer ek dit. Die toets of jy in ‘n argument oor geloof moet betrokke raak, lê opgesluit in die vraag of die betrokkenes se geloof opgebou of afgebreek sal word deur die debat. Slim praatjies en raaiwerk oor dinge waaroor die Bybel nie pertinent uitsluitsel gee nie, kan veroorsaak dat mense begin twyfel of selfs ophou om te glo.
Moenie soos ‘n indringer-rankplant wees wat allerhande mooi praatjies probeer maak nie. Aan die ander kant moet jy ook nie soos my noem-noem jou deur sulke dinge laat toerank nie. ‘n Christenleier se lewe moet soos ‘n boom wees wat goeie vrugte dra. Paulus sê in vers 15: “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel.” Jy moet dus ‘n “arbeider” wees. Om te “doen,” is die goue sleutel. ‘n Mens kan preek en die Evangelie verkondig, maar as jou lewe nie die ware kleure van Jesus wys nie, beteken dit niks. Dade spreek baie harder as woorde. Dit help ook nie om dit net halfhartig te doen nie. Doen dit só dat dit die goedkeuring van God wegdra (v. 15).
Om dus in diens van God te staan, is beslis nie maklik nie. Dit verg harde werk en toewyding aan die Here. Boonop moet jy die hele tyd waak teen daardie ewige “rankplante” wat so subtiel jou lewe kan verstrengel!
Gebed:
Here, hou my asseblief op my hoede vir die rankplante van die lewe en as dit moet - snoei asseblief waar dit nodig is!