Johannes 19:28-42
Jesus se laaste oomblikke breek aan. “Ek is dors,” kom die sagte woorde van die kruis af. ‘n Bietjie suur wyn op ‘n spons, word aan ‘n hisoptakkie na Hom uitgehou om Sy dor lippe te benat. En dan sterf Jesus met dié woorde op Sy mond: “Dit is volbring!”
Kort en kragtig! Maar in hierdie toneeltjie lê ‘n skatkis vol simboliek en waarheid. Ons moet in gedagte hou dat Jesus op die Vrydag gekruisig is. Volgens Joodse gebruik, sou die Sabbat met sononder daardie aand begin. Maar hierdie was ‘n baie spesiale Sabbat, want die Paasfees het ook op hierdie Sabbat geval, sowel as nóg ‘n Joodse fees: die offer van die gerwe. Terwyl hierdie kruisgebeure dus plaasvind, was die priesters hard besig in die tempel om die offerlammers te slag vir die viering van die Paasfees.
As ons terugblaai in die geskiedenisboeke, merk ons dat toe die Israeliete destyds uit Egipte getrek het, hulle die bloed van die paaslam aan hulle deurkosyne moes smeer met ‘n hisoptakkie. En nou gebruik die soldaat juis ook ‘n hisoptakkie om Jesus se lippe te smeer met wyn.
Wat sê dit alles vir my? Soos die bloed van die Paaslam wat geslag is destyds die Israeliete van die dood gered het, so is Jesus nou ook geslag as die Paaslam. En daar is boonop nog ook baie ooreenkomste. Daar was spesifieke voorskrifte vir hierdie lammers wat geslag moes word: Hulle moes in die eerste plek sonder gebrek wees. Jesus was ook sonder gebrek, in die sin dat Hy absoluut géén sonde gehad het nie. Daar was ook ‘n bepaling dat geen been van die lammers gebreek mag word tydens die slagproses nie.
Die kruisigingsproses was ‘n pynlike en stadige dood, wat soms selfs dae lank kon duur. Omdat hierdie spesifieke kruisiging op ‘n Vrydag gebeur het en dit boonop Paasfees was, het die Jode gevra dat hierdie manne se dood verhaas moes word. Deuteronomium 21:22-23 spesifiseer dat iemand wat ter dood veroordeel is en gekruisig word, deur God vervloek is. Hy mag nie na donker daardie dag nog daar hang nie, want dan word die land verontreinig. Hy moet dus begrawe word voor donker. En daarom die Jode se haas om die drie gekruisigdes dood te kry. Die gevolg was ‘n uiters pynlike en traumatiese handeling, waar die soldate die manne se bene gebreek het. Die trauma hiervan was waarskynlik al genoeg om hulle summier te laat sterf. Gebeur dit egter nie, dan het die dood in elk geval gou gekom, want sonder bene om hulle aan die kruis te stut, moes hulle nou slegs aan hulle arms hang, wat veroorsaak dat hulle nie kon asem kry nie. Hulle het bloot versmoor.
As die soldaat egter by Jesus kom, sien hy dat Jesus reeds dood is. Net om doodseker te maak, steek hy met ‘n spies in Jesus se sy. Die bloed en water wat uitgevloei het, het hierdie soldaat die versekering gegee dat Jesus beslis dood was en dat dit ‘n mors van tyd sou wees om ook Sy bene te breek. En so word die Skrif asook die voorskrif vir die Paaslam vervul.
“Dit is volbring”, was Jesus se laaste woorde. Alles wat die Vader van Hom verwag het, het Hy gedoen, tot op die laaste letter toe. Sy taak was afgehandel. Die Griekse woord wat hier gebruik word, impliseer dat Sy taak klaar was en dat die gevolge daarvan nooit sal ophou nie.
Nou tree twee baie belangrike manne na vore, albei lede van die Joodse Raad, die einste Raad wat Jesus ter dood veroordeel het. Josef van Arimatea en Nikodemus het besluit dat Jesus ‘n behoorlike begrafnis moes kry. Josef het Pilatus versoek om Jesus se liggaam te kry. ‘n Veroordeelde sou nooit in ‘n familiegraf begrawe word nie, want hy sou die grafte “onteer.” Josef het egter sy nek uitgesteek, want nie alleen het hy die risiko van ontering verontagsaam nie, maar sy eie eer en posisie in die Joodse Raad en die samelewing in gevaar gestel. Hy het absoluut alles op die spel geplaas omdat hy vertroue gehad het in Jesus. Ook Nikodemus het alles in die lewe gewaag toe hy meer as vyftig kilogram speserye gebring het om Jesus se lyk voor te berei vir die begrafnis. Slegs baie belangrike persone het die eer gekry om soveel speserye op hulle begrafnis te kon hê. In Nikodemus se oë was Jesus só ‘n belangrike persoon en het Hy dus die eer verdien.
Jesus was in ‘n nuwe graf begrawe naby die plek waar Hy gekruisig was. Dit is belangrik, want toe Jesus se volgelinge daardie Sondagoggend na die graf toe gehardloop het en hulle die graf leeg gekry het, dan moes hulle weet dat hulle nie ‘n fout gemaak het om dalk na die verkeerde graf te gaan nie. In die splinternuwe graf, waar daar nog niemand voorheen begrawe was nie, het hulle die doeke gekry waarin Jesus toegedraai was. Hulle móés weet dat dit die plek was waar Jesus begrawe was.
Maar nou was dit die Vrydagmiddag laat. Die son was op die horison en die Sabbat was op hande - én die Paasfees. Vir Jesus se volgelinge was dit sekerlik die droewigste Sabbat óóit! En die Paasmaaltyd het hulle met lang tande geëet. Watter donker en onseker toekoms het op hulle gewag? Hulle Meester was dood en nou het die Jode sékerlik hulle mes vir hulle ingehad. Sou hulle dit ooit kon oorleef?
Gebed:
Here, soms voel ek ook so verlore en verslae, en voel dit of ek van God verlaat is. Dankie dat U my in sulke tye aan die hand vat en optel en my weer laat sien dat U in beheer is en steeds lééf!