Matteus 16:21-28
‘n Mens beplan dikwels dinge baie mooi, en werk aan jou saak. Uiteindelik val alles mooi in plek, en jy dink: “Nou is my kop deur! Ek Het Dit!” En dan tuimel jou hele kaarthuisie inmekaar. Dit is dán wat ‘n man soms baie bang kan raak.
Ek beplan eenmaal ’n naweek kamp met my Graad 7 Voortrekkerspannetjie. Die idee was dat ons ’n nag of twee onder die sterre gaan deurbring in ’n ongerepte stukkie natuur, met net die héél basiese dinge tot ons beskikking. So gesê, so gedaan, en al die reëlings het vlot verloop. ’n Suikerboer in die Glendale berge naby Ballito gee toestemming dat ons in ’n pragtige, ongerepte kloof op sy plaas gaan kamp. En so vertrek ek die Vrydagmiddag die berge in met ’n kombivrag vol uitgelate tieners. Hierdie spannetjie van my het absoluut oorgeloop van selfvertroue, en hulle was by tye totaal onbeheerbaar!
Maar op pad na die plaas sien ek met groot kommer hoedat swaar donderwolke begin vorm. Toe ons by Frik, die plaasboer se opstal stilhou, sien ek sommer ook: hier kom groot moeilikheid! Net vir die wis en onwis gee hy my ‘n stuk seil en pale wat ons kan opslaan vir ‘n afdak as dit nou rêrag begin reën, en hy beduie vir my hoe om by die kampplek te kom. Ons kamp vir die naweek was ‘n oop stukkie gras op die randjie van ‘n krans. Aan ons voete lê die ondeurdringbare woud propvol misterie. Skaars land ons daar, of die eerste reëndruppels begin swaar op ons neerplof. Daar moet baie haastig gewerk word om betyds die seil gespan te kry voordat die storm ons vang, en haastig word die kinders se karige besittinkies onder die seil ingedra terwyl pikswart wolke bo ons kook en maal. Vrees omklem die harte van die kinders. Myne óók!
En toe maak die sluise van die hemel oop. Weldra is dit pikdonker. Die reën stort neer, vlaag op vlaag, sonder ophou. Oorverdowend rammel die donderweer, en weerligstrale verblind ons kort-kort met angswekkende knalle. Styf sit ons daar op ‘n bondeltjie onder die middelkolletjie van die seil, terwyl die reënwater deur ons afdakkie spoel soos ‘n jong rivier. Alles is nat. Dis koud. Dis donker! Die kinders wat eers so oorgeloop het van selfvertroue is bang. “Waarom moet dit met ons gebeur?” word daar vir my gevra. As die storm teen middernag bedaar, is daar steeds geen kans om te slaap nie, want alles is sopnat, ten spyte van die seil.
Skielik styg daar die aller-aakligste geluid uit die woud op. “Wat was dit? Het Oom gehoor?” Dit klink op ‘n druppel na soos die angsgille van ‘n babatjie met koliek! ‘n Bosnagaap se roep kan skrikwekkend wees vir die oningeligte. Ek stel hulle gerus. Daar beweeg ‘n liggie êrens in die veld. “Oom Louis, is dit dalk iemand wat ons wil kom beroof?” Die kinders is vreesbevange. Alles is so verskriklik vreemd, so tasbaar duister. Daar is net een troos: “Oom” is daar om hulle te beskerm teen al hierdie ellende deur hierdie nimmereindigende, beklemmende, verskriklike donker nag!
As die dag uiteindelik breek, en die asemrowende skoonheid van die woud voor ons ontvou, is daar ‘n groepie baie dankbare kinders, wat in een enkele nag meer angsvolle ervaringe deurgemaak het as meeste mense in ‘n leeftyd. Nou begin hulle so ‘n klein ietsie verstaan van die natuur. Ons sit daar op die randjie van die krans in verwondering as die Bloukuifloeries onder ons verbyvlieg en hulle helder reënboogkleure helder skitter in die enkele sonstraaltjies. Reëndruppels blink soos duisende diamante op die blare van die woudreuse. Die nag is verby! Die dag is daar in al sy glorie!
Vir Petrus en sy maters was daar ook hierdie groot “avontuur” saam met die Messias. Maar toe begin hulle met groot kommer die donderwolke sien! Die groot teenstand wat Jesus kry van die kerkleiers, maak hulle benoud. Daar kom al selfs doodsdreigemente! En skielik is dit nag as Jesus vir hulle vertel dat Hy in Jerusalem tereggestel gaan word. Petrus is opstandig: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Petrus verstaan nie. Hy word kwaai deur Jesus berispe. Dan verduidelik Jesus dat dit nie maklik is om Hom te volg nie. Dit kan soms ‘n bitter moeilike pad wees. Jy kan selfs die dood in die oë staar! Maar die uiteinde is alles deur en deur die moeite werd.
Moontlik gaan jy ook vandag deur een van daardie angswekkende donderstorms in jou lewe, waar dit lyk asof daar nie uitkoms is nie. Miskien voel dit vir jou of die nag nimmereindigend is. Klou vas aan jou geloof met alles wat jy het! Die troos is dat Jesus die hele tyd by jou is. Hy is reg langs jou om jou hand styf vas te hou deur alles. Onthou: Hy het ál hierdie dinge, en nog baie, baie erger beleef. Hy verstaan, want Hy weet presies deur watter storms ek en jy gaan. En Hy het ook gewaarsku dat dit nie maklik sou wees nie. Ons moet voorbereid wees op die storms. Maar daar is ook ’n ander baie groot troos, en dit is dat daar weer ‘n dagbreek gaan wees, en dat daardie dagbreek asemrowend, onbeskryflik mooi gaan wees.
Gebed:
Here, ek wil vanoggend bid vir krag wanneer die donderstorms tref. Hou asseblief my hand styf vas, en dra my waar ek nie meer kan nie.