Dink reg - Doen reg

31 January, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dink reg - Doen reg

Filippense 4:8-9

Paulus het oor die afgelope twee hoofstukke van sy brief vir ons geleer wat dit beteken om vas te staan in die Here. Paulus lig sewe Noodsaaklike dinge uit om werklik vas te staan in die Here.

1 In die uitlewing van jou geloof moet jy nie te veel waarde heg aan die uiterlike dinge soos byvoorbeeld tradisies nie. (Fil 3:1-6)

2 Fokus bo alles daarop om Jesus te ken as jou Here (Fil 3:7-11).

3 Span jou in om Jesus se weldade werklik jou eie te maak. Onthou die Comrades marathon! (Fil 3:12-16)

4 Die regte rolmodelle in jou lewe is belangrik. Hoe lyk jóú lewe as ‘n voorbeeld vir ander? (Fil 3:17-4:1)

5 Gelowiges moet eensgesind wees, en ten spyte van verskille steeds saamgebind wees in Jesus Christus. (Fil 4:2,3)

6 Borrelende blydskap moet ‘n integrale deel van elke gelowige se lewe wees. (Fil 4:4-7)

7 Vanoggend staan ons ‘n bietjie stil by Paulus se sewende en laaste voorskrif vir wat nodig is om vas te staan in die Here: Dink reg en doen reg! (Fil 4:8-9)

Dit is nou maar eenmaal so dat die dinge wat jy in jou gedagtes laat ingaan, sal bepaal wat aan die anderkant van hierdie “meul” gaan uitkom. Onthou die woordjie: GIGU - Gemors In, Gemors Uit. In kort beteken dit dat as jy toelaat dat ‘n spul gemors in jou gedagtes ingepomp word, jy nie kan verwag dat daar enigiets anders as gemors aan die anderkant gaan uitkom nie.

Wat beteken dit in die praktyk? Die tipe boeke en tydskrifte wat jy lees, kan jou ganse gedagtewêreld besoedel. Vat nou maar byvoorbeeld die talle skindertydskrifte wat die afgelope paar jaar soos paddastoele opgeskiet het. Hierdie tydskrifte probeer net die slegte in mense raaksien. Ek wonder hoeveel keer daar al hofsake gemaak is teen hulle deur bekendes wat in hulle eer gekrenk is. Sommige sogenaamde “gesinstydskrifte” moet jy ook nie weggooi nie, want daar word ook maar lekker geskinder. Die probleem is dat jy gekondisioneer word wanneer jy hulle lees, en skinderstories begin vir jou deel van die alledaagse word. Voor jy jouself kan kry, is jy maar net nog ‘n skakel in die skindernetwerk. Mense kry hierdeur seer, bitter seer. Die blote feit dat jy ‘n gelowige is en steeds deelneem aan skinderstories, maak dat ongelowiges wat dit raaksien, die verkeerde beeld kry van hoe ‘n gelowige se lewe behoort te lyk. As jy deur sulke dinge iemand die rug laat draai op geloof, dan het jy geestelike moord gepleeg. Dit is ‘n baie ernstige saak!

Dit is egter nie net skindertydskrifte wat jou lewe kan besoedel nie. Pornografiese tydskrifte en videos asook internetpornografie besoedel jou gedagtewêreld en lewe so erg dat dit naderhand ‘n muur begin bou tussen jou en God. Nee, dit is nie Hy wat die muur bou nie, maar jy sélf, deur die gemors wat jy in jou gedagtes inpomp.

As jy daarby voeg ‘n besoek aan ‘n kasino – noem dit maar by die naam: ‘n dobbelhuis, dan word dinge net nóg erger. Die voortdurende lawaai van dobbelmasjiene wat in jou ore dreun en die flikkerliggies wat jou uitlok om nog en nóg en nóg geld in die gulsige keelgat van die dobbelvraat te gooi, in die hoop dat die groot geluk jou sal tref en miljoene op jou skoot uitbraak. Dit maak dat jy die geluksgodin as’t ware aanbid en in die proses totaal vergeet van jou afhanklikheid van God. Weereens dryf dit ‘n wig in tussen jou en die Here.

In skrille teenstelling hiermee, moedig Paulus die leser aan om eerder op die mooi dinge in die lewe te konsentreer: “alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is” (v. 8). hierdie is die dinge wat jou gedagtes en ook jou lewe moet vul. Hoe kry jy dit reg? Deur die regte dinge te lees, en jou besig te hou met dinge wat mooi is. In plaas daarvan dat jy ‘n hygroman lees, lees eerder ‘n Christelike roman soos byvoorbeeld “Paulus, die dertiende Apostel.” Hierdie roman deur Jaco Thom (CUM Boeke) beeld die lewe van Paulus uit. Ek kon die boek net eenvoudig nie neersit nie! Dit is uiters boeiend! Lees die Bybel saam met ‘n goeie kommentaar, soos Die Bybellennium. Lees dele wat jy nie gewoonlik lees nie, soos Miga, Amos, Habakuk en Job, en kyk hoe die Woord vir jou lewend word! Word deel van Lofprysingsgeleenthede, en sien hoe jou geestelike lewe begin blom. Raak deel van ‘n selgroep, en jy sal agterkom dat jy geestelik groei. Doen hierdie dinge opreg, en jy kom agter dat die sonde al minder in jou lewe begin word.

Hierdie idee van Paulus het 'n naam: Die 4:8 beginsel! Lees meer hieroor by dagstukkie.co.za/preke/4-8.pdf

Gebed:

Here, gee my asseblief die krag en wil om die lelike dinge in my lewe uit te smyt. Vul my asseblief met mooi dinge.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026