Romeine 16:1-16
As jy by ‘n lys name in die Bybel kom, blaai jy gerieflikheidshalwe maar daar verby, want dit het geen betekenis nie. Die ellelange geslagsregisters is vervelig en niksseggend. Werklik? Om maar een te noem: die geslagsregister van Jesus in Matteus, is propvol asemrowende verrassings. Vier vrouens word hier genoem, Tamar, Ragab, Rut en Batseba (die vrou van Urija). Buiten vir die feit dat al vier uit heidense stamme kom (nie-Jode), het hulle ook iewers ’n donker kant gehad. Ragab was ’n prostituut, Batseba het owerspel gepleeg en Tamar het haar skoonpa Juda verlei om met haar gemeenskap te hê.
Paulus groet hier ‘n klomp mense, en hulle name is vreemd en onbekend. Maar kom ons gaan doen vanoggend ‘n bietjie moeite en kyk na die mense agter die name, wat terloops uit ‘n baie wye etniese spektrum saamgestel is.
Die eerste is Febe wat waarskynlik die brief afgelewer het. Hierdie vrou het nie ‘n belangrike amp beklee nie, en sy was nie iemand van aansien nie, maar sy was diensbaar en gewillig om te werk vir die Here. Jy hoef nie ‘n “aanstelling” te hê om diensbaar vir God te kan wees nie! Ook doodgewone mense kan in Sy diens staan, en dalk deel wees van ‘n reuse saak.
Die egpaar, Priscilla en Akwilla is uit Rome verban deur die keiser. Inderhaas trek hulle na Korinte, waar hulle vir Paulus ontmoet, waarna hulle in diens van die evangelie gestaan het. Onder andere het hulle ook in Efese gewerk, en later weer na Rome teruggekeer waar hulle ‘n baie aktiewe rol in die kerk gespeel het. Is dit nie wonderlik hoe ‘n gelowige en gewillige huweliksmaat jou lewe kan verryk nie! As ‘n paartjie saam in diens van die Here kan staan is dit ‘n geweldige seën, want julle kan mekaar dra in die gebed en mekaar versterk. Ek dank die Here elke dag vir my eie wederhelf, Bettie, wat my so getrou bystaan, bemoedig en versterk in my arbeid. Sy is ook die een wat toesien dat hierdie dagstukkies sonder spellvoutte uitgestuur word.
Paulus moes ‘n wonderlike mens gewees het. Hy onthou sowaar nog sy heel eerste bekeerling in Asië, Epenetus. Ai! Hoeveel duisende bekeerlinge was daar nie al ná hom nie! “Liewe vriend,” noem hy vir Epenetus. Hy noem ook vir Ampliatus en Stagis sy “liewe vriende.” ‘n Gelowige vriend is goud werd! Ek wil dan ook vanoggend dankie sê vir al my wonderlike vriende wat vir my só dierbaar is en my ondersteun in hierdie bediening. Sommige van hulle het ek nog nooit eers ontmoet nie. Die name van Francois, Danie, Johan, Petro, Louise, Emilia Leatitia en nog baie ander kom by my op - elkeen wat my gedurig bemoedig met julle e-posse.
‘n Ander egpaar (so vermoed ons) wat Paulus noem, is Andronikus en Junias. Hulle het baie dinge met Paulus gedeel. Hulle was sy volksgenote, selmaats in die tronk en medegelowiges. Dit blyk dat hulle moontlik deel was van die dissipelgroep van Jesus, dalk die einste mense vir wie Paulus aanvanklik so vuriglik vervolg het! Nou gebruik God hierdie gelowiges om Paulus se pad na Rome voor te berei. Is dit nie wonderlik hoe die Here werk nie!
Ons vermoed dat Rufus die seun was van Simon van Sirene, die man wat Jesus se kruis moes dra. As dit wél waar is, dan wys hierdie Skrifgedeelte vir ons watter wonderlike positiewe invloed daardie bittere ondervinding van Simon op sy gesin kon gehad het. Terwyl hy Jesus se kruis moes dra, het Jesus die kruis van Sonde gedra. Simon se vrou was later soos ‘n eie ma vir Paulus, en het hom versorg. En nou dra sy seun, Rufus die kruis van harde werk in die gemeente in Rome. Geen opoffering in diens van God is te groot of tevergeefs nie.
Dit is so jammer dat die mense agter die ander name in die stof van die geskiedenis verdwyn het. Ek sou so graag meer oor hulle wou weet, hulle wou ontmoet deur die vergeelde bladsye van die tyd. Elkeen van daardie vergete mense het ‘n belangrike rol gespeel om die evangelie dwarsoor die aarde te versprei, want hulle was gewillig om te doen wat die Here van hulle gevra het om te doen. Al was hulle nie belangrik nie, het Paulus hulle só belangrik geag dat hulle name in die Bybel, die Woord van God opgeteken is.
Sou dit nie wonderlik wees om jou eie naam in die Bybel te kon lees nie? Inderdaad is die Bybel die héél belangrikste boek ooit in die geskiedenis. Dit is immers die Woord van God. Maar daar is tóg een belangriker boek! Geskok? Inderdaad! Die Boek van die Lewe! Hierdie boek sal bestaan selfs lank nadat die Bybel vergaan het in die geheue van die gelowiges wie se name opgeteken is in die Boek van die Lewe. Is daar al ‘n inskrywing in daardie boek met jou naam? Indien nog nie, dan pleit ek vandag by jou om my baie dringend te kontak, of om met jou predikant of pastoor te gaan gesels. More mag dalk net te laat wees!
Gebed:
Dankie Here, vir elke persoon wat deel is van my lewe, en wat my bemoedig en my arms hoog hou.