2 Timoteus 3:14-17
In ons vorige dagstukkie het ons gehoor hoe Paulus vermaan: BLY WEG VAN skyn-Christene af wat van kwaad na erger gaan, diegene wat net verdeeldheid saai en vir die gelowige moeilikheid maak (3:5). Nou beveel hy: “BLY BY wat jy geleer het en wat jy vas glo” (3:14). Hiermee sê Paulus nie dat ons met oogklappe deur die lewe moet gaan en nie links of regs mag kyk nie. Hy impliseer hiermee eerder dat jy gedurigdeur die Bybel moet ontgin. Dit is propvol geloofswaarhede wat die verkondiging van die Evangelie van verlossing in alle omstandighede prakties maak. Die eerste vraag wat dadelik by my opkom is: “Wat van die Ou Testament? Dit is dan argaïes en slegs van toepassing op die Jode van ouds!” Gedeeltelik is dit dalk waar. Baie van die wette en tradisies van die Ou Testament was gemik op die vooruitwys na die Messias wat sou kom. Nogtans is die ganse Skrif, van Genesis tot Openbaring deur God geïnspireer en jy kan uit elke deel iets leer. Ons het oor die afgelope paar jaar etlike boeke uit die Ou Testament behandel in ons dagstukkies. En ek dink dat elkeen van ons wonderlike inspirasie kon put uit daardie Ou Testamentiese boeke!
Alleen deur ‘n deeglike kennis van die totale Bybel kan jy in staat wees om die gedagtes van húlle wat jou probeer mislei met allerhande dwalinge, te verwerk en tot die wortel van die waarheid te kom! Deur voortdurend die Bybel te bestudeer, sal jy in staat wees om dít wat jy geleer het en wat jy vas glo aktueel in jou lewe te maak en dit met ander te kan deel.
Wanneer ons die Bybel lees, moet ons een ding baie deeglik besef: God is Sélf aan die woord in die Bybel! Wanneer jy dus Bybelstudie doen, dan is dit die Heilige Gees wat besig is om jou toe te rus. Om dus vinnig jou Bybel oop te maak en ‘n versie te lees om jou gewete te sus, grens aan minagting van die Heilige God. Eintlik moet ons met groot ontsag besef dat ons hier persoonlik te doen het met die allerheilige Outeur van die Bybel sélf, elke keer as ons die Bybel oopmaak.
Soos reeds gesê, het God die Bybel geïnspireer. Dit beteken dat, alhoewel Hy gebruik gemaak het van doodgewone mense om die skryfwerk te doen, Hy tóg gesorg het vir alles wat daar staan. Hy het verkies om Sy wil op hierdie manier te openbaar. Ons moet dus besef dat hierdie nie net ‘n versameling van verhale, geskiedenis, gedigte en getuienisse is nie, maar dat agter elke menslike verhaal die inspirasie van die almagtige, alwetende God sit.
As ons mooi gaan sit en dink oor die inhoud van die Bybel, dan kan jy maar net jou hande in verwondering saamslaan. Dit is geskryf oor ‘n tydperk van duisende jare en deur ‘n verskeidenheid skrywers. Sommige van hulle was hoogs geleerde manne soos Paulus. Ander was weer konings en digters soos Dawid en Salomo. Dan was daar die eenvoudige plaasboere soos Amos en vissermanne soos Petrus en Johannes. Hierdie Skrif is gelees en verstaan deur eenvoudige mense uit die antieke tye, waar moderne tegnologie nog nie eers ‘n droom was nie. Vandag, in ons wêreld van wetenskap en kennis is dit steeds nog nét so relevant en ons leer steeds nét soveel daaruit. Absoluut niks van die wonderlike inspirasie het deur die millenia verlore gegaan nie!
Die vraag is nou: Hoe moet ek met die Bybel omgaan? Hoe moet ek dit lees? Ek dink dat die heel belangrikste beginsel is dat jy dit biddend moet doen. Ons moet te alle tye met die Goddelike karakter van die Bybel rekening hou en daarom is dit noodsaaklik om tot die Heilige Gees te bid om jou die werklike betekenis van ‘n bepaalde Skrifgedeelte te laat verstaan. ‘n Belangrike beginsel is dat jy nie jou eie mening oor ‘n bepaalde versie of gedeelte sien nie maar dat jy dit altyd in sy konteks lees. Gebruik dus gerus ‘n goeie konkordansie en Bybelkommentaar soos byvoorbeeld die Bybellennium.
Daar is drie situasies wat ons altyd in gedagte moet hou wanneer ons die Bybel lees: Eerstens moet ons verstaan wat gebeur het toe die gebeurtenis oorspronklik afgespeel het. Die skrywer het dit dikwels eers ‘n duisend jaar later op skrif gestel, so ons moet dus verder verstaan wat die omstandighede was toe dit op skrif gestel was en wat sy boodskap vir sy lesers in daardie tyd was. Derdens moet ons dan verstaan wat die Heilige Gees vandag vir my daarmee wil sê. Hierdie kan dalk drie totaal verskillende dinge wees. Gebruik dus ‘n goeie kommentaar om jou hierdie nodige agtergrond te verskaf.
Dit is ook van uiterste belang om die reëls te ken van die verstaan van verskillende soorte geskrifte. Gedigte, geskiedenis, profesieë, gelykenisse, wysheidsgeskrifte, briewe ens. moet elkeen op sy eie unieke manier gelees en verstaan word.
En dan mag ons nooit die Goddelike en terselfdertyd menslike karakter van die Bybel as teenstrydig beskou nie. Sien dit eerder as ‘n wonder van God waardeur Hy op verstaanbare wyse in jou leefwêreld intree om ‘n verhouding met jou te kan hê. Respekteer altyd die wonderkarakter van die Bybel deur nooit jou eie interpretasie as die enigste boodskap voor te hou nie. En laastens: Lééf die Bybel!
Gebed:
Here, dankie vir hierdie wonderlike Woord wat U vir ons gegee het. Leer ons om dit reg te verstaan en te gebruik!