Die Wingerd

22 August, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Wingerd

Matteus 21:33-45

Ons het Jesus gister kom kry waar Hy deur ‘n groep priesterhoofde en familiehoofde gekonfronteer was met ‘n strikvraag, terwyl Hy in die tempel besig was om mense te leer. Nadat Hy hulle mooi laat verstaan het dat Hy baie beslis nie vir hulle slim truuk sal val nie, vertel Hy hulle twee storietjies.

Die tweede kom vanoggend aan die beurt. Dit is ‘n baie ontstellende verhaal, van ‘n man wat ‘n wynplaas gevestig het en pragtig ingerig het vir produksie, en toe verhuur hy die plaas. Toe hy egter na ‘n jaar die huurgeld wil invorder, word sy slawe wat hierdie takie moes verrig, by twee geleenthede mishandel, geslaan, gestenig en onverrigtersake teruggepos. Een is selfs doodgemaak! Dit is tóé dat hy sy seun stuur om die saak finaal te gaan uitsorteer. Hulle het egter sy seun vermoor! Hulle het gedink dat hulle hiermee die plaas vir hulleself sou kon opeis. Hierdie boere het egter nie met die bedroefde vader rekening gehou nie: hy sou toesien dat nie een van hulle ‘n wrede straf vryspring nie.

Toe maak Jesus ‘n baie ontstellende uitspraak: Hy vertel vir hierdie volksleiers dat húlle eintlik daardie huurboere is, en dat die Koninkryk van God van hulle weggeneem sal word en aan ‘n ander volk gegee sal word.

Die manne was briesend kwaad. Hulle slim praatjies het op hulle teruggeplof. Hulle is verleë, want hulle wil Hom net daar en dan in hegtenis neem, maar die skare van mense wat aan Jesus se lippe hang sal hulle stenig as hulle dit doen. Stomende van woede is hulle daar weg, met moord in hulle harte.

Wanneer ons hierdie storie lees, sê ons baie gou: “Lekker! Hulle het presies gekry wat hulle gesoek het! Hulle kierangkies gaan braai!” Maar moenie oorhaastig wees nie. Moenie sommer hierdie gelykenis “aanstuur” nie, want elke gelowige, ja ook jy en ek, word aangespreek in Jesus se storie.

Eerstens moet ons gaan kyk wat Jesus direk vir daardie manne wou sê: Die wingerd is natuurlik die volk van God, Israel en die boere die Joodse leiers. God verwag ‘n “druiwe-oes” van geregtigheid van hulle, maar met hulle eiegeregtigde optrede en hulle verstikkende godsdienstige voorskrifte, verhoed die Joodse leiers dat die volk daardie vrug van liefde, barmhartigheid en vrede oplewer. Die slawe waarvan Jesus praat is die profete wat telkemale by die volk moes kom pleit. Hulle is telkemale mishandel en selfs doodgemaak. Die jongste voorval is die grusame dood van Johannes die Doper.

Uiteindelik word die Seun gestuur - Jesus. Jesus sien al duidelik hoedat Hy wreed gemartel en doodgemaak gaan word deur hierdie einste manne wat voor Hom staan en stoom.

Soos in gister se storie, word hier in geen onduidelike woorde nie vir die volksleiers gesê dat Israel sy Godsvolk-status kwyt gaan wees, en dat daardie titel aan ‘n ander volk gegee gaan word. Inderdaad het dit pesies net so gebeur, en vandag is ek en jy deel van daardie volk wat regoor die wêreld versprei is. En die wonderlike is dat hierdie volk selfs ook bekeerde Jode insluit!

Inderdaad kan ons jubel en juig, want ons is nou deel van God se volk. Hier is egter ook ’n baie ernstige waarskuwing vir my en jou opgesluit in hierdie verhaal. Ons moet oppas dat ons nie dalk dieselfde pad loop as die Joodse leiers nie! In die eerste plek moet ons besef dat dit nie oor ‘n wingerd gaan met die pragtige druiweboorde nie. Dit gaan uitsluitlik oor die vrugte wat die boord dra. Daar moet Godsvrug in ons lewens wees, anders is ons as Christen-gelowiges absoluut niks werd vir God se Koninkryk nie.

In die tweede plek moet daar ook ‘n baie fyn balans in ons lewens wees. Alhoewel ons heilig en naby God moet lewe, moet ons ook besef dat ons IN die wêreld lewe. Die verstikkende wettiese voorskrifte van die Joodse leiers het die volk doodgemaak. Moenie dat dit ook met ons gebeur nie! Daarmee bedoel ek nie dat alle wette oorboord gegooi word nie. Ek bedoel beslis ook nie dat ons nou maar sommer soos varke in die sonde kan gaan rol nie! Ons moet egter die dieper sin van die wet deel van ons lewe maak. Dit gaan oor liefde, barmhartigheid, vrede en al die mooi deugde waarvan Paulus so baie geskryf het.

Ons moet egter ook in gedagte hou dat die Fariseërs eintlik nie “slegte” mense was nie, maar mense wat hulle Godsdiens met groot passie bedryf het. Hulle was egter so behep met Godsdiens, dat hulle nie vir God daarin kon herken nie. Dit het ontaard in 'n handeling eerder as 'n hartsverhouding met God.

Ons moet versigtig wees dat dieselfde nie ook met ons gebeur nie. Ons moet oppas dat ons so behep raak met Godsdiens dat ons vir Jesus daarin begin vergeet. Ware Godsdiens is om ‘n lewende verhouding met Jesus te hê. Dit is ‘n verhouding wat maak dat ek liefde uitleef op alle vlakke van die lewe, nie uit dwang nie, maar omdat ek dit graag wil doen uit dankbaarheid en liefde vir God.

Gebed:

Here Jesus, dankie dat ek vandag ook deel kan wees van U volk. Maak my asseblief ‘n waardige vrugdraende druiwerankie in U wingerd, en gee asseblief vir my ‘n oorvloed van liefde, blydskap, barmhartigheid, verdraagsaamheid, vrede, en weereens liefde in my lewe.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026