Die Wilde Horing

22 August, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Wilde Horing

Daniël 8:9-14

VIDEO | LUISTER

Ons is steeds besig met Daniël se visioen en ons hoor hoe hy vertel van ‘n klein horinkie wat uit een van die ander horings gegroei het. Skielik het hierdie horingkie soos ‘n wilde loot na alle kante toe begin groei, moontlik soos ‘n koedoe se horing wat draai? Dit draai “na die suide, na die ooste en na die Sieraad.” Hierdie horing het baie magtig geword.

Ons weet nou reeds dat Daniël se visioene te doene het met die wêreldgeskiedenis van die skrywer se tyd. Dit is egter allermins ‘n geskiedenisles. Ons kan dit dalk eerder sien as kerkgeskiedenis teen die agtergrond en verankering van die wêreldgebeure van die tyd. Toe Daniël geskryf is, was die ballingskap van die Jode lankal iets van die verlede, en hulle het reeds weer in Israel gewoon. Die erediens was herstel, en die tempel was weer herbou. Maar alles was nie wel nie, want selfs die diens aan God was besoedel deur Griekse kultuur. Natuurlik het die Grieke die wêreld oorheers, en hulle soldate was oral. Dit sou maar net natuurlik wees dat hulle ‘n invloed sou uitoefen op die plaaslike bevolking.

Een van die kenmerke van die Griekse kultuur was hulle gees van humanisme - menseverheerliking. Ek hoef jou dit nie eers te sê dat dit absoluut lynreg staan teenoor die ware Evangelie nie. Humanisme leer dat ‘n mens jou eie verlosser is en dat jy géén God nodig het nie. Nou ja, die Griekse gode was nou nie juis op pensioen gesit nie, maar die mens het al hoe meer onafhanklik van hulle begin raak. Al die gode is saamgegooi op ‘n hoop om sodoende één aanvaarbare godsdiens te kry. Klink dit nie baie bekend nie? Is dit nie wat vandag ook besig is om te gebeur nie? Islam, die Christelike Godsdiens, Hindoeïsme, Boeddhisme - almal is eintlik dieselfde God - so wil sommige teoloë beweer. Die vrymesselary beoefen hierdie gedagte al jare lank.

En toe kom Antiogus IV aan bewind - ‘n nietige koninkie van Sirië, en hy maak baie groot opgang. Hy noem homself Epifanes - die goddelike. Sy mag brei hy uit na Egipte, Persië en “die Sierraad”, Palestina. Hy was arrogant, nors, wreed en korrup. Hy het hom deur absoluut niks laat keer om sy doel te bereik nie. Hy het so magtig geword dat hy die “hemelse leër” aangedurf het en van die “sterre” op die aarde laat val en vertrap het. Hiermee word bedoel dat hy die gelowiges van die Ou Bedeling op gruwelike maniere vervolg het. Hy is deur sommige die Antichris van die Ou Testament genoem.

Antiochus het sy naam gestand probeer doen deur as “die goddelike” homself bo die almagtige God te verhef. Hy het die erediens en die voortdurende offers in die tempel in Jerusalem verbied. Toe gaan hy verder, en onteer die tempel: hy laat ‘n altaar vir Zeus bou bo-op die tempelaltaar. Daar het hy varkvleis laat offer aan die afgod Zeus. Die tempel was sódanig ontheilig dat dit nie meer vir die Godgegewe doel gebruik kon word nie!

Natúúrlik was die Joodse volk verslae oor die gruwels wat hulle aangedoen is. Daarom kom die trooswoorde van die profeet, wanneer hy sê dat die heiligdom weer in sy regte herstel sal word na “tweeduisend driehonderd aande en oggende”. Oor die presiese uitleg hiervan gaan ek my nie uitlaat nie, want daar is baie meningsverskil. Wat ons wél met sekerheid kan sê, is dat God sal ingryp op die tyd wat Hy bepaal het. Dit sal slegs ‘n kort tydperk duur, maar op God se tyd sal die heiligdom gerestoureer word in sy ou staat, en dit sal weer aan God geheilig word. Op hierdie wyse sal dit ‘n lofsang tot eer van God wees. Inderdaad het dit gebeur soos die profeet voorspel het, en die verhoog is gereed gekry vir die grootste gebeurtenis van alle tye, toe die Messias gebore is.

Vandag vra ons dalk: “Waarom?” As ons egter na die geheel-prent kyk, dan sien ons ‘n wonderlike plan wat saamkom. Die Griekse taal en kultuur versprei wêreldwyd en maak die pad oop vir mense soos Paulus om die evangelie te kon verkondig oor die ganse bekende wêreld - almal kon Grieks verstaan, en taal was dus nie meer ‘n struikelblok nie. Die Grieke het die weg gebaan vir die Romeine wat ‘n uitgebreide padnetwerk gelaat het wat die vinnige verspreiding van die evangelie sou vergemaklik. Selfs die vervolging van Christene later, het veroorsaak dat hulle die wêreld vol gevlug het en die evangelie saam met hulle gedra het so ver as wat hulle gegaan het.

Weereens kan ons dit net oor en oor beklemtoon dat God in beheer is, en al lyk dinge vir ons soms bitter duister, dan moet ons steeds besef dat Hy die hef in die Hand het. Toe (verpligte) Godsdiens in die skole verbied is, het dit in baie gevalle ‘n spontane honger na die evangelie by kinders veroorsaak, en gedurende pouses het talle Christengroepies ontstaan. God is baie beslis in beheer!

Gebed:

Here, leer my asseblief om U wonderbare Hand te kan raaksien in die gebeure rondom my, en U te loof, selfs wanneer dit swaar gaan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026