Die Wet en die Koninkryk

15 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Wet en die Koninkryk

Lukas 16:14-18

VIDEO OUDIO

Die ou grondpaadjie is liederlik sleg en vol slaggate - sommige so groot dat ‘n Volkswagentjie maklik daarin sal verdwyn. Ons gooi wilde esse om die klippe en bome mis te ry, en dit gaan maar kruip-kruip. Ek en Mosbolletjie het jare gelede eendag gekuier in Mkhuze, een van die pragtige wildtuine van KwaZulu-Natal. Al die ou grotes buiten leeus is daar in hulle volle glorie. Soos al die groot wildtuine is daar ook wette, en die een is dat jy nie uit jou voertuig mag klim nie. Ons is op pad na ‘n wildskuiling, en ons het nie ‘n idéé wat op ons wag nie. Ons is nuuskierig en opgewonde as ons die laaste stukkie slegte pad aandurf.

Uiteindelik is die parkeerterrein voor ons. Maar van ‘n wildskuiling is daar g’n teken nie. ‘n Klein voetpaadjie wat tussen die bome in verdwyn, dui vir ons die rigting aan om te loop. Ons gryp ons kameras en verkykers en val met dapper en stapper in die pad. Die voetpaadjie verdwyn daar voor iewers om die draai. Die stappie deur die veld is heerlik opwindend en jy verwag enige oomblik ‘n renoster of ‘n grootvoet-olifant of ‘n kwaai dierasie wat vir jou tussen die doringbome staan en wag. ‘n Reuse goue wawiel spinnekop hang rustig, afwagtend in haar web van staalsterk draadwerk en wag vir ‘n dom gogga om daarin vas te vlieg. Ons drink die natuur in - insekte, bome, bossies, struike, grasse - ‘n rooibok wat aan die hardloop gaan as hy vir ons skrik.

En dan skielik is die wildskuiling se lang, kronkelende houtgangetjie voor ons. As ek die hekkie agter ons toetrek, voel ekn benoudheid wat my omklem. Katvoet loop ons die lang, nou, kronkelende gangetjie af. Uiteindelik die trappies van die wildskuiling! My hart klop opgwonde in my keel. Wat gaan ons daar kry? Gaan daar ooit iets wees?

Ek snak na my asem as ons die grasdakgeboutjie betree. Voor ons ontvou die panorama van ‘n watergat wat letterlik lewe van al die diere en voëls wat daar saamdrom. Dit is lewe in alle oorvloed! Sebras, willebeeste, varke, rooibokke, njalas en swerms voëltjies wat wip tussen die boomtakke en die water. Wat ‘n fees!

In ‘n sekere sin is daar baie ooreenkomste tussen ons reis na die watergat en die geskiedenis. Die rowwe grondpaadjie is die Ou Testament, waar dit dikwels ook maar bitter rof gegaan het. Baie streng wette het gegeld, en daarvan durf jy vir g’n oomblik afwyk nie. Om die saligheid te kon kry, moes jy op die paadjie wat God daar uitgestippel het bly, en nie daarvan afwyk nie. Dit was nog erger gemaak deur die Fariseërs met hulle mensgemaakte wette wat soos meulstene om die nek gehang het. Toe kom Johannes - die nou die parkeerterrein - en groot opgewondenheid heers. Iewers daar voor is die nuwe bedeling, maar niemand kan dit nog werklik sien nie, en almal wonder daaroor. Die asemrowende tyd breek aan wanneer Jesus vir drie jaar lank die gordyn so ‘n effe lig. Saam met Hom ontdek jy die vryheid wat daar voor wag, wanneer jy in die voetpaadjie afstap. Ja, die wet is steeds daar, en jy durf nie van die paadjie afwyk nie, maar nou is jy nie meer gekluister in die rigiede wetsdop van die motor nie.

Ons beleef saam met Jesus die beklemmende donker gangetjie van Sy verhoor, kruisiging en dood. Maar aan die einde daarvan ontplof die nuwe testament in al sy glorie voor jou wanneer jy die koel wildskuiling betree.

Die Fariseërs het Jesus uitgelag oor Sy gelykenis van die slim bestuurder. Maar Jesus het dwarsdeur hulle gekyk. Hulle gesindheid teenoor die wet was totaal skeefgetrek. Hulle probeer hulleself verskriklik vroom voordoen voor die mense. Elke tittel en jota van die wet word tot in die fynste detail nagekom, maar van binne is hulle vrot. Uiterlik moet hulle baie goed vertoon om mense te beïndruk, maar vir hulle gaan dit bloot om wette te onderhou vir die saak van die wet.

Jesus beklemtoon die feit dat die wet wél belangrik is, maar dit is die gesindheid waarmee jy die wet onderhou wat van deurslaggewende waarde is. Die koms van Jesus het nie beteken dat die wet nou sommer by die deur uitgegooi word nie. Die feit is kort en saaklik dat niemand die saligheid kan kry deur die wet te onderhou nie, want niemand kan dit perfek doen nie, en alleen 100% perfeksie is vir God goed genoeg.

In Jesus het gelowiges egter volledige vryspraak. Nou onderhou jy die wet, nie omdat dit jou in die hemel gaan bring nie, maar om jou dankbaarheid en liefde teenoor God uit te leef. Voorbeeld: In die wildskuiling hang daar ‘n bordjie wat sê STILTE! Daar heers ‘n gewyde stilte, maar nie omdat die bordjie (die wet) so sê nie, maar omdat ons dit nie vir die ander mense wil bederf nie. En ek gaan beslis nie deur die opening stap na die watergat toe nie, want dan gaan die diere mos weghol, en ek gaan almal se pret bederf. Die wet dien as ‘n riglyn en uit liefde vir God en my medemens gaan ek my bes probeer om by die wet te hou. Ek sien dit egter ook nie as ‘n swarigheid nie, maar eerdern vreugde enn uitdaging om my by God se riglyne te hou.

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike vryheid wat U ons gegee het. Help my asseblief dat ek nie my vryheid misbruik nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026