1 Johannes Inleiding
Dit is die jaar 90 nC. Met bewende hand sit ‘n stokou man, diep in sy negentigs, in diepe bepeinsing met pen in die hand. In sy gedagtes maal die vraag: “Hoe is dit moontlik dat hulle my boek verkeerd kon interpreteer?” Dan besluit hy: “Ek sal dit net eenvoudig duideliker vir hulle moet uitspel!”
Johannes, die “geliefde dissipel” en jongste van Jesus se twaalftal, doop die gansveer in die inkpotjie. Vyf jaar gelede het hy sy boek begin met die woorde: “In die begin was die Woord.....” Waarom sal hy dan allerhande fieterjasies en mooi woordjies gebruik? Hy sal dit weer presies op dieselfde wyse stel, want dit gaan immers oor Jesus en Wie Hy is! “Van die begin af was Hy daar,” skryf Johannes.
"Wie is Jesus nou éintlik? Hoe kan ek nog duideliker vir almal vertel wie Hy is? Daar heers baie dwalinge rondom hierdie vraag! Daar is maar net één genade: ek sal dit in 'n brief vir die mense moet verduidelik!"
"Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe." Johannes se gedagtes gaan baie ver terug en 'n glimlag speel om sy mondhoeke. "Sestig jaar gelede al! Kan dit so lank wees? Maar een ding is seker: ek het Hom daardie tyd persoonlik belewe!"
Vandag is daar stééds dwalinge oor wie Jesus werklik is. Die antwoord is allesbepalend vir elke gelowige, want rondom Jesus se identiteit is ons ganse geloof geweef. Johannes skryf dat Jesus God én mens is, en dit gee vandag betekenis aan elke gelowige se bestaan.
Natuurlik is dit baie belangrik om te glo dat Jesus waarlik die Seun van God én Mens is. Hulle sê dat 75% van alle Suid-Afrikaners hierdie geloof aanhang, en dat hulle hulleself dus Christene noem. Die vraag is of dit voldoende is vir jou vryspraak? Kan hierdie geloof jou in die hemel bring? Ware Christenskap behels ’n persoonlike verhouding met Jesus. Dit bly egter nie maar net by ‘n innerlike ding nie, maar dit moet tot uiting kom in konkrete dade. Wanneer jy begin om liefde uit te leef op ‘n manier wat ander mense se lewens fisies aanraak, word jou geloof ‘n werklikheid. Die feit is dat jou liefdesoptrede God sigbaar maak vir mense op aarde!
Dit is juis wanneer gelowiges liefdeloos optree wat die werk van Jesus skade ly, en hieroor praat Johannes onder andere in sy eerste brief. Daar was leerstellige verskille wat aanleiding gegee het tot wrywing, en die gevolg was dat sommige gemeentelede hulle eie paadjie begin loop het. Tweespalt in ‘n gemeente verlam die gemeente tot so ‘n mate dat liefde totaal verdwyn.
Uit die briewe kan ons sekere afleidings maak oor wat in die gemeente aan die gang was. Sommige het ‘n probleem gehad oor die menswording van Jesus, asook oor die praktiese lewe van die gelowige. Hulle het geglo dat wanneer jy die salwing van die Heilige Gees het, het jy geen sonde nie, want dan het jy mos volledige kennis. Boonop het hulle alledaagse lewe gladnie hulle geloof weerspieël nie. Wat dit eintlik op neergekom het, was dat hulle nie wou aanvaar dat Jesus werklik mens geword het om vir ons sondes te sterf, en sodoende vergifnis en vryspraak te bewerkstellig nie. Hulle het volgens die sélfde riglyne gedink as die Grieke met hulle gnostisisme. Hulle het gereken dat hulle Goddelike saad ontvang het deur die Heilige Gees, en dat hulle om daardie rede nie kon sondig nie. Hulle het dus ook nie Jesus se versoening en vergifnis nodig gehad nie. Die gevolg was dat hulle kennis van God sodanig was dat hulle dade gladnie hulle geloof hoef te weerspieël nie. Daardie selfde gnostisisme slaan vandag dikwels nog steeds deur!
Johannes het probeer om perspektief te gee oor die persoon van Jesus. Hy wou probeer om die verdraaide persepsies van die gnostisiste aan die kaak te stel, en te wys waaroor dit werklik in die geloof gaan.
Die drie briewe van Johannes moet ‘n mens eintlik as ‘n eenheid lees, want 2 en 3 Johannes maak nie werklik sin voordat jy 1 Johannes gelees het nie. 1 Johannes (so wil dit voorkom) is aan die breë gemeenskap geskryf, terwyl 2 Johannes, wat amper ‘n opsomming van die eerste brief is, aan ‘n spesifieke gemeente in die omgewing gerig is. 3 Johannes is ’n persoonlike brief gerig aan Gaius.
Daar is natuurlik ook ‘n groot ooreenkoms tussen 1 Johannes en die Evangelie van Johannes. ‘n Mens kan 1 Johannes amper ‘n verduidelikende kommentaar op die Evangelie van Johannes noem. Dit is opvallend in die groot ooreenkoms in die beskrywing van die mensgeworde Jesus. Dit is veral die proloog of inleiding wat jou dadelik tref, wat amper woordeliks ‘n herhaling is van Johannes 1:1. Verder word Jesus se afskeidsgesprekke in Johannes 15-17 pragtig verduidelik in 1 Johannes.
Ek nooi jou uit om saam met my hierdie geestelike reis deur Johannes se briewe te neem.
Gebed:
Heilige Gees, my gebed is dat u die skille van my oë sal afhaal sodat ek die ware boodskap van hierdie wonderlike boek kan sien en beleef.