Die Ware Jesus?

20 May, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Ware Jesus?

Inleiding tot 1 Johannes

VIDEO | OUDIO

Dit is die jaar 90nC. Met bewende hand sit ‘n stokou man, diep in sy negentigs, in diepe bepeinsing met pen in die hand. In sy gedagtes maal die vraag: “Hoe is dit moontlik dat hulle my boek verkeerd kon interpreteer? Ek sal dit net eenvoudig duideliker vir hulle moet uitspel!”

Johannes, die “geliefde dissipel” en jongste van Jesus se twaalftal, doop die gansveer in die inkpotjie. Vyf jaar gelede het hy sy boek begin met die woorde: “In die begin was die Woord.....” Waarom sal hy dan allerhande fieterjasies en mooi woordjies gebruik? Hy sal dit weer presies op dieselfde wyse stel want dit gaan immers oor Jesus en Wie Hy is! “Wat van die begin af was,” skryf Johannes.

"Wie is Jesus waarlik? Hoe kan ek nog duideliker vir almal vertel wie Hy is? Daar's 'n klomp dwalinge rondom hierdie vraag! Ja, daar's maar net één genade: ek sal dit in 'n brief vir die mense móét verduidelik!"

"..... wat ons met ons oë gesien het, wat ons aandagtig bekyk het en wat ons hande aangeraak het aangaande die Woord van die Lewe, dit verkondig ons aan julle." Johannes se gedagtes gaan baie ver terug en 'n glimlag speel om sy mondhoeke. "Dit was sestig jaar gelede al! Kan dit werklik ooit so lank wees? Maar een ding is seker: ek het Hom daardie tyd persoonlik beleef!"

Vandag is daar stééds dwalinge oor wie Jesus waarlik is. Die antwoord is allesbepalend vir elke gelowige want rondom Jesus se identiteit is ons ganse geloof geweef! Johannes skryf dat Jesus God én mens is en dit gee vandag betekenis aan elke gelowige se bestaan.

Natuurlik is dit baie belangrik om te glo dat Jesus waarlik die Seun van God én Mens is. Hulle beweer dat 75% van alle Suid-Afrikaners hierdie geloof aanhang en hulleself Christene noem. Die vraag is of dit voldoende is vir jou vryspraak? Kan hierdie geloof jou in die hemel bring? Ware Christenskap behels ’n persoonlike verhouding met Jesus. Dit bly egter nie maar net by ‘n innerlike ding nie maar dit moet tot uiting kom in konkrete dade. Wanneer jy begin om liefde uit te leef op ‘n manier wat ander mense se lewens fisies aanraak, word jou geloof sigbaar. Die feit is dat jou liefdesoptrede God sigbaar maak vir mense op aarde!

Dit is juis wanneer gelowiges liefdeloos optree wat die werk van Jesus skade ly. Oor hierdie onderwerp praat Johannes onder meer in sy eerste brief. Daar was leerstellige verskille wat aanleiding gegee het tot wrywing, gevolglik het sommige gemeentelede hulle eie paadjie begin loop. Tweespalt in ‘n gemeente verlam die gemeente tot só ‘n mate dat liefde totaal verdwyn.

Uit Johannes se briewe kan ons sekere afleidings maak oor wat in die gemeente aan die gang was. Sommige het ‘n probleem gehad oor die menswording van Jesus asook oor die praktiese lewe van die gelowige. Hulle het geglo dat wanneer jy die salwing van die Heilige Gees het, is jy sondeloos want dan het jy mos volledige kennis. Boonop het hulle lewens gladnie hulle geloof weerspieël nie. Hulle wou nie aanvaar dat Jesus werklik mens geword het om vir ons sondes te sterf en sodoende vergifnis en vryspraak te bewerkstellig nie. Hulle het soos die Grieke met hulle gnostisisme geredeneer dat hulle Goddelike saad ontvang het deur die Heilige Gees en dus nie kon sondig nie. Daarom het hulle ook nie Jesus se versoening en vergifnis nodig gehad nie. Gevolglik was hulle kennis van God sodanig dat dit oorbodig was dat hulle dade hulle geloof moes weerspieël. Dieselfde gnostisisme slaan vandag dikwels nog steeds deur!

Johannes wou perspektief gee oor die persoon van Jesus en wou die verdraaide persepsies van die gnostisiste aan die kaak stel en wys waaroor dit werklik in die geloof gaan.

Jy moet die drie briewe van Johannes as ‘n eenheid lees, want 2 en 3 Johannes maak nie werklik sin voordat jy 1 Johannes gelees het nie. Dit wil voorkom asof 1 Johannes aan die breë gemeenskap geskryf is, terwyl 2 Johannes aan ‘n spesifieke gemeente gerig is en 3 Johannes ’n persoonlike brief aan Gaius.

Daar is natuurlik ook ‘n groot ooreenkoms tussen 1 Johannes en die Evangelie van Johannes. 1 Johannes is amper ‘n verduidelikende kommentaar op die Evangelie van Johannes. Dit is opvallend in die groot ooreenkoms in die beskrywing van die mensgeworde Jesus. Dit is veral die inleiding wat jou dadelik tref, byna 'n woordelikse herhaling van Johannes 1:1. Verder word Jesus se afskeidsgesprekke in Johannes 15-17 pragtig verduidelik in 1 Johannes.

Ek nooi jou uit om saam met my hierdie geestelike reis deur Johannes se briewe te neem!

Gebed:

Heilige Gees, my gebed is dat u die skille van my oë sal afhaal sodat ek die ware boodskap van hierdie wonderlike boek kan sien en beleef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026