Johannes 4:1-18
Ek sien eenmaal ‘n beriggie in die koerant, dat Liz Taylor op trou staan. “Wonderlike nuus!” sou ‘n mens mos sê van enige huwelik-in-wording. Maar nee, in haar geval was dit stokou nuus! Dit was toe al haar negende keer! Stokoud was sy, maar steeds het sy gehunker na jong blaartjies, net om hulle weer te los wanneer sy moeg raak vir hulle. Nou wat het hierdie brokkie nuus dan met ‘n dagstukkie te doen? Alles! Die vrou in vandag se verhaal het ‘n reputasie wat byna net so lank is as Liz s’n.
Om net eers die prentjie in perspektief te stel: Jesus en sy dissipels het van Galilea af na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier, ‘n reis van sowat 150km. Daar vind Sy gesprek met Nikodemus plaas.
Dit was ‘n baie suksesvolle besoek, want mense het in groot getalle om hulle saamgedrom. Hiervan het die Fariseërs, wat groot invloed gehad het in die Jerusalem omgewing, niks gehou nie.
Nou is hulle egter weer op pad terug na Galilea. Hulle volg die kortste roete deur die Samaritaanse gebied. Dit was nie ‘n gewilde roete nie, want die Jode het liefs die Samaritane totaal vermy.
Teen twaalfuur die middag was die manne moeg en honger. Naby die dorpie Sigar stop hulle by ‘n put wat nog uit Jakob se tyd dateer. Jesus besluit om daar te bly wag terwyl die ander vir hulle gaan middagete koop in die dorp.
En dan gebeur ‘n snaakse ding. In die hitte van die dag, kom ‘n Samaritaanse vrou aangestap met ‘n kruik op haar skouer. G’n ordentlike vrou loop haal water in hierdie warm uur nie, en veral nie alleen nie! Om te gaan water haal, is ‘n sosiale geleentheid vir die vrouens om te klets en al die skindernuus op te vang. Waarom is hierdie een alleen? Het sy dalk iets om weg te steek?
Maar dan gebeur nog ‘n snaakser ding: Jesus vra vir haar ‘n bietjie drinkwater. Die vrou kan haar ore nie glo nie. ‘n Jood wat vir haar, ‘n Samaritaan, water vra? Die Jode het die Samaritane soos die pes vermy. Jy eet of drink beslis nie saam met hulle nie, want dan word jy onrein. Dit was só erg, dat sommige Jode selfs geglo het dat hulle besmet kon raak, selfs as ‘n Samaritaan se skaduwee op jou val!
Die vrou se verbasing is dus gladnie ongegrond nie. Dit raak egter nóg erger as Jesus ‘n gesprek met haar aanknoop. Nie alleen is sy ‘n Samaritaan nie, maar boonop ‘n vrou. Dus is sy op die heel onderste trappie van die sosiale rangorde. Sy is net nog ‘n stukkie eiendom van iemand. Baie gou kom ons uit die gesprek agter dat sy boonop ‘n gure reputasie het. In skrille teenstelling hiermee, het ons so pas gelees van Jesus se gesprek met Nikodemus, wat op die hoogste sport van die sosiale leer is.
En dan moet ons maar net besef dat Jesus verby al ons menslike beperkinge kyk. Status maak nie by Hom saak nie. Of dit nou die hooggeplaaste Nikodemus is of die geminagte Samaritaanse vrou, Jesus is daar vir almal, regoor die sosiale spektrum.
Die gesprek is baie interessant. Dit begin met Jesus wat vir water vra. Die vrou antwoord Hom met ‘n vraag wat fokus op die verskriklike kontras tussen Jode en Samaritane. Tussen die lyne deur, lees ons haar vraag: “Julle Jode dink mos dat julle beter is as ons Samaritane, nie waar nie?”
Jesus sien regdeur haar vraag, en Sy antwoord sê vir haar dat Hy baie meer is as net ‘n gewone Jood. Hy is eintlik God se gawe aan hierdie wêreld. Dan bied Hy haar “lewende water” aan om haar dors te les. Nie alleen sou hierdie water haar onmiddellike behoeftes bevredig nie, maar dit sou haar vir ewig laat lewe.
Daardie water is dieselfde wat vandag elke mens se dors na God en redding kan bevredig. Eers verstaan hierdie vrou gladnie waaroor dit alles gaan nie. Maar dan gaan haar oë uiteindelik oop, en sy word Jesus se héél eerste sendeling, as sy later vir almal in die dorp van Jesus gaan vertel.
Die gesprek neem nou ‘n wending, wat die vinger reg op die groot probleem in haar lewe druk: haar huwelik. Sy was al vyf keer getroud. Of sy geskei was en of haar mans almal dood is, weet ons nie. Ons weet egter dat sy in ‘n uiters magtelose posisie was, omdat sy nie vir haarself kon sorg nie. Nou het sy uit radeloosheid sommer by ‘n man gebly - iets wat totaal onaanvaarbaar was. Haar lewe is deur sonde verdor. Sleepvoet het sy deur die lewe moes gaan, en ander vroue vermy, want hulle kwetsende aanmerkings het bitter seer gemaak. Die lewe het haar baie stief behandel. Sy het aan die einde van haar paadjie gekom.
Sou Jesus waarlik vir haar ‘n uitkoms kon gee? Sou hierdie lewende water waarvan sy so pas gehoor het, dalk ‘n antwoord kon wees? In ons volgende dagstukkie kyk ons DV. hoe hierdie gesprek verder uitdraai. Inderdaad wag daar goeie nuus, ook vir jou en my.
Gebed:
Here, soms voel dit vir my asof berge van sonde op my skouers lê. Dankie dat ek vandag kan weet dat U alles alreeds vergewe het, en nie meer daaraan dink nie.