Handelinge 6 en 7
Twee jaar het verloop sedert daardie droewige dag toe Simon-Petrus die verlamde man laat loop het. Vir twee jaar lank loop Saul rond met 'n woede in hom wat besig is om sy ganse lewe te verteer. Daar was darem een ou ligpuntjie, die dag toe die hoëpriester hom ingeroep het. Hy en daardie hoogheilige man sit nou nie juis om dieselfde vuur nie, en hy het maar langtand na hom gegaan. Die hoëpriester, nes die meeste van die priesters, is 'n Sadduseër, en hulle dink mos nie soos die Fariseërs nie! Hierdie klomp glo mos nie dat daar 'n opstanding uit die dood sal wees nie. Wat is die lewe dan werd as daar nie lewe na die dood is nie? Dis absurd! En anders as die Fariseërs nie, neem hulle die Wet boonop gladnie so ernstig op nie! Wettelose, skynheilige spul!
Saul is dus maar half kriewelrig wanneer hy teenoor die hoëpriester gaan sit. Maar hierdie man is al spierwit grys, en van kleins af het Pa dit in hom ingedril dat jy respek moet hê vir oumense. Boonop moet Saul homself daaraan herinner dat hierdie immers die hoëpriester is, en daarvoor het hy ook die grootste respek!
“Saul,” val die hoëpriester sommer dadelik met die deur in die huis, “jy is 'n skrander jong man, en jou ywer het nie by ons verby gegaan nie. Jy is baie uitgesproke teenoor hierdie nuwe sekte wat soos 'n veldbrand versprei, en daarom wil ek vandag vir jou 'n aanbod maak. Ek wil hê dat jy vir ons kom werk. Jy sal goed beloon word!”
Saul spits sy ore. Maar skielik is hy in 'n tweestryd: 'n goeie betrekking in die kerk lyk baie aantreklik, en dit is immers wat hy die graagste sal wil doen. Maar dit sal dan beteken dat hy vir die Sadduseërs sal moet werk, en dit steek hom dwars in die krop! Maar hy luister die man uit.
“Saul, soos jy weet, het ons 'n baie groot probleem op hande met hierdie Jesus-sekte. As jy iewers probeer wal gooi, bars hulle net op 'n ander plek uit. Ek hoor dat hulle nou al so ver as Damaskus versprei het. Ons wil jou aanstel om hierdie sekte vir eens en altyd uit te roei. Jy kan vir jou medewerkers aanstel om jou te help. Ons wil hê dat jy hulle gaan opsoek oral waar hulle wegkruip en die lewe vir hulle so moeilik maak as moontlik.”
Saul wil uit sy stoel opspring en skree: “Ja! Ja!” Maar sy waardigheid laat hom byna emosieloos sit en net sy kop knik.
“Hierdie mense oortree die wet. Hulle pleeg heiligskennis! Daarvoor het baie mense al die hoogste prys betaal. Smyt hulle in die tronk as jy genoeg bewyse teen hulle kan kry!”
Saul het nie eers tweekeer gedink oor hierdie aanstelling nie. Hy is baie opgewonde uit die hoëpriester se huis, en vir die eerste keer in 'n lang tyd het hy rede om te huppel die straat af. Hy sal hierdie spul Godsloënaars wys waar Dawid die wortels gegrawe het! En hy begin sommer dadelik planne beraam. Hy is baie opgewonde as hy vir al sy vriende gaan vertel wat hom getref het.
Slegs 'n paar dae na sy aanstelling, verneem Saul dat een van die gróót belhamels gevang is, 'n baie uitgesproke leier met die naam Stefanus. Hy het glo lasterlike dinge kwytgeraak, en hy sou die volgende oggend voor die Joodse Raad gesleep word. Hierdie verhoor wil Saul vir niks op aarde misloop nie!
Saul is tot in sy siel geskok as hy luister na die aantygings wat teen Stefanus gemaak word tydens die verhoor. Verskeie getuies word ingeroep, en hulle vertel van gruwelike dinge wat die man gesê het. Wanneer Saul na Stefanus kyk skrik hy, want daar is die eienaardigste gloed op die man se gesig, amper soos 'n engel. Saul kan dit nie verstaan nie! 'n Yskoue rilling gaan langs sy ruggraat af. “Is hierdie man nie dalk......?” Saul skud kwaad die gedagte van hom af. Nee, hierdie man is nie heilig nie! Sy soort moet uitgeroei word!
Wanneer Stefanus die geleentheid kry om homself te verdedig, steek hy 'n ellelange toespraak af, en Saul hou nogal van wat hy hoor. Iemand wat die wet ken soos Stefanus kan tog nie skuldig wees nie? Maar wanneer Stefanus sy toespraak afsluit, slinger hy beskuldigings na die Joodse Raad en by implikasie ook na die Fariseërs. Saul wil sommer opspring van woede!
Stefanus word gevonnis om gestenig te word, en só word hy weggesleep tot buite die stad. Tevrede kyk Saul toe wanneer die groot klippe op die armsalige man begin reën, en hy glimlag selfvoldaan. Maar hy word yskoud as hy Stefanus se laaste woorde hoor, net voordat hy sterf: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!”
“Hoe kon hierdie Godslasteraar sterf met die Naam van die Here op sy lippe?” wonder Saul, terwyl woede in hom opstoot. Nou gaan hy in alle erns begin om hierdie klomp skynheiliges uit te roei. Hierdie was maar net die begin!
Die vraag wat ons vanoggend vir onsself moet vra, is hoe ver ons bereid is om te gaan om op te staan vir die Evangelie? Stefanus was bereid om álles te waag, en so ook Petrus en later Paulus. Waarvoor is ons bang? Hulle het die dood in die oë gestaar, maar ons is dikwels bang om selfs 'n bietjie spot of verwerping te verduur. Kom ons wees vandag braaf en staan op vir Jesus, maak nie saak wát die gevolge is nie!
Gebed:
Here, gee my asseblief die moed en wysheid om Jesus te verkondig ten alle koste. Gee vir ons die ywer om op te staan vir Jesus!