Die Vervolging Begin

7 May, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Vervolging Begin

Handelinge 5:17-42

VIDEO | OUDIO

Daardie wonderbaarlike genesing van die verlamde man by die tempelpoort, was maar net die begin. En dit bly ook nie nét by Petrus nie, maar soortgelyke wonders gebeur deur die ander apostels, en die een wonderwerk volg op die ander. Talle mense word genees wanneer die manne in die Naam van Jesus genesing oor hulle uitspreek. Dit is egter veral Petrus wat baie hoog geag word onder die volk, en mense kom van heinde en verre met hulle siekes sodat Petrus hulle kan genees. Só erg word dit dat mense hulle siekes selfs langs die pad waarlangs Petrus sou kom neersit, sodat sy skaduwee op hulle kan val!

En steeds groei die getal gelowiges elke dag aan!

Maar in die kringe van die ou nors ringkoppe begin dinge bitter krapperig raak, veral onder die Sadduseërs. Hulle is met afguns vervul.

En wanneer hulle afguns kookpunt bereik, laat gryp hulle vir Petrus en sy maats en stop hulle summier in die tronk.

Die volgende oggend word daar weereens 'n dringende Raadsvergadering byeengeroep. Al die “Who's who” van Israel is daar. “Gaan haal hulle”, kry die wagte die bevel van die Hoëpriester. ‘n Rukkie later kom die wagte uitasem terug by die vergadering, spierwit geskrik: “Hulle is weg!” stamel hulle dit uit.

“Wat bedoel julle met ‘Weg’?”

“Die tronk is gesluit; die wagte is op hulle pos, maar daar is g’n teken van die apostels nie! Ons verstaan dit nie! Ons het hulle sélf daar toegesluit!”

Wat hulle egter nie weet nie, is dat God ingegryp het. In die nag het Hy ‘n engel gestuur om die manne te bevry.

Nog een van die wagte kom asvaal geskrik daar ingehardloop: “Daardie manne wat ons gisteraand toegesluit het staan in die tempel en preek!” hyg hy.

“Gaan haal hulle!” Die Hoëpriester is woedend.

Maar die wagte is maar bitter onwillig: “Die mense gaan ons doodmaak as ons hulle weer arresteer,” protesteer hulle.

Dit is ‘n bedremmelde groepie wagte wat uiteindelik mor-mor en baie halfhartig daar weg is om die manne te gaan haal. By die tempel aangekom word die apostels nie weer gearresteer nie, maar mooi gevra of hulle nie asseblief maar wil saamkom nie, “want die Hoëpriester wil met julle praat,” verduidelik die bevelvoerder aan hulle.

By die vergadering word Petrus en sy maats behóórlik oor die kole gehaal omdat hulle alle opdragte van die Raad verontagsaam het. Hulle is immers by die vorige geleentheid ten sterkste belet om óóit weer oor Jesus te praat, en wat gaan staan en doen hulle? Hulle steur hulle nie eers aan die hoogste gesag in Israel nie. Die ganse Jerusalem lê vol van die “snert” wat die apostels verkondig! En boonop wil hulle ook nog voorgee asof die Joodse Raad die vark in die verhaal is, deur te sê dat dit húlle is wat verantwoordelik was vir Jesus se dood! Hierdie onding moet onmiddellik staak!

Petrus is die een wat weereens na vore tree: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense!” sê hy sonder enige teken van vrees. Die Heilige Gees gee hom ál die krag en vertroue wat hy nodig het om met hierdie uitgelese gehoor te redeneer.

Hy gaan 'n stappie verder en terwyl hy dan nou hierdie gulde geleentheid het om met die hoogste gesag te mag praat, steek hy sommer ‘n preek af vir die geleerde manne wat daar sit en hom aangluur.

Die Joodse Raad is woedend - as hulle kon, het hulle die apostels net daar en dan laat doodmaak.

Dan staan die wyse ou Gamaliël op - ‘n man wat ‘n bietjie insig het, en hy stuur die apostels uit sodat hy met die ander kan praat. “Kyk,” sê hy vir sy kollegas, “ons moet baie versigtig wees dat ons nie dalk teen God veg nie! Ons sal wel gou sien of hierdie dinge van God af kom. As dit mensewerk is, sal dit oorwaai. Kom dit egter van God af, kan ons dit beslis nie keer nie!”

Weereens word die apostels geroskam en belet om verder te praat. Boonop word hulle geslaan en dan vrygelaat, maar hierdie ou insidentjie laat hulle géénsins van stryk bring nie - dit spoor hulle juis aan om die Evangelie met nog groter vuur te verkondig. In sak en as gaan sit? Nooit! Vir hulle is dit ‘n reuse voorreg om te kon ly vir hulle Meester, Jesus.

Die vervolging het so pas begin en dit sou al hoe erger en erger raak.

Drie keer lees ons in Handelinge van engele wat op so ‘n dramatiese wyse ingryp en tronkdeure vir mense oopmaak. Dit is egter baie belangrik om te weet dat hierdie engele nooit die Evangelie verkondig nie, dit is die taak van mense - gelowiges. Boonop is dit ook nie alleen die taak van apostels, leraars en evangeliste nie, maar veral van ek en jy as doodgewone gelowige.

Die vraag is egter wat ons doen om die evangelie uit te dra?

Gebed:

Here, ek wil ook onverskrokke U Evangelieboodskap uitdra. Gee my asseblief die ywer en wysheid en krag daarvoor!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026