Handelinge 15:1-35
Petrus is baie opgewonde. Paulus en Barnabas is op pad na Jerusalem, waar hy nou relatief veilig is na Herodus Agrippe se grusame dood. Berigte het hom die afgelope maande kort-kort bereik van die wonderlike werk wat die twee manne gedoen het onder die heidennasies. Talle heidene het tot bekering gekom en die Christelike geloof aangeneem.
Uiteindelik, na maande daar in die vreemde het hulle teruggekeer na hulle gemeente in Antiogië. Die vreugde was baie groot toe die twee die dag daar aankom.
Maar van die manne in Jerusalem was nie so gelukkig nie. Hulle het wel vrede gemaak met die feit dat heidene ook Christengelowiges kan wees, maar toe hulle hoor dat die nuwe bekeerlinge niks van die Joodse tradisies vertel is nie, was hulle omgekrap. “Hierdie saak moet reggestel word!” het hulle geëis.
Dit is nou met gemengde gevoelens wat Petrus vir die twee wag om in Jerusalem aan te kom om te verduidelik. Hy is sélf nie baie seker hoe om hierdie saak te hanteer nie. Ja, hy is ernstig daaroor dat gelowiges uit die heidendom met ope arms ontvang moet word. Maar daardie tradisies wat so deur die jare in hom ingedril is – jy bly maar klou daaraan en dit is vir jou kosbaar. Maar kan ons werklik dieselfde tradisies afdwing op die gelowiges uit die heidendom?
“Die mense móét besny word,” het die manne gemor, “en hulle móét aangesê word om die wet van Moses ten volle te onderhou!” Dis moeilik! Hoe kan jy verwag van iemand wat nog nooit eers van Moses gehoor het nie, om nou al daardie moeilike wette te onderhou? Die manne wat so mor kan maklik praat – hulle is almal 'n klomp wetsgeleerdes!
Uiteindelik kom Paulus en Barnabas in Jerusalem aan. 'n Groot ontvangs word vir hulle gereël en die ganse gemeente is daar.
Dan staan een van die beswaardes op: “Dis 'n onding hierdie, sê ek vir julle, 'n onding!” Hy was voorheen 'n Fariseër en dit stuit hom dwars in die krop dat die wet van Moses sommer so weggesmyt word. 'n Hele paar van die ander knik heftig die koppe om met hom saam te stem. Wat 'n heuglike ontvangs moes wees, dreig nou om in chaos te eindig!
Dan staan Petrus op. Dit voel vir hom presies soos daardie verskriklike dag toe hy voor die Joodse Raad moes staan en verduidelik. “Broers, broers,” kalmeer hy die gemoedere. Almal het groot respek vir Petrus, daarom bedaar dit sommer gou. “Broers, julle weet dat God my lankal geroep het om die Evangelie aan die heidennasies te verkondig.”
Almal stem saam: Ja, Petrus het beslis wonderlike werk onder die heidene gedoen!
Dan verduidelik Petrus dat die Heilige Gees aan die heidene gegee is nét soos wat dit aan die Jode gegee is en dat daar géén onderskeid gemaak kan word nie.
Sover stem almal saam.
“Nou waarom wil julle dan God se geduld op die proef stel deur 'n juk op die nek te plaas van hierdie heidengelowiges? Julle voorvaders was nie eers in staat om daardie juk te dra nie! En ons ook nie.........”
'n Doodse stilte sak toe oor die gehoor en die koppe sak in skaamte. “Nee Broers, ons is deur die genade van Jesus Christus alleen gered – so glo ons mos! Presies nét so glo hierdie gelowiges uit die heidendom ook!”
Jy kan 'n speld hoor val as Petrus gaan sit. Sy hart klop in sy keel. Hy kan sélf nie glo wat hy so pas kwytgeraak het nie, maar hoe meer hy daaroor dink, hoe meer maak dit sin!
Paulus en Barnabas kry nou die beurt om te vertel van al hulle wedervaringe en van al die wonderlike dinge wat daar in die vreemde gebeur het. Die mense hang aan hulle lippe.
Wanneer die twee gaan sit, staan Jakobus op: “Broers, hierdie saak wat ons broer Petrus aangeroer het, is nog nie afgehandel nie. Hy het vir ons verduidelik dat God begin het om vir Hom 'n volk uit die heidennasies te versamel. Maar weet julle wat? Hierdie dinge is al honderde jare gelede deur die profete voorspel!”
Dan haal Jakobus 'n gedeelte aan uit Amos 9. “My oorwoë mening is dat ons dit nie moeilik moet maak vir hierdie mense nie. Solank hulle darem nou net nie afgodsoffers eet nie en hulle sedelik gedra, dan is dit mos reg! En hulle moet darem ook nie 'n dier eet wat verwurg is en natuurlik ook nie bloed eet nie.”
Uiteindelik is byna almal tevrede. Hulle besluit word op skrif gestel en saam met Paulus en Barnabas en nog 'n afvaardiging uit hulle eie geledere na Antiogië gestuur.
Petrus voel asof 'n reuse las van sy skouers afgeval het.
Dikwels word ek en jy ook nog vasgevang in tradisies. Hulle is nie noodwendig sleg nie, maar ons sien dit as 'n voorwaarde vir 'n goeie verhouding met God. Sekere liedere wat in die erediens gesing móét word; 'n spesifieke liturgiese orde in die erediens; wat ek mag aantrek kerk toe – talle soortgelyke tradisies wat verbreek word, maak jou kwaad. Onthou: Jesus is die énigste voorwaarde vir ons saligheid!
Gebed:
Here, gee my asseblief rustigheid oor tradisies wat verdwyn. Hou my oog gevestig slegs op U alleen!