Die Verbond Gesluit

21 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Verbond Gesluit

Genesis 15:6-21

Ons het in die vorige oordenking gehoor hoedat die skrywer van Genesis tot die slotsom kom: “Abram het toe in die Here geglo”. Oor en oor het die Here vir Abram die belofte gegee van ‘n nageslag, maar soos die jare aangestap het, het die gryse ou man skepties begin raak oor hierdie bitter vergesogte belofte. Dit sou kos dat die Here eers nóg ‘n slag Sy belofte herhaal, hierdie keer op ‘n baie grafiese wyse, om Abram se geloof te versterk.

Maar daar was egter ook ‘n ander probleempie, dat hy en sy toekomstige nageslag steeds vreemdelinge is sonder ‘n land. Ja, die Here het vir hom ‘n land beloof, maar die ganse land word bewoon en regeer deur ‘n klomp goddelose heidene. Hier moes hy wat Abram is, so pas vir Lot red uit die hand van een van hierdie konings. Sy ou paar slafies kan mos nooit as te nimmer hierdie wrede spul aanhou bly verdryf nie?

Die manier waarop die Here ook hierdie belofte aan Abram bevestig, bly onuitwisbaar in sy geheue vir die res van sy lewe. Só grafies en aanskoulik was dit, dat géén mens dit ooit sou kon vergeet nie.

Abram het sékerlik vir die Here gevra: “Hoe sal ek weet dat ek hierdie land sal besit Here?” Dan antwoord God op ‘n baie verrassende wyse. Abram word aangesê om ‘n jong bees, ‘n bok, ‘n skaap en twee duiwe vir Hom te bring. Dit was met ‘n reuse vraagteken op sy gesig wat Abram vroeg die volgende oggend al die diere op die Here se lysie gaan bymekaarmaak. Wat sou die Here daarmee wou maak? Moes hy dit vir die Here gaan offer? Maar die Here hou vir Abram in afwagting.

Wanneer Abram weer voor die Here staan met sy diere, kry hy ‘n baie snaakse bevel: “Sny al hierdie diere middeldeur, Abram.” Die ou man maak so, en almal, buiten die duiwe, word geslag en sorgvuldig in twee helftes gesny volgens die Here se opdrag. Hulle word in twee rye geplaas met ‘n paadjie tussen die twee helftes deur. Abram kyk na die hemel op en wag met groot opgewondenheid vir wat volgende gaan gebeur. Hy brand van nuuskierigheid - wat gaan die Here doen? Hy verstaan nie!

Die son klim die hemel in en verskroei Abram se bruingebrande gesig. Hy sug. Niks gebeur nie. ‘n Kraai kom pik-pik aan die vleis, en hy word summier verwilder. As die son op twaalfuur sit, sien Abram ‘n ontstellende ding: aasvoëls. Hulle sirkel al laer en laer tot Abram se groot ontsteltenis. As die eerstes by die karkasse land, jaag ‘n verwoede Abram hulle weg met ‘n groot handegeswaai: “Dis nie julle s’n nie,” skree hy vir die arrogante voëls. “Hierdie is die Here se diere!”

Abram sug swaar as hy teen ‘n klip gaan sit. “Waarom sê die Here dan niks?” Hy wag. Die son sak en sak, en steeds is daar niks. Abram se ooglede raak swaar. Hy kan die slaap nie keer nie. Dit is asof hy oorweldig word deur ‘n pikswart, swaar kombers wat oor hom gegooi word.

Skielik is Abram helder, nugter wakker as hy daardie bekende Stem hoor. Die dinge wat die Here vir hom sê is ontstellend, maar terselfdertyd ook gerusstellend. Abram word vertel van wat sou gebeur met sy nasate: Hulle sou wegtrek na ‘n heidense land (Egipte), en daar sou hulle vir vierhonderd jaar bly en later selfs slawe word van die heidene (die Egiptenare). Na vierhonderd jaar in die vreemde sal hulle egter terugkeer na die beloofde land en dit in besit neem. Wat nie vir Abram gesê word nie, is dat sy nageslag teen daardie tyd dan meer as drie miljoen sou tel!

En dan, as dit al pikdonker is, laat die Here die aanskoulike vuurwerk gebeur. In vrees en bewing kyk Abram toe as daar vanuit die hemel vuur verskyn. Sy oë rek groot as die reuse fakkel reg op hom afpyl. Hy ruik die rook en die reuk van geskroeide vleis hang swaar in die lug as die vuur skouspelagtig tussen die karkasse wat hy uitgepak het deurbeweeg. Met ‘n hart wat klop in sy keel, aanskou Abram hierdie Gods-wonder. En dan verdwyn die vuur, en al wat Abram hoor is die sagte, soet Stem van die Here, as Hy vir Abram uitspel presies waar die grense van sy land sal wees.

Wat wou die Here vir Abram sê met hierdie onverstaanbare gebeure? In die antieke tye is ‘n verbond tussen twee partye dikwels gesluit deur ‘n dier middeldeur te sny, en dan het die twee saam tussen die twee helftes deurgeloop. Daardeur sê hulle vir mekaar dat die een wat die verbond verbreek, nes hierdie dier in twee gekap sal word. God het egter alléén die handeling voltooi, en daarmee wou Hy vir Abram sê dat Sy beloftes vas staan. Hierdie is ‘n eensydige verbond tussen Hom en Abram. Boonop is dit ‘n verbond wat vir altyd vas sou staan en wat nooit verbreek sou word nie.

Tweeduisend jaar later het God ‘n soortgelyke verbond gemaak. Hierdie slag was dit nie diere wat geslag is nie, maar Sy eie Seun, Jesus. Daardie verbond staan vir ewig vas. Die vraag is of jy deel het aan die verbond? Het jy al jouself aan Hom verbind? Diegene wat nie die verbond aanvaar nie is verdoem. Aan diegene wat egter daardie verbond aanvaar, wag die nuwe Beloofde Land. Waar staan jy?

Gebed:

Here, dankie dat ek deel kan wees van U wonderlike verbond.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026