Lukas 11:27-36
Die mense drom in hulle duisende rondom Jesus saam. Almal is in groot afwagting want die sensasie van asemrowende wonderwerke maak dat mense van heinde en verre kom om ‘n kykie te kry na hierdie besonderse Profeet se wonderwerke. Vandag gaan hier dalk weer iets plaasvind wat almal na hulle asems gaan laat snak! Iewers daar van agter klink ‘n skril vrouestem op: “Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!”
Dan stel Jesus die opmerking in die regte perspektief. Dit is nie daardie enkele vrou wat so bevoorreg was nie, maar elkeen wat die Woord van God hoor en dit onderhou. Dit help niks dat mense in groot skares rondom Jesus saamdrom en hulle verwonder oor die dinge wat Hy sê en doen nie. Hulle moet dit prakties gaan uitleef!
Ek kry talle mooi boodskappies wat my dikwels lekker laat huil van pure aandoening! As ek hulle egter net lees en lekker voel daaroor, dan het hulle absoluut géén doel gedien nie. Ek moet die boodskap in die praktyk gaan toepas! Eers dán sal dit werklik waarde hê.
‘n Paar jaar gelede, tydens ‘n besoek aan Mkuze wildtuin sit ek en Mosbolletjie een oggend en ontspan in die kamp. Dis ‘n safari-tent kamp waar elke tent sy eie opelug kombuisie het, eenkant van die tent af. Daar is ‘n groot kennisgewing dat jy die kombuiskaste te alle tye moet sluit.
Skielik hoor ons ‘n groot kabaal. ‘n Vrou gil histeries, en haar man praat in tale wat ek beslis nie hier kan herhaal nie. Dan breek die herrie behóórlik los en gille weerklink oral rondom ons. Ek vlieg verskrik op om te kyk wat aangaan. Het die einde van die wêreld aangebreek? Die toneel wat ek aanskou, vul my met teenstrydende gevoelens en ek bars uit van die lag terwyl ek terselfdertyd bitter jammer voel vir almal wat deel is van die drama.
‘n Trop bobbejane het ontdek dat die vrou haar nie gesteur het aan die waarskuwings nie, en haar kombuiskaste oopgelos het. Die bobbejane se skerp ogies het dit onmiddellik raakgesien en die gevolg was dat hulle die koskaste gestroop het. Die vrou spring op en af van frustrasie, en haar man dreig die inbrekers met ‘n brandblusser!
Intussen het twee jong bobbejaantjies ‘n groot kartondoos met graanvlokkies gegryp en laat spaander. Terwyl die trop elders luidrugtig baklei en op mekaar gil oor die gesteelde goedere, sit hierdie tweetjies heerlik en smul aan die vlokkies wat hulle op die grond uitgegooi het.
Maar niks ontglip die twee skerp ogies van die ou tropleier nie, en hierdie rustige toneeltjie is een te veel vir hom. Met groot lawaai en gedreig bestorm hy die twee en jaag hulle die bome in, en dan neem hy alleeneienaarskap oor van die graanvlokkies. Ooglopend gee hy nie ‘n flenter om vir sy trop nie! Sy eie welstand is al wat tel in die lewe en as ek luister hoe die res op mekaar vloek en skel, dan weet ek by wie hulle daardie slegte maniere geleer het!
Daardie middag, toe die son tussen die doringbome insak vir die nag, sit ek en Mosbolletjie in ‘n wildskuiling by ‘n droë watergat die nag en inwag. ‘n Jong bobbejaan kom uit die bosse te voorskyn, gevolg deur die ou tropleier. Pa stap rustig tot oorkant die oop stuk veld. Hy gaan sit en wag geduldig vir sy trop om verby te kom sodat hy hulle kan beskerm teen ‘n luiperd wat hulle dalk van agter kan bekruip. Baie duidelik is dit nie dieselfde spul lawaaimakers van die oggend nie want die hele trop is “goed gemanierd”. Eers wanneer die laaste bobbejaan verby is, staan die oukêrel op en vorm die agterhoede. Jy kon duidelik sien dat hy omgee vir sy trop!
Ek het ‘n duur les geleer: die voorbeeld wat jy stel, veral as jy hoë aansien het, het ‘n baie groot invloed op almal wat onder jou gesag is. Leef dus die Woord van God prakties uit! Jesus het vir die mense wat so knaend agter wonderwerke en allerhande tekens aan was, gesê dat daar alreeds meer as genoeg tekens vir hulle gegee was. Selfs Jona se baie halfhartige preek het die ganse Nineve tot bekering geruk, maar wanneer Jesus, die Seun van God ál die wondertekens doen, luister die sensasiesoekers steeds nie na Hom nie!
Jesus sluit af met ‘n gelykenis wat handel oor ‘n lamp en lig. Wanneer jy die lamp onder ‘n emmer sit, kan niemand die lig sien nie. Dit moet hoog wees sodat almal dit kan sien. ‘n Predikant kan so mooi preek soos hy wil, maar sy preek sal gou weer vergeet word. Wanneer iemand egter met ‘n mooi handeling ‘n voorbeeld stel, sal dit lank onthou word! Die prentjie van die twee bobbejaantroppe is in my geheue ingebrand en ek wil graag soos die goeie leier wees en leef!
Wees dus versigtig dat die lig wat jy uitstraal met jou voorbeeld, nie ‘n donker, rokerige lig is nie, maar ‘n helder, skoon lig wat diegene wat met jou in aanraking kom die honger sal gee om ook van daardie Lig van God te wil hê en dit na te volg soos wat jy dit doen.
Gebed:
Here, ek wil graag U wonderbare Lig uitstraal. Heilige Gees, lei my dat ek die Lig suiwer sal hou.