Jakobus 3:4-6
In volslae verwondering staar ek na die reuse vlamme oorkant die heining. My hart bons onstuimig in my borskas: as daar nou skielik 'n wind moet opsteek, word ons verswelg deur die vlammehel!
Die “hartbeeshuisie” waar ons bly, is omring deur suikerlande. Die suikerriet het geil op die land gestaan, gereed vir die oes. Dit was 'n goeie jaar en die riet was baie mooi, dik, lank en lenig en met 'n welige loof. Dit is geplant tot feitlik teenaan ons grensdraad. Die landerye hier is aangelê teen baie skuins koppies wat dit plek-plek totaal onmoontlik maak om by te kom met 'n voertuig. Dus is daar géén manier om die riet meganies te oes nie. Alles moet met die hand gedoen word.
Om suikerriet so te oes, veral wanneer die loof so welig is, is 'n byna onbegonne taak. Eerstens is dit geweldig arbeidsintensief, want al die blare moet eers van die riet afgekap word voordat dit gereed is om suikermeule toe te gaan. En die suikerriet se skurwe blare kan jou flenters sny. Dit het vlymskerp rasper-randjies. Boonop skuil daar allerhande goggas en plae in die blare, selfs reuse swart mambas! Dit is dus 'n gevaarlike taak vir die kappers.
Die oplossing is dus om die loof eers af te brand voordat die kappery begin. Wanneer die riet brand, is dit net die loof wat afbrand en die riet sélf bly ongeskonde. 'n Verdere voordeel is dat die peste wat die suikerriet opvreet óók vernietig word.
Dit was dus 'n héél normale aand toe ek die rumoer in die suikerland onderkant ons huis hoor. Nuuskierig gaan kyk ek wat aan die gang is. ‘n Hele span werkers was opgewonde aan die gesels, en weldra begin ‘n geel vlammetjie al op die rand van die land afhardloop. Ek hardloop en gaan roep vir Mosbolletjie en terselfdertyd gryp ek my kamera, want so naby aan 'n suikerbrand was ek nog nooit!
Op die land is die werkers bewapen tot die tande toe met enige moontlike ding wat 'n vuur kan doodslaan. As hierdie brand nie behóórlik beheer word nie, kan dit gróót chaos veroorsaak!
Die vuurtjie begin maar redelik traag, want die koel aandluggie en die drukkende humiditeit in die lug demp die honger vlamme wat begin lek-lek aan die welige groen blare-loof. Ek wonder hoe jy dan nou groen blare kan laat brand. Probeer nou maar om 'n vuurtjie te maak met nat hout! Dit werk nie! Maar blykbaar werk dit baie anders met suikerriet, want die volgende oomblik is dit asof iemand 'n blik paraffien in die vuur gooi. Ek snak na my asem as 'n lap riet vlam vat en 'n asemrowende vuurkolom die lug in gooi. En dan bars alle hel los. Die lugruim word gevul met reusagtige vlamme wat tien verdiepings die lug in lek na die wolke. Verslae staan ek daar en aanskou hoe die vlammegeweld armsvol suikerriet gryp en verslind. Dit bokspring en hardloop deur die groen land soos 'n reuse vuurspuwende draak uit 'n strokiesprent. En al wat dit agterlaat is kaal, swartgebrande riete, gestroop van elke stukkie groen.
Ek voel die intense hitte brand op my gesig. Dan swaai die windjie effens, en die volgende oomblik storm die muur van vlamme reg op my af. Ek deins verskrik terug, waar ek anderkant die heining staan. Verwoed storm die brullende vuur vorentoe en verswelg alles in sy pad. Die vlamme gryp-gryp na my en my hart klop wild in my keel. Gaan die vuur betyds stop?
Op die héél laaste oomblik tref die brand die randjie van die suikerland, reg teen ons grensdraad. En so vinnig as wat dit begin het, so vinnig is hy dood.
Die brandslaners lyk héél rustig wanneer hulle die klein vlammetjies om die rand van die lap suikerriet doodslaan. Ek is stokflou van al die opwinding!
Jakobus beskryf die werking van die tong soos 'n vuur. “'n Klein vuurtjie kan 'n groot bos aan die brand steek,” skryf Jakobus in vers 5. Inderdaad het hierdie magtige suikerbrand ook maar net begin by 'n nederige ou vuurhoutjie. En kyk net die verwoesting!
Een enkele onbesonne dingetjie wat jy sê kan 'n verwoestende “brand” veroorsaak. Ek moet bieg dat ek al 'n hele paar keer in my lewe 'n ding gesê het in die hitte van die oomblik wat baie mense bitter seer gemaak het. En dan wou ek my eie tong afbyt!
Die afgelope ruk het dinge wat mense kwytgeraak het in 'n oomblik van nie dink nie, die koerante se voorblaaie gehaal. En die hele land was woedend oor veral rassistiese opmerkings van alle kante van die spektrum. Inderdaad moet ons baie mooi dink voordat ons iets sê, want dit kan verwoestende implikasies hê.
Maar weereens moet ons baie goed weet dat ons gewoonlik slegs sê wat uit ons hart kom. As jy jouself betrap dat jy die verkeerde dinge sê, moet jy 'n bietjie dieper gaan delf. As ek maar net my tong in toom hou ter wille van ander mense, en in my hart borrel en kook dit, dan is dit net 'n kosmetiese handeling. Ek moet gaan regmaak wat verkeerd is in my hart, want ons het immers gister gesê dat jou mond oorloop met dit wat in jou hart is.
Gebed:
Here, help my asseblief om die oorsaak van my tong se losbandigheid reg te maak.