2 Petrus 1:1,2
Ek stap vanoggend in my kantoor in, en onmiddellik vang my oog ‘n dokument wat op my lessenaar lê. My oë rek groot as ek sien dat hy verseël is met ‘n outydse rooi was seël. Nou is ek baie nuuskierig, maar terselfdertyd huiwerig om dit oop te maak. Wat kan dit tog wees?
Ek tel hom op, kyk hom van alle kante af, weeg hom in my hande, ruik en bevoel hom. Hy ruik baie amptelik, amper staatsdiens. Met bewende vingers breek ek baie versigtig die seël. Op die bros, vergeelde voorblad is daar in die mooiste gekrulde sierskrif geskryf: “Testament.” Nou is ek éérs nuuskierig!
Ek blaai die voorblad versigtig om, te bang dat dit dalk sal verkrummel! Op die tweede bladsy lees ek die naam: “Oom Simon.” Oom Simon? Ken ek vir Oom Simon? En terwyl ek nog so staan en wonder, spring die dik, swart letters onderaan die bladsy skielik uit, die naam: “Louis Nel”, my naam. Mý naam! Maar dan is die testament mos aan mý uitgemaak! Is dit moontlik?
Met hande, bewend van opgewondenheid, blaai ek na die volgende bladsy. Watter asemrowende beloftes van groot rykdom hou hierdie testament nie dalk vir my in nie? En is dit wérklik aan mý wat hy alles bemaak? Daar staan dit in groot, vet letters geskryf: “Van Simon Petrus”, en weereens sien ek my naam ingeskryf in letters wat uit die bladsy wil spring: “Aan Louis Nel, wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ek ontvang het.” Dis mos ekke daai! Dis ék! Natúúrlik is dit ek, want ek hét mos ook daardie kosbare geloof ontvang!
Nou is ek so opgewonde, dat ek nie eers die details wil lees nie. Ek wil vinnig sien wat ek alles gaan kry. My oog vang sommer hier aan die begin al die woorde “kosbaarste en allergrootste.” Daar is skatte waarvan die waarde nie gemeet kan word nie. Nou is ek éérs opgewonde. Watse soort skatte kan daar vir my lê en wag? In my gedagtes sien ek al die reuse kis met die swaar koperslot en ‘n sleutel van suiwer goud om dit mee oop te sluit. In my gedagtes steek ek die sleutel in die slot en draai dit stadig, versigtig …… die slot spring oop met ‘n klikgeluid. Met bewende hande lig ek die swaar deksel. Ek snak na my asem, want wat ek daar sien is onbeskryflik. Trane loop oor my wange, want so mooi het ek nog nooit gesien nie. Oopmond staar ek na die inhoud van die kis. Dis alles myne, mýne…..!
Dan word ek teruggeruk na die werklikheid: Is daar óóit werklik skatte wat vir my wag? Ek blaai vinnig deur die testament om te sien waaroor dit alles gaan. “Alles wat jy nodig het om te lewe,” vang my oog. Werklik álles wat nodig is? Sjoe! Maar dan beteken dit mos dat ek nooit óóit weer enigiets anders sal nodig hê nie! Ek lees verder: “alles wat jy nodig het om God te dien”. Ai, ek sukkel júís so om God met my álles te dien. As ek mos nou alles het wat ek ooit nodig kan hê om te lewe, dan is dit mos vanselfsprekend dat dit baie makliker gaan wees om God te dien. Kan daar dan nou nog meer wees, om dit nog makliker te maak? Maar wag! Wat is daar nóg?
“Ontvlugting van sterflikheid.” Die woorde spring uit die bladsy uit. My hart mis ‘n slag, en bons dan in my keel: Onsterflikheid! Dan het Oom Simon Petrus tóg die elikser van ewigdurende lewe ontdek! Nou kan ek my opgewondenheid net eenvoudig nie meer beteuel nie. Wat kan dit tog beteken? Is dit iets wat jy drink? Is dit dalk iets waarin jy gedoop word? Maar daar is nie nou tyd om eers al die details te lees nie, want ek wil nog meer weet oor wat anders daar nog wag. Daardie kleinskrif sal ek wel later lees.
So in die verbygaan lees ek iets van “deel kry aan God se natuur,” en vir ‘n oomblik slaan dit my tussen die oë. Hoe is dit moontlik? Dit kan tog sekerlik nie waar wees nie? God is dan so ver en verhewe en onmeetbaar! Oom Simon kan tog seker nie ernstig wees hieroor nie? Net ‘n paar lyntjies laer af lees ek: “vrye toegang tot die fees in God se Koninkryk.” Nee, nou gaan Oom Simon darem te ver. Ek kan dit nie glo nie! Hoekom sal God mý, doodgewone ou Louis, dan nou uitnooi na Sy groot fees? Wat het ek dan gedoen om so ‘n groot eer te verdien? Maar sê nou net….. sê nou net hy ís ernstig! Sê nou net dit is wérklik so! Sal dit nie wonderlik wees nie! Wat sal ek aantrek?
Tot my ontsteltenis merk ek dat ek nog steeds slegs op bladsy een is, en al hierdie wonderlike dinge is al genoem. Ek blaai vinnig tot by die laaste bladsy, en daar sien ek dit: “’n nuwe, volmaakte hemel en aarde.” My gemoed skiet vol. Oom Simon Petrus het ook aan álles gedink!
Skielik sien ek nog ‘n blaadjie in die koevert saam met die testament. My oë rek groot as ek dit lees: “Die skatte in Simon Petrus se testament is fabels. Hulle bestaan net in mense se gedagtes!” Verder skryf die persoon: “Jou naam is nie werklik daarin nie, dis net jou eie verbeelding!” Woedend frommel ek die lasterlike notatjie op, trek ‘n vuurhoutjie en verbrand dit. Dadelik besef ek dat die duiwel hierdie nota ingeglip het om my van stryk te probeer bring. Watter snert! Natuurlik is die testament eg! Ek wéét dit! Die Bybel leer my dit, en ek wéét mos dat die Bybel die Woord van God is!
Gebed:
Dankie Here, vir ‘n wonderlike, bemoedigende brief wat Petrus vir my geskryf het. Dankie vir al U wonderlike beloftes in die Woord, en dat ek vanoggend verseker kan weet dat elkeen waar is!