Die Tempel Verwoes

17 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Tempel Verwoes

Markus 13:1-13

VIDEO * OUDIO

Vir die soveelste keer die afgelope week vergaap Petrus hom aan die tempelgeboue en veral daardie reuse klippe wat so perfek gekap is deur meester-vakmanne. Die tempelgebou toring bo Petrus se kop uit, en hy moet sy nek rek om die bopunt te kan sien. "Here, kyk net na daardie indrukwekkende klippe, en die manjifieke geboue!" Elke keer as hy daarna kyk, bring dit trane van pure verwondering in sy oë. Hoe lief het hy nie geword vir hierdie argitektoniese wonderwerk nie! Dat dit die simpele ou Herodus se werk is, skuif hy maar liewer uit sy gedagtes. "Dis mos Salomo se tempel! Herodus het dit mos maar net hérbou, het hy nie?"

Dan blaas Jesus Petrus se borrel met ‘n emmer yskoue water: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.”

Petrus se verstand wil dit nie verwerk nie. Dis mos totaal onmoontlik! Niemand kan so ‘n gebou totaal vernietig nie! Sy Meester is hierdie slag beslis verkeerd!

Hoe verkeerd was Petrus nie! ‘n Skamele dertig jaar later kom die Jode in opstand teen die Romeine. ‘n Bloedige oorlog breek uit, en drie jaar later neem die Romeinse generaal Titus die stad in. Ook die tempel is in sy visier, en in 70 nC. word die pragtige gebou totaal verwoes, sodat daar letterlik nie een klip op die ander bly staan nie. Vandag staan daar ‘n moskee op die plek waar die manjifieke tempel eens die berg Moria versier het.

Later daardie dag stap Jesus en die twaalf manne terug na Betanië. Wanneer hulle die bopunt van die Olyfberg bereik, draai Jesus om en hulle gaan sit om ‘n bietjie te rus en die uitsig te geniet. Van waar hulle sit, kyk hulle oor die stad. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het die manne ’n tydjie alleen saam met Jesus. Voor hulle, oorkant die Kidronvallei, staan die tempelgebou. Hulle kyk af op die reuse kompleks, en weereens vervul dit Petrus met die asemrowende majesteit van die pragtige geboue. Maar Jesus se woorde van ‘n rukkie gelede pla hom. Sou dit dalk die voleinding van die wêreld wees waarvan Jesus gepraat het? “Rabbi, sê asseblief vir ons wanneer hierdie dinge gaan gebeur? En hoe gaan ons weet as dit gaan gebeur? Watter tekens gaan ons sien?”

Dan verduidelik Jesus vir hulle dat daar baie groot krisistye gaan kom. Daar gaan oorloë, opstande en allerhande skrikwekkende dinge plaasvind. Mense gaan met allerhande soorte gerugte kom dat die einde aangebreek het. Maar hulle moet hulle nie daardeur laat mislei nie. Al die rampe, aardbewings en hongersnode is nie die eindgebeure nie - dit is egter alles geboortepyne van die wederkoms.

Dinge gaan egter vir hulle baie moeilik raak in die toekoms. Hulle gaan deur ‘n tyd gaan van wrede vervolging omdat hulle dit waag om die evangelie te verkondig. Hulle sal uitgelewer word aan die gereg en selfs die sinagoges gaan hulle vervolg. Hulle sal geslaan word en allerhande verskriklike dinge sal met hulle gebeur. Dit sal so erg gaan, dat hulle eie familie teen hulle sal draai en hulle aan die gereg uitlewer. Vir enige Jood was hierdie verskriklike nuus, want familiebande was baie sterk. Jy het net eenvoudig nie jou familie verraai nie - julle staan mekaar by deur dik en dun!

Die gelowiges moet egter al hierdie vervolging en swaarkry aangryp as ‘n geleentheid om die evangelie te versprei. Hoe wonderlik het baie van hulle dit dan ook nie later gedoen nie. Toe Petrus voor die Joodse Raad aangekla word, gebruik hy die geleentheid om vir hulle te preek. Toe Paulus in die tronk beland, gesels hy met elke soldaat wat hom bewaak. Boonop skryf hy briewe by die dosyne - briewe wat tweeduisend jaar later nog steeds miljoene der miljoene gelowiges regoor die wêreld bemoedig en leer en troos en na Jesus lei.

Daar wag egter ook nog ‘n baie groot bonus op die manne. Nie een van hulle was geleerde manne nie. Dit was net die rykes wat kon bekostig om opgelei te word in dinge soos welsprekendheid. Petrus was byvoorbeeld ‘n eenvoudige visserman wat net keer op keer sy mond verbygepraat het. Daar gaan egter iets wonderlik gebeur: Hulle gaan die Heilige Gees kry om hulle te help wanneer hulle in situasies sou beland waar hulle moet praat oor die evangelie. Hy sal vir hulle die woorde in hulle mond gee. Hulle sal nie alleen hulleself so kan verdedig in ‘n regsbank voor al die wetsgeleerdes nie, maar hulle sal boonop daar nog die evangelie kan uitdra, en dit sodoende verder versprei!

Hoe wonderlik dat die Heilige Gees nog steeds vandag tot beskikking is vir elke gelowige. Hierdie oordenking kom vandag na jou, nie omdat ek so ‘n goeie skrywer is of omdat ek die Bybel so vreeslik goed verstaan nie. Dit spreek tot jou omdat die Heilige Gees my gebruik as Sy skrywer. Ek probeer so goed ek kan luister na wat Hy vir my sê, en ek skryf in die volle oortuiging dat hierdie boodskap van Hom kom. En nee, ek is geensins “spesiaal” nie! Elke gelowige kry die gawe om die inspraak van die Heilige Gees te kan ervaar. Elkeen beleef dit egter verskillend. Die belangrikste is egter: luister na wat Hy vir jou sê en voer Sy opdragte met blydskap uit!

Gebed:

Here, dankie dat U vir ons die Heilige Gees gegee het om ons te lei en leer. Maak ons gewillig om te doen wat U vir ons sê.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026