Matteus 12:43-45
Op die plaas waar ek grootgeword het naby Waterval Boven, was daar ‘n ou “spookhuis”. Inderdaad het daar jare gelede iemand in gewoon, maar toe die persoon vertrek, is die huis ontruim en skoongemaak, en toe staan dit leeg. Weldra het die plaaswerkers dit begin gebruik as ‘n werkplek. Die ou koolstoof in die kombuisie se skoorsteen het een dag afgebreek, maar niemand het ooit die moeite gedoen om dit te herstel nie. Elke keer wanneer iemand dus die stoof brandmaak, word die hele huis gevul met verstikkende swart rook, wat uiteindelik die plafon en mure pikswart gevlek het!
Met die tyd het vensters gebreek, maar omdat die huis nie bewoon was nie, was dit nooit herstel nie. Uiteindelik was die huis ‘n totale bouval, alhoewel die mure en dak nog stewig was. As jy daar ingestap het was dit asof ‘n duisternis jou gegryp en vasgedruk het. Buiten vir ‘n lendelam tafel waarop die werksmense strykwerk gedoen het, en natuurlik die rokende koolstoof, was daar geen ander meubels in nie.
Daar was egter baie inwoners, nou nie juis die vriendelikste van inwoners nie! Daar was altyd ‘n geskarrel van goggas en rotte, en die plek was besmet met vlooie en weeluise. Die plaaswerkers het ook geglo dat daar ‘n spook sy intrek geneem het! Ek het die situasie uitgebuit, en kinders wat daar kom kuier het, met groot vermaak bang gemaak met daardie grillerige plek en sy “spook”. Natuurlik het ek met groot verbeelding my eie stories opgemaak oor die grillerige spoke wat daar snags vir jou lê en loer!
Uiteindelik is die plaas verkoop. Baie jare later lê ek weer daar besoek af. Die plaas is intussen omskep in ‘n gasteplaas. Daar is toe ook ‘n mooi einde aan die verhaal, want die eienaar het die bouvallige ou “spookhuis” pragtig opgeknap en dit in ‘n gastehuis omskep. Waar daar eens swart gate vir vensters was, hang daar nou vrolike gordyntjies. Die eens-dooie “spookhuis” het skielik splinternuwe lewe gekry. Dit moes seker baie harde werk, skrop en ontsmet gekos het om daardie ou plek weer leefbaar te kry, maar dit was uiteindelik alles die moeite werd!
In Mat. 12:43-45 is Jesus steeds met die Fariseërs besig. Hulle het Hom vroeër gekonfronteer omdat Hy bose geeste uitgedryf het en nou vat Hy hulle aan op hulle eie terrein. Hulle het ook die uitdryf van bose geeste bedryf, maar wanneer die persoon verlos was, was hy nét daar gelos om maar self verder op te snork. Gewoonlik kon die arme man nie alleen die mas opkom nie en kort voor lank was hy maar weer terug waar hy was, en dalk nog baie erger! Jesus sê vir hulle dat as jy so ‘n onrein gees uitdryf, dan soek daardie gees blyplek en as hy terugkom en sy vorige blyplek leeg en skoon kry, dan trek hy weer daar in. Dan bring hy boonop nog ál sy maatjies óók saam. Vandag sien ons dit dikwels met mense wat aan dwelms verslaaf is. Dikwels gaan so ‘n persoon vir rehabilitasie, maar ‘n paar maande later is hy terug, en sommer baie erger. Sonder Jesus is rehabilitasie gewoonlik ‘n totale mislukking!
Dikwels is mense ook maar soos huise. Iemand se lewenshuis het ‘n baie prominente inwoner, die duiwel. Op ‘n dag kom ‘n Christen by hom aan en verduidelik aan hom dat die duiwel sy lewe oorheers en dat hy van hom moet ontslae raak. Die man skrik hom dood en begin ‘n mooi, skoon lewe - gaan selfs kerk toe. Maar stadigaan begin hy weer terugsak in die ou lewe en uiteindelik sit hy in ‘n baie groter gemors as wat hy was.
Waarom gebeur dit? Gewoonlik is dit omdat die persoon nie eerlik vir Jesus gekies het en in ‘n verhouding met Hom begin leef het nie.
Ons moet ook onthou dat volle oorgawe aan Jesus dikwels ‘n lang proses is. Soos ‘n baba nie eensklaps grootword nie, so groei ‘n mens ook geestelik geleidelik. Soos ‘n baba eers melk kry en later vaste kos, so moet ‘n nuwe Christengelowige gevoed word, eers met sagte kos en later die koubare goed. Om aan iemand die evangelieboodskap te verkondig en hom dan net so te los om self die mas op te kom, is wreed! Die persoon moet gehelp en gelei word tot geestelike volwassenheid, anders kan hy dalk uiteindelik in vertwyfeling verval en geestelik doodgaan van die honger. Die taak van die kerk is natuurlik dan ook om toe te sien dat sy lidmate geestelike kos kry en bly groei. Hoe doen hy dit? Sondae se eredienste is maar net die begin. Dit is die plig van lidmate om na mekaar om te sien. Diegene wat geestelik al sterk is moet die “swakker” lidmate aan die hand neem en lei na volle wasdom.
Vir die lidmaat wat in totale verlorenheid verval het, is daar natuurlik hoop. Dit is egter ons as volwasse gelowiges se plig om daardie persoon te gaan opsoek en sy lewe op te hef sodat sy lewenshuis weereens mooi kan wees, en bewoon deur die Heilige Gees. Daar is natuurlik ‘n bonus by, want wanneer jy sulke “opheffingswerk” doen, word jy self geestelik versterk! Dit laat jou nog verder groei in jou geloof en sodoende word jou eie lewenshuis verfraai.
Gebed:
Here, help my asseblief om my eie lewenshuis in stand te hou en uit te bou. Gee my ook die ywer om swakker lidmate aan die hand te vat en te help om tot volle geestelike wasdom te kom tot eer van U koninkryk!