Matteus 16:13-20
Petrus se belydenis was deur die eeue ‘n baie taai toffie vir die kerk, want daar is duidelik twee wyd uiteenlopende sieninge hieroor. Aan die een kant reken die Katolieke kerk dat Jesus se woorde aan Petrus persoonlik gerig was, en dat die Pous vandag Petrus se gesagsposisie voortsit. Aan die ander kant reken die protestante dat die kerk se gesag nie in ‘n persoon gesetel is nie, maar in Petrus se belydenis dat Jesus die Seun van God is. Wie is nou eintlik reg? Kom ons kyk of ons hierdie kraaines kan ontrafel.
Hierdie perikoop bestaan uit drie dele. Dit begin met die vraag oor Jesus se identiteit en Petrus se belydenis. Die tweede gedeelte handel oor die uitsonderingsposisie van Petrus/die Kerk en die derde oor Jesus se opdrag, dat hulle met niemand hieroor mag praat nie.
Jesus vra eers wat die ander mense oor Hom dink, en dis duidelik dat meeste nie ‘n vaagste idee het wie Hy werklik is nie. Hulle besef dat Hy baie besonders is, dalk ‘n Profeet soos Elia, Jeremia of selfs Johannes die Doper! Slegs die dissipels ken Sy ware identiteit! En dit is nie slegs Petrus nie, want soos jy sal onthou, toe Jesus op die see geloop het, het ál twaalf die dissipels voor Hom gekniel en bely: “U is waarlik die Seun van God.” (Mat 14:32) Petrus het hier dus nie alleen sy persoonlike mening gelug nie, maar hy het namens álmal gepraat.
In ‘n woordspeling sê Jesus vir hom dat hy Petrus is (wat rots beteken) en dat hy dus sterk genoeg is vir die taak wat voorlê en op sy belydenis (so kragtig soos ‘n rots) gaan Jesus Sy kerk bou. Petrus se belydenis is alléén moontlik as dit deur God (die Heilige Gees) op sy hart gelê is! Dit geld natuurlik ook vandag nog steeds vir ons! Nou word die gesag aan Petrus gegee om daardie kerk te onderrig. Alhoewel Petrus klaarblyklik hier uitgesonder word, is dit nie net op Petrus gerig nie maar op die hele dissipelkring. Wanneer Jesus byvoorbeeld vir Petrus sê dat hy die “sleutels van die Koninkryk van die hemel” kry, dan word hierdie stelling in Matteus 18:18 weer woord-vir-woord herhaal. Hierdie keer word dit egter gerig aan ál die dissipels en dus by implikasie aan die hele kerk.
Dit is met ander woorde soos die kaptein van ‘n rugbyspan wat die beker ontvang. Alhoewel hy die persoon is wat gelukgewens word en die trofee in sy hande kry, ontvang hy dit namens die hele span, ook die afrigter en helpers en selfs die manne op die reserwebank wat nooit eers ‘n kans gehad het om te speel nie, of dalk net vir die laaste vyf minute op die veld gedraf het. Maar dit kring baie verder uit. Hierdie trofee behoort ook aan al die manne en vroue wat agter die skerms geswoeg het, en uiteindelik ook aan al die span se ondersteuners. So is Petrus wel uitgesonder maar hy het hierdie belofte nie alleen namens die ander dissipels gekry nie, maar namens die hele kerk. Jesus gee ons dus die belofte dat die kerk die aanslae van die magte van die doderyk sal oorleef. Die dissipels en kerk sal die gesag ontvang om die gelowiges voor te gaan in die leer van Jesus.
Die vraag is: waarom word Petrus dan so uitgelig? Waarom wys Jesus die vinger juis na hom wanneer Hy hierdie belofte gee? Was hy dan só ‘n baie besonderse mens? In ‘n sekere sin wás hy inderdaad baie besonders! As ons egter mooi na hom gaan kyk, sien ons ‘n doodgewone mens, nes ek en jy. Petrus was besonders omdat hy volgens die Christelike tradisie die persoon was wat die gelowiges aan die aardse Jesus verbind. Hy is immers die persoon wat eerste deur Jesus geroep is. Maar as ons die evangelies mooi lees, kom ons agter dat Petrus nêrens uitgesonder word as iemand wat méér as net ‘n gewone dissipel was nie. Hy was maar net soos enige van die ander dissipels. En as ons dieper gaan delf in Petrus se lewe, sien ons ‘n klompie baie ontstellende dinge van iemand wat gereken word as die verteenwoordiger van die kerk. Petrus het voete van klei gehad. Dikwels was hy kleingelowig! Vat nou maar die keer toe hy op die see begin loop het en hoe sy geloof hom in die steek gelaat het. Hy was ‘n grootbek! Kyk maar net hoe hy gespog het dat hy Jesus nimmer as te nooit sou verlaat nie en dat hy selfs bereid sou wees om vir sy Meester te sterf. En kyk hoe skandelik hy slegs enkele ure later vir Jesus verloën het. Hy was selfs vir ‘n doodgewone diensmeisie bang! Een slag het Jesus selfs vir hom gesê: “Gaan weg agter my, Satan!”
O, ek sien in Petrus my eie wankelrige lewe. Ek struikel tog so maklik. Ek word soms baie hard aarde toe gebring! Maar daar is ook hoogtepunte en soos Petrus van ouds voel dit soms of ek baie hoog vlieg. Wanneer iemand vertel dat ’n dagstukkie vir haar baie diep geraak het, dan vlieg ek hoog. Dan weet ek dat wat ek gedoen het, werklik iets vir iemand beteken het. Is dit nie maar elke kind van God se lewe nie?
Petrus “is” die kerk! Maar dit eindig nie daar nie. Ek en jy, die gelowiges is óók die kerk. En aan ons is die sleutels gegee vir die hemel. As ons nie daardie sleutels verantwoordelik gebruik en ook die hemel oopsluit vir iemand nie, dan misbruik ons God se gawes. Dan beteken dit eintlik dat ons die hemel vir iemand toesluit! Wat ‘n verskriklike gedagte!
Gebed:
Here, gee my asseblief wysheid om U sleutels reg te gebruik, en ook die ywer om dit dikwels te gebruik!