Die Seun in die Tempel

25 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Seun in die Tempel

Lukas 2:41-52

Video

Audio

Twaalf jaar het verbygegaan sedert daardie dag in Betlehem, toe alles vir Maria so onwerklik gelyk het. Met trots het sy haar Seun dopgehou soos Hy opgroei, gehoorsaam en voorbeeldig in alle opsigte. Hy het Pa Josef fluks gehelp in sy skrynwerkerswinkel, en Maria kon sien dat hierdie seun van haar volwaardig in Pa se sandale sal volg.

Maar nou was daar sommer gróót opgewondenheid in die dorpie Nasaret. Dit was tyd vir die jaarlikse Paasfees, en vir weke lank al was Maria besig om voorbereidings te tref. Daar moet padkos voorberei word vir die lang, uitmergelende tog na Jerusalem. Onwillekeurig dink sy weer terug aan daardie epiese reis twaalf jaar vroeër. Dit was ‘n nagmerrie, want sy was hoogswanger. En toe was daar nie eers vir hulle slaapplek nie! Sy skud haar kop en glimlag heimlik.

Uiteindelik breek die langverwagte dag aan. Die donkie se saalsakke word die vorige aand al sorgvuldig gepak met padkos en kooigoed. Alles word oor en oor nagegaan om doodseker te maak dat daar nie iets vergete agterbly nie. Jy kan mos nie omdraai en gou eers iets gaan haal nie!

Die volgende oggend vroeg-vroeg val hulle in die pad. Maria ry op ‘n donkie terwyl Josef maar tevrede moet wees om die langpad te voet aan te durf. Hy lei die pakdonkie met al hulle voorrade op. Die kinders verdwyn sommer baie vinnig om opgewonde saam met hulle maats vooruit te hardloop op die lang pad na Jerusalem. Hoe verder hulle vorder, hoe groter raak die groep. Nefies en niggies wat mekaar ‘n jaar laas gesien het koek saam, totdat dit ‘n reuse fees word van saamsing en skerts en speletjies speel. Maria soek onwillekeurig na haar baie spesiale seun, Jesus. Sy glimlag as sy hom daar voor in die bondel opmerk.

Vir die twaalfjarige Jesus is daar egter ‘n ander soort opgewondenheid: Volgende jaar, op dertien, word hy ‘n “seun van die wet,” ‘n stappie nader aan Sy groot doel hier op aarde.

Die reis duur byna 'n week voordat hulle in Jerusalem aankom. Daar word kamp opgeslaan teen die Olyfberg en nou is daar derduisende mense van regoor die wêreld wat saamkuier. Daar word gesels en gesing en feesgevier tot laatnag elke aand. Natuurlik steur die grootmense hulle nie aan wat die kinders doen nie, want die hele spul kuier mos saam. Maria merk egter dat wanneer die ander kinders in Jerusalem speel en kattekwaad aanvang, dan is haar twaalfjarige Jesus iewers by die groot leermeesters. En sy sien hoedat Hy aan hulle lippe hang en elke woord indrink. Baie vreemd vir ‘n seun van sy ouderdom!

Jesus is later feitlik heeldag tussen die ringkoppe met hulle grys baarde. Nou is Hy nie meer die een wat aan die ou manne se lippe hang nie, maar húlle hang aan Sý lippe, want sulke wysheid het hulle nog nooit uit die mond van ‘n jong seuntjie gehoor nie! Skielik word die bordjies verhang, want die leermeesters word nou die leerlinge en Jesus die Groot Leermeester wat almal oortref!

Hééltemal te gou breek die einde van die fees aan, en dan vertrek Josef en Maria terug na Nasaret, salig onder die indruk dat Jesus iewers tussen die bondel nefies en niggies is, wat alreeds weer uitbundig vooruit hardloop.

Toe hulle daardie aand kamp opslaan by Jerigo, soek Maria haar seuntjie, maar Hy is net skoonveld. “Hy is seker maar iewers saam met sy maatjies,” skud Maria die kommer af, en sy dink nie eers weer daaroor nie.

Toe hulle egter op die tweede dag van hulle reis al ver gevorder het in die Jordaanvallei op, begin Maria bekommerd raak. Dit is mos nie soos haar Jesus is nie! Hy sou darem al kom oë wys het. Sy begin oral rondvra, maar niemand het Hom gesien nie. Dan begin Maria besef daar haar kind nie by hulle is nie! Sy is rasend van kommer, en in trane hardloop sy na Josef. “Ons moet omdraai! Ons moet hom gaan soek!”

Diep bekommerd draai Josef en Maria om en loop weer al die pad terug na Jerusalem. Hulle hoef nie eers baie ver te soek nie, want die nuus van die seuntjie by die tempel lê al die hele Jerusalem vol. Daar kry hulle hom waar Hy steeds besig was om met die Skrifgeleerdes te gesels oor “die dinge van My Vader.” Maria is sommer smoorkwaad, maar wanneer sy Hom skerp aanspreek oor hierdie “onverantwoordelike” ding wat Hy aangevang het, is Sy woorde: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

Vir Maria was dit ‘n reuse verligting om haar seuntjie te kry. Lukas vertel dat Jesus aan sy ouers onderdanig was, en dat Hy in groot guns was by almal om Hom. En Maria was baie trots op haar seun, al het Hy haar daardie dag so groot laat skrik! Alhoewel Jesus aan sy ouers gehoorsaam was, was God prioriteit nommer een in Sy lewe.

Die vraag wat ons vanoggend vir onsself moet vra, is waar ons prioriteite lê? Is dit ons werk of ons vriendekring? Niemand, nie eers ons eie gesin, mag prioriteit inneem bo die Here nie. Rondom Hom moet ons al die ander dinge beplan.

Gebed:

Here, ek moet vanoggend bely dat daar so baie ander dinge in my lewe is wat voorrang geniet. Leer my asseblief om U voorop alles te stel.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026