2 Korintiërs 11:1-15
Sendelinge word gereeld gekritiseer vir hulle lewenswyse. Wanneer ‘n sendeling eers wegraak daar in die vreemde tussen hordes heidene wat dikwels krepeer van die ellende, is dit so maklik om totaal van hulle te vergeet. Dit is op sulke tye wat sendelinge swaartrek om kop bo water te kan hou. “God sal voorsien”, hoor jy hulle ál te dikwels sê, en dan word hulle deur baie mense uitgelag. “Hoe kan enigiemand so dwaas wees? Watter soort waarborg het hulle dat hulle so kan oorleef? Dit gaan nie lank hou nie - binnekort kruip hulle terug!” Hierdie soort opmerkings maak seer!
Ek het al so baie verhale gehoor van sendelinge wat absoluut alles in die lewe opgegee het om in die mees-primitiewe van omstandighede te gaan werk iewers in die onbekende. Onderhoud uit die “gemeente” waar hulle werk, is onbeduidend, want gewoonlik het daardie mense óók niks. Hulp van elders is ook maar karig. Malaria en ander tropiese siektes is ‘n werklikheid wat hulle daagliks in die gesig staar. Maar vra jy hoe dit gaan, dan is hulle borrelend van blydskap. Elke bekeerling is ‘n reuse mylpaal, en as iemand uit die gemeenskap die dag sy opleiding as evangelis voltooi, dan is daar ongekende vreugde. Dit is soos die sendelinge wat ek ken die lewe ervaar.
Ek dink Paulus het ook iets hiervan beleef. Ja, net soos hierdie sendelinge, moes hy ook dikwels gebuk gaan onder felle kritiek. Ons lees daarvan in 2 Kor. 11, waar sekere dwaalleraars hom uitgelag het. Waarom het hy byvoorbeeld nie ‘n salaris gevra van die Korintiërs nie? Waarom sou hy verniet onder hulle gaan werk, sonder enige vorm van vergoeding? In Korinte het hy vernederende handewerk gedoen, tente gemaak om aan die lewe te bly sodat hy vir hulle kon preek. G’n ordentlike inwoner van Korinte doen handewerk nie! Dis slawe se werk! Paulus wou egter op géén manier vir die gelowiges in Korinte ‘n las wees nie, selfs nie eers toe die hongerpyne begin knaag het en die kos maar karig was nie. Al was hy sekerlik die mees suksesvolle sendeling van alle tye, sou hy beslis nie uit hierdie werk ryk word nie.
Daar was darem iemand wat van Paulus onthou het, en soms het die gemeentes in Masedonië geld gestuur om Paulus aan die gang te hou. In daardie tye kon hy meer van sy tyd spandeer om die Evangelie te verkondig.
Ons vra dikwels die vraag: wat het Paulus dan so ‘n suksesvolle sendeling gemaak? As ons tussen die lyne lees, lyk dit asof hy nie juis ‘n wonderlike spreker was nie. Uit vers 6 kom jy agter dat daar uitstekende redenaars was met gladde tonge teen wie Paulus moes meeding. Met hulle mooi redenasies en asemrowende preekvaardighede het baie mense agter hulle aangedrentel. Hulle het ryk geword uit hulle preke!
Vir Paulus het dit egter gegaan om iets baie groter as geld en eer. Hy wou die gemeente soos ‘n bruid voorberei vir Jesus, die Bruidegom sodat sy as ‘n rein maagd na Hom kon gaan! Dit het gegaan oor ‘n “opregte en reine toewyding aan Christus” (2 Kor. 11:3). En hy span ál die kennis wat hy met bloedsweet deur die jare opgebou het in om hierdie gemeente daarheen te lei. Met hulle mooi praatjies was die dwaalleraars egter besig om die gemeente te verlei om ‘n ander pad te volg - ‘n ánder Jesus te aanbid as die Jesus wat hy verkondig, ‘n Jesus wat dalk meer aanvaarbaar sou wees.
Ja, dit is iets wat die sendelinge vandag steeds mee te doen kry. Ná hulle harde werk om die Evangelie by mense tuis te bring, word bekeerlinge dikwels afgerokkel deur gladde sprekers wat Jesus vir hulle meer aanvaarbaar maak. Om ‘n voorbeeld te noem: Die hele gedagte van voorvader aanbidding/verering, is tradisioneel ingehamer in die lewe van baie van die mense van Afrika. Wanneer die Evangelie aan hulle verkondig word, moet hulle ‘n keuse maak tussen dit en Jesus. Om met jou ou tradisies waarmee jy grootgeword het te breek, is beslis nie maklik nie, en dit neem soms jare vir so ‘n persoon om Jesus as enigste Saligmaker te aanvaar. En dit is juis hier waar die gevaar lê en loer, want daar is ‘n maklike weg uit die verknorsing. Iemand wat sukkel om ‘n keuse te maak, word maklik verlei deur sekere godsdiensgroepe om albei te aanvaar, want solank jy Jesus dien, kan jy steeds vasklou aan die voorvadergeeste en alles wat daarmee saamgaan! Vir die arme sendelinge is hierdie siening ‘n nagmerrie, net soos die dwaalleraars vir Paulus ‘n nagmerrie was.
Raak hierdie dinge jou en my? Baie beslis! In die eerste plek mag ons nooit van ons sendelinge vergeet nie. Nie alleen moet ons hulle in die gebed dra nie, maar ook met ons finansies. En dan moet ons ook versigtig wees dat ons nie sélf verlei word deur dwaalleraars wat verkondig dat ons steeds aan ons ou tradisies moet vasklou nie, tradisies wat strydig is met die Woord. Dien Jesus met liefde!
Gebed:
Here, help my asseblief om nooit ons sendelinge te vergeet nie. Ons bid vir elkeen wat in die sendingveld staan en dikwels groot swaarkry beleef, veral om die werk van dwaalleraars teen te staan!