Die Sabbat

11 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Sabbat

Markus 2:23-28

VIDEO * OUDIO

Die Sondag begin soos enige ander Sondag, stil en stemmig. Daar hang ‘n gees van gewydheid oor die ou plaashuis, en van die gewoel en werskaf van die week, is daar géén sprake nie. Die werf is verlate, soos dit elke Sondagoggend maar is. Uitgevat in ons Sondagklere ry ons in doodse stilte kerk toe, waar die gewyde stemming van Oom Fred Geyser se hemelse orrelspel ons inwag. Na kerk ry ons weer deur die dorp reguit plaas toe. Alles is morsdood in die dorp. Daar is skaars ’n motor in die strate, en ál die winkels is bot-toe. Sondag middagete is ook, soos elke Sondag, spesiaal, en heelwat vroeër as weeksdae, sodat daar na ete genoeg tyd is om te kan gaan skuins lê.

En dit is net hiér waar die moeilikheid begin. Vir ‘n lewendige tienjarige seun is dit die grootste straf op aarde om in die middel van die dag te moet lê en slaap, en dít terwyl die berge en ál die avontuur daar buite vir jou staan en roep! Die reëls was egter lankal baie duidelik neergelê: Op ‘n Sondag gedra jy jou stemmig! Jy werk nie, jy speel nie, jy swem nie en jy vang nie vis nie - nie eers paddavissies of platannas nie! Dit beteken, jy gaan lê en slaap! Wat ‘n straf!

Skaars lê ek op my ysterkateltjie, of iemand klop aan my venster. Buite roep ‘n seunsstem: “Louis! Kom ons gaan swem!” My pêlle uit die dorp het ál die pad met fietse gery om op ons plaas te kom baljaar, want ons het ‘n heerlike gronddam waar jy kan swem tot jou gô uit is. En dan is daar die vrugtebome waar jy jou trommeldik kan eet aan geelperskes, appels, turksvye, appelkose en pruime.

“Nee, ek mag nie!”

“Aag toe asseblief man!” smeek Gert. Dit kos nie veel oorreding om my te laat toegee onder die druk nie, en saggies sluip ek by die agterdeur uit. Nog so in die hardloop af na die dam toe, word die klere al van ons basse afgestroop, en kaalstert duik ons in die dam in. Ons gooi mekaar met modder, en ons lag en skree uitbundig. Dis lekker om kind te wees! Dis lekker om vry te kan baljaar!

Maar dan bereik die onheilspellende stem van die plaashuis af bo die uitbundige gelag my paar bakore: “Louis! Kom hier!” En en wéét sommer: hier kom GRÓÓT moeilikheid.

“Jy wéét mos jy mag nie op Sondae swem nie!” Pa is nie ‘n gelukkige man nie! Kyk, hy is nie iemand wat sommer straf uitdeel nie, maar wanneer dit die dag gebeur…...

“Gaan pluk vir jou ‘n lat.”

My mond val oop. “Pa....?”

“Ja toe! Dit moet ‘n behóórlike lat wees vir jou pak slae!”

Daardie pak slae het ek al baie jare terug vergeet, maar die verskriklike straf om sélf die lat te moes gaan uitsoek waarmee ek moes pak kry ….. dit is ingebrand in my geheue, asof dit gister gebeur het.

Dinge het verander: Sondag is baljaar-dag, die dag vir sport en ontspanning, fliek en inkopies doen. Sondag is die dag vir swem en visvang en op die strand gaan speel. Die winkel wat op ‘n Sondag nie oop is nie, gaan baie gou ten gronde.

Dit is dus vir ons baie moeilik om werklik ‘n prentjie te kan vorm en te begryp hoe ontsettend belangrik die Sabbat was vir die Jode in Jesus se tyd. Vir hulle was daar die “gewone” wette soos dat jy nie mag doodslaan en steel nie. En dan was daar die twee “hoof” wette wat Jode onderskei het van álle ander mense: die besnydenis en die Sabbat. Daar was ellelange lyste van moets en moenies vir ‘n Sabbat. Sabbat het natuurlik geduur van Vrydagaand met sononder tot Saterdagaand sononder, soos sommige Christene dit terloops vandag steeds onderhou.

En toe pleeg Jesus se dissipels die verskriklike “sonde” deur te loop en koringare afpluk terwyl hulle deur ‘n land stap. Dit was ‘n natuurlike aksie van manne wat iets vir die hongerpyne gepluk het in die verbygaan. Ongelukkig vir hulle was die afpluk van koringare op die Fariseërs se lysie van “moenies”, want dit was “oes”, en oes was werk. En werk was natuurlik mos verbode!

“Die Sabbat is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die Sabbat nie,” verduidelik Jesus vir die Fariseërs. Wat beteken dit? Die Fariseërs het die Sabbat gesien as iets wat God op die mens afgedwing het, en as jy dit nie onderhou nie sal jy gestraf word. Jesus stel God as die Goeie Gewer wat Sy kinders liefhet en gebooie gee om mense te ondersteun en te help, en beslis nie om hulle te onderdruk nie. Die dissipels kan dus gerus maar koring pluk as hulle honger het. Christelike vryheid maak ons los van wettisisme. Dit beteken dat ons met héél ander oë na die Sondag kan kyk.

Beteken dit dan dat jy maar mag maak soos jy wil? In vers 28 sê Jesus dat Hy óók Here van die Sabbat is. Dit beteken dat die gesag nie in onsself lê nie, maar dat Jesus die Een is wat die finale sê het. Ons moet aan Hom al die eer gee, ook in die uitlewing van ons Sondag/Sabbat. Christelike vryheid beteken dat ons in persoonlike verbondenheid en gehoorsaamheid aan Jesus alleen ons vryheid kan uitleef, nie alleen in die wyse waarop ons die Sondag gaan spandeer nie, maar ook hoe ons ons ganse lewe gaan uitleef.

Gebed:

Here, help my asseblief om my ganse lewe in te rig om te leef in U liefde, en om my vryheid uit te leef om U te eer.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026