Eksodus 16:22-36
God voorsien vir die Israeliete op ‘n tydstip toe hulle dit bitter nodig gehad het - manna uit die hemel. Die vraag is - hoe lank sou God se voorsiening bly? Meeste van die Israeliete was maar baie skepties hieroor - sou dit nie maar net ‘n eenmalige gebeurtenis wees nie? Daardie soort van wonderwerke gebeur mos maar eenmaal in ‘n leeftyd! En toe wil hulle sommer vir môre en oormôre ook bymekaarmaak, teen God se uitdruklike bevel in - net vir die wis en die onwis. Die gevolg was verskriklike vrot manna!
Hoe lank dink jy sou God nog hierdie manna vir Israel gee? ‘n week? ‘n maand lank? Nee, selfs nadat Israel verskeie kere vir God bitterlik bedroef het, het Hy steeds vir hulle manna gegee vir ‘n volle veertig jaar lank! Eers nadat die mure van Jerigo geval het met die intog in Kanaän, het die manna opgehou! In Josua 5 lees ons dat nadat Israel die eerste keer in Kanaän die Paasfees gevier het, het die manna verdwyn. Nou kon Israel van die opbrengs van hulle nuwe land eet.
Maar nou was daar eers ‘n ander belangrike ding wat die Here vir die volk wou leer. In Egipte moes hulle dag-in, dag-uit, sewe dae ‘n week werk as slawe. Niemand was ooit ‘n blaaskansie gegee nie. Dit was nie goed nie - ‘n mens het rus ook nodig! En dan begin die Here hulle stelselmatig leer van rus. Sy bevel aan Israel was dat hulle op die sesde dag ‘n dubbele porsie manna moes optel en genoeg kos voorberei vir die volgende dag ook.
Maar soos verwag was daar alweer ‘n klomp Israeliete wat baie skepties was hieroor. Vir die afgelope week nou al reën dit elke oggend manna - waarom sou daar nie ook op die sewende dag manna reën nie? Hulle het nie die vorige dag genoeg bymekaargemaak nie, en toe die sewende dag aanbreek is daar tot hulle ontsteltenis niks om op te tel nie. Hoe hard hulle ookal soek - daar is nie ‘n enkele vlokkie in sig nie!
“Hoe lank gaan julle nog weier om My bevele te gehoorsaam?” vra die Here vir Moses. Ons sien hier amper ‘n tikkie ongeduld by God - waarom kan die volk nie leer nie? Daardie dag het Moses hard gepraat met die volksleiers. Hierdie ongehoorsaamheid aan God moet nou end kry! Het hulle al vergeet hoe hulle sonder ‘n breek hulleself moes afsloof in Egipte? God wil keer dat dit nie weer gebeur nie. Van nou af sal elke sewende dag ‘n rusdag wees - ‘n dag om rustig in jou tent saam met jou gesin deur te bring. Die volksleiers sien sommer dat Moses baie ernstig is - die Here het baie hard met hom gepraat! Hulle sal doen wat hy vra, want Moses is omgesukkel!
Algaande begin die volk gewoond raak aan hierdie nuwe vorm van lewe. Elke oggend wanneer die mis lig is dit manna optel - twee liter per persoon, want dit sal net genoeg wees vir die dag. En Vrydag tel hulle vier liter op. En hierdie manna smaak ook nogal nie onaardig nie - amper soos heuningkoek wanneer dit in broodjies gebak is. Die smaak begin baie gou aanklank vind by die volk.
En sodat die nageslag nooit sou vergeet van hoe God vir Israel voorsien het daar in die woestyn nie, neem Moses twee liter manna en verseël dit in ‘n goue kruik.
Ons sukkel om waarlik God se voorsiening in ons lewens te besef en daarvolgens te leef. Ons word grootgemaak met die gedagte dat jy vir jouself moet voorsien. Kinders word dikwels van kleins af geleer om ‘n eie inkomste te genereer en selfversorgend te wees in ‘n sekere opsig. Ja, dit is goed, maar terselfdertyd beroof dit die kind ook van die gedagte van afhanklikheid.
In die sakewêreld word ons gekondisioneer dat dit slegs jou eie werk en slimmigheid en dikwels selfs ook geslepenheid is wat jou bo in die lewe uitbring. En wanneer jy die dag val, dan is jy verpletterd. Dan wonder jy wat het skeefgeloop?
Die probleem is, dat ons so maklik vergeet dat dit eintlik God is wat vir ons voorsien. Ja, my harde werk bring geld in die sak. Maar God is die Een wat my die krag en die verstand gee om dit te kan doen. En Hy is ook die een wat my die geleenthede gee. Ons durf nooit óóit vergeet dat dit alles deel is van God se voorsiening nie. Het jy al vandag vir Hom dankie gesê dat Hy vir jou ‘n werk gegee het? Of dat jy vandag kos op die tafel het?
Maar “dankie” is nie net ‘n paar hol woordjies nie - dankie is ‘n lewenswyse, soos die Israeliete agtergekom het. Dankie is ook om tyd te maak vir God. Die Here moes Israel op die harde manier dwing om tyd te maak vir Hom op die sewende dag. Vandag vra Hy ons mooi om asseblief vir Hom tyd te maak. Doen ons dit werklik nog?
Gebed:
Here, ek bely vanoggend dat ek so min tyd maak vir U. En dat ek U nie genoeg eer gee vir dit wat ek besit nie. Vergewe my asseblief, en help my om U voorsiening raak te sien en dankbaar te leef!