Miga 1:2-5
Met bewende hande het ek die boek Miga oopgemaak om daaruit ‘n reeks dagstukkies te skryf. Ek was bang, en ek het die Here gevra of ek nie liewer ‘n ander, makliker boek kon kies nie. Maar Hy het daarop aangedring dat Miga die boek is. Wat gaan dit vir my en jou oplewer? Ek het my oë oor die bladsye laat gaan, en al wat ek kon sien was oordeel, oordeel en nogmaals oordeel. Die Here het vir my gesê: “Kyk dieper!” En toe sien ek dit - tussen die oordele lê kosbare juwele verskuil.
In die eerste paar verse staar jy jou blind teen vrees vir die oordeel van God. Maar kom ons gaan kyk mooi na die beeld wat Miga vir ons daar skilder.
Ons sien ‘n hofsaal. Dit is die hooggeregshof, en die spanning loop baie hoog, want almal wag vir die koms van die Regter en die Aanklaer. Wat gaan vandag in hierdie hof gebeur? Elkeen wat daar sit voel skuldig, want hierdie Regter is die grootste van alle tye. Die hofsaal waar ons sit het ‘n heilige atmosfeer. Almal is te bang om selfs te fluister, want dit kan die heiligheid van die ontsagwekkende hofsaal skend.
En dan gaan daar ‘n gefluister deur die saal: “Die Regter het Sy kantoor verlaat! Hy is op pad na die hofsaal!”
Miga beskryf die aankoms van hierdie Regter as asemrowend, indrukwekkend. Wanneer Hy die heiligheid van Sy “kantoor” verlaat om af te kom, smelt die berge weg voor Hom, want Sy heiligheid straal uit in ‘n gloed wat alles voor Hom verteer. Miga beskryf hoe Hy oor die hoë plekke van die aarde kom. In my gedagtes sien ek Hom aankom oor die Alpe en die Himalayas. Die vreesaanjaende Mount Everest, wat al soveel lewens geëis het omdat hy haas onklimbaar is, is vir hierdie Regter maar soos ‘n klippie onder Sy voet. Wanneer Hy daaroor beweeg, smelt die graniet en sneeu weg voor Sy heiligheid. Soos was wat in ’n warm vuur gegooi word wegsmelt, so smelt die berge en loop soos water teen die hellings af. Die valleie skeur oop en verkrummel voor die almag van die Regter wat op pad is.
Vir die ongelowige moet dit ‘n angswekkende gesig wees, want hy weet wat dit alles vir hom gaan inhou. Maar vir my as gelowige vul dit met ontsag, bewondering, aanbidding. Die absolute grootheid, almag en heiligheid van die Regter vul my nie met vrees nie maar ‘n asemrowende verwondering. Wanneer ek Hom maar hoor aankom wil ek neerval in aanbidding en lofbetuiging, want ek weet dat Hy op pad is om al die onreg aan te spreek.
Maar dit vul my ook met dankbaarheid en nuwe ontsag, want skielik besef ek dat Hy nie maar net ‘n God is wat daar bo in die hemel iewers is waar niemand Hom kan sien nie. Hy is nie onbetrokke by die dinge wat hier op die aarde gebeur nie. Hy is persoonlik, intens betrokke by alles wat hier onder aangaan!
Nou bereik die spanning in die groot, weelderige hofsaal breekpunt, want die Regter het aangekom. Die glans van Sy heiligheid vul die ganse hofsaal van hoek tot kant soos ‘n heerlike geur. En dan gebeur die verrassende: Die Regter gaan neem die plek in waar die aanklaer gewoonlik staan. Hierdie Regter is tegelykertyd ook die Aanklaer. In enkele woorde stel Hy die aanklag. Maar hierdie aanklag laat almal in die hofsaal na hulle asems snak, want die beskuldigdes is nie soos wat almal verwag, die Assiriërs of die Filistyne nie. Die beskuldigdes is nie die goddelose - diegene wat moor en roof en die ganse wêreld in rou dompel nie. Die aanklag kom teen “Jakob”. Nie die persoon van Jakob nie, maar sy afstammelinge, die volk Israel. Dit gaan oor die ontrou van Sy volk, die volk van God.
Niemand het dit verwag nie. Almal is uit die veld geslaan oor wie beskuldig word. Skielik is dit die klaer wat sy plek moet inneem in die beskuldigdebank. “Maar wat het ek dan gedoen?” hoor ons amper die beskuldigde protesteer.
Waarom is dit juis Israel, die volk van God wat eerste voor die regterstoel moet staan? Die antwoord is eintlik voor die hand liggend. Deur die eeue het God baie moeite gedoen met hierdie volk. Hulle het voorkeurbehandeling gekry reg van dag een af. Wanneer hulle gesondig het, is hulle nie uitgedelg nie, maar het God hulle uit Sy groot genade elke keer weer ‘n kans gegee. Kyk maar net hoe het hulle God se geduld beproef gedurende die uittog uit Egipte. Kyk maar net hoe God elke keer wanneer hulle gemor en gekerm het, met ‘n liefdevolle hand hulle gehelp het.
Ek en jy as gelowige moet oppas dat ons nie dalk ook in die beskuldigdebank land nie. God vra van ons om liefde na te streef en om Hom te dien. Hy dwing ons nie om dit te doen nie. As ons bly hardkoppig lewe en ons eie kop volg, ons verlustig in die sonde - God sal mos maar weer vergewe...... Daar kan ‘n dag kom dat die Regter gaan omdraai en sê: “Nou is jy in die beskuldigdebank.” Ons moenie dat dit met ons gebeur nie!
Gebed:
Here, help my asseblief om elke dag vir U te lewe - om liefde uit te leef en te doen wat U van my vra.