Die Paasmaal

24 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Paasmaal

Markus 14:17-25

VIDEO * OUDIO

Die heerlike geur van gebraaide lam vul die bovertrek as die manne daardie Donderdagaand in die bovertrek instap. Die lam is daardie selfde oggend nog geslag en die bloed is geoffer as deel van die Paasfees. Die dertien manne gaan lê behaaglik rondom die tafel. Dit was ’n harde dag daar by die tempel waar Jesus heeldag lank mense geleer het, en almal is moeg. Hoe heerlik is dit nie om vir ’n verandering weer die luukse te kan smaak om jou so te kan uitstrek en rustig ’n maaltyd geniet.

Al die Paasmaal seremonies is vir die manne tweede natuur, hulle doen dit elke jaar van kleins af. Die groot skottel gebraaide lam staan in die middel en die manne breek stukke brood af en doop dit in die geurige sous.

Skielik raak Jesus se gesig stroef: “Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”

Daar sak ’n geskokte stilte toe oor die vertrek. Almal is te bang om ’n woord te sê. Dit kan tog sékerlik nie waar wees nie? Wie sou dan nou so ’n verraderlike daad wou pleeg? Dis tog net hulle twaalf Apostels wat hier in die vertrek is saam met Jesus…. Nee! Hy maak seker ’n fout!

Onthuts kyk die manne na mekaar. Petrus breek die stilte: “Dis tog sékerlik nie ek nie, Meester?”

Jesus kyk hom meewarig aan. “Beslis nie ek nie!” verklaar Johannes, baie seker van homself. Hy sal mos nóóit so ’n verraderlike ding doen nie!

“Is dit dalk ek?” Ongeloof straal geskok uit Thomas se gesig.

“Dit is een van julle twaalf,” sê Jesus, en almal kan sien dat Sy gemoed baie swaar is, “die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek.”

“Maar almal doen dit dan!” dink Petrus. “Ons almal steek ons brood saam met Hom in die skottel!”

Die manne brom onder mekaar, hulle verstaan nou gladnie. Wie van hulle kan die verraaier wees? Mens kan deesdae ook niemand meer vertrou nie!

“Die Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” Jesus se woorde laat almal sprakeloos!

Niemand merk op dat Judas spierwit word in die gesig nie. Hy voel siek, maar hy durf dit nie wys nie. Die manne sal hom doodmaak as hulle weet wat hy beplan. As hy opkyk, sien hy Petrus se gesig. Hy kyk vinnig weer af – hy is bang vir daardie man. Petrus kan soms so impulsief optree, jy weet nooit waar jy met hom staan nie. Judas vermy die ander se oë. Daar sak ’n donker wolk toe oor die manne. Niemand sê ’n woord nie! In stilte eet hulle verder, maar skielik het die kos nou onsmaaklik geword…...!

Dit is Jesus wat ’n lang, ondraaglike stilte verbreek. Hy tel ‘n brood op, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy die brood in stukke en gee vir elkeen van die manne ’n stuk: “Neem, dit is my liggaam.” Sy woorde eggo deur die vertrek en deur elkeen se gemoed. Petrus voel siek, dit klink vir hom soos doodswoorde. Dan neem Jesus die beker met wyn en terwyl Hy dit ophou bid Hy weer en spreek ‘n dankgebed uit. Nadat hulle in ’n koor “Amen” gesê het, gee Jesus die beker om sodat almal daaruit kan drink. “Dit is My bloed,” kom Jesus se skokkende woorde. Judas verstik amper in die wyn: “Wat is ek besig om te doen?” skree dit deur sy liggaam. “Dis nou te laat!” dink hy verbitterd. “Daar is nie meer omdraaikans nie! Wat moet gebeur, móét gebeur!”

Vaagweg hoor Judas Jesus se woorde voortgaan, oor Sy bloed wat vergiet word en die verbond wat beseël word en dat Sy bloed vir baie mense vergiet word, maar hy wil sy ore toedruk. Hy wil nie meer hoor nie. Hierdie is nie die Messias wat hy verwag het nie! Hy wil ’n Messias hê wat sal opstaan teen die Romeine! Hy wil ’n Messias hê wat sterk is en die volk na oorwinning sal lei. Hy het nou net mooi genoeg gehoor van sterwe en ly en nederigheid. “Verskoon my,” mompel Judas as hy opstaan en die vertrek uitstap. Alle oë is op hom gerig, maar niemand durf ’n woord sê nie.

Vir die manne het daardie Paasmaaltyd begin as maar net nóg ’n Paasmaal. Maar dit het ontaard in een wat nie een van hulle óóit kon vergeet nie. Ja, selfs vandag nog is dit vir gelowiges regoor die wêreld een van die mees dramatiese en heilige oomblikke om daardie maaltyd van Jesus saam met Sy dissipels te kan herdenk. Om die brood te kan proe en dit in jou mond rond te rol, sien jy in jou geestesoog hoe ons Verlosser stukkend geslaan is; hoe Hy wreed mishandel is; hoe Hy gespot is; daardie kroon gevleg van doringtakke wat in Sy kopvel ingedruk is sodat die bloed oor Sy gesig stroom. Dit voel vir my of die brood nooit klaar kan raak nie, en ek sluk swaar daaraan. Maar hoe swaar het Jesus gesluk?! Die sweepslae, hoe het Hy gekrul van pyn! En die spykers, groot, aaklige spykers wat wreed deur Sy hande en voete gekap is en Sy vleis geskeur het.......

En wanneer ek die wyn drink, het dit ’n bitter-soet smaak, want dan sien ek in my gedagtes hoe my Heiland se bloed gestort is. Vir my, ellendige mens! Hoe swaar moes Hy nie drink aan daardie beker nie.........

Gebed:

Here, laat my nooit vergeet wat U alles moes deurmaak om te betaal vir my sondes nie…...

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026