Matteus 26:17-25
Paasfees het aangebreek. Vir Johannes is hierdie altyd die hoogtepunt op sy kalender. Natuurlik val dit ook saam met die fees van die ongesuurde brood. Van babatyd neem Johannes elke jaar deel aan hierdie weeklange fees wat hulle herinner aan die haas waarmee die Israeliete uit Egipte moes trek, toe daar nie eers tyd was om die brood met suurdeeg te laat rys nie. Dit begin altyd met die paaslam wat op die eerste dag van die fees geslag word. Sy bloed word oor die altaar uitgegooi. Daarna word die lam gebraai en dieselfde aand by die paasmaaltyd geëet. Die paaslam is die simbool van God se vergifnis.
Maar hiérdie paasfees is vir Johannes anders. Hy sien gladnie daarna uit nie, en dit maak hom depressief! Jesus het só reguit vir hulle gesê dat Sy tyd naby is. Hy sou binnekort aan die kruis sterf, al spel Hy dit nie pertinent vir hulle dit so uit nie. Met hierdie aankondiging verbind Hy die paasfees met Sy dood. Hy gaan dus die Paaslam wees wat geslag gaan word vir die sondes van die wêreld! Johannes krimp inmekaar by die blote gedagte hieraan.
Daadie aand sit-lê Johannes rustig om die tafel saam met sy maats. En dan los Jesus die bom: “Een van julle gaan my verraai.” Johannes voel die koue rillings deur hom trek. Hy is spierwit geskrik. Niemand het enigiets vermoed nie!
Jesus het hulle so onkant gevang, dat elkeen begin wonder het of dit nie dalk hyself is wat hierdie verskriklike daad sou pleeg nie. Selfs Johannes vra onthuts vir Jesus: “Is dit dalk ek, Here?” Hy het die afgelope dae dalk ‘n baie brawe gesig opgesit, maar diep binne-in hom vreet die onsekerheid oor Jesus, sy Meester, sy Mentor se naderende dood. Wat gaan van hom, hulle word? En nou dít!
“Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai…..”.
“Maar elkeen van ons sit sy hand op die een of ander stadium saam met Jesus in die skottel! Is dit nie dalk tóg ek nie?” Johannes skud sy kop. Nee, nee, nee! Hy merk dat die ander manne almal vir Jesus aanspreek as “Here.” Almal bely dus dat Hy die Seun van God is. Wanneer Judas egter doodonskuldig ook die vraag vra, of dit nie dalk hy is nie, dan spreek hy Jesus nie aan as “Here” nie, maar “Rabbi,” wat beteken “Meneer” of “Leermeester.” Dit is dieselfde aanspreekvorm wat Jesus se teenstanders gebruik het vir Hom. Judas se vraag kom koel en afsydig, want hy wéét dat hy skuldig is! Jesus se rustige antwoord, sonder enige haat of verwyt, is bloot: “Dit is soos jy sê.” Nou weet almal. Johannes voel siek!
Vandag moet ons nie die fyner nuanses miskyk nie. Die blote feit dat die ander dissipels ook die vraag vra, wys net weereens dat hulle ook maar mense is met ‘n skuldige gewete. Indirek kan elkeen van ons dus ook daardie vraag vra. Is daar nie dalk by my verraad van Jesus of Sy saak teenwoordig nie? Niemand is outomaties van afval gevrywaar nie. Jesus het Judas sag geantwoord, en alhoewel hy toe reeds ‘n besluit geneem het, was daar steeds vir hom omdraaikans - tot op die héél laaste! Judas het egter besluit om nie om te draai nie.
Dalk kan ons vandag redeneer dat die arme Judas die afgryslike verraad gepleeg het omdat God dit so beplan het. En dat hy daardeur verlore gegaan het! Maar Petrus het feitlik net so ‘n slegte ding gedoen met sy verloëning van Jesus. Maar hy het om vergifnis gevra. En dit gekry! Hy het gaan regmaak waar hy verbrou het. Judas het dieselfde geleentheid gehad, maar hy het dit sélf weggesmyt. Ja, hy het berou gehad, maar hy het nie God se vergifnis gesoek nie.
Wat het Judas soveel anders gemaak as die ander dissipels? Almal van hulle was in die geloof “swakkelinge.” Later daardie selfde aand nog sou ons sien hoedat hulle slaap wanneer Jesus hulle bystand bitter nodig het. Ons sien dat hulle weghardloop wanneer hulle Here in hegtenis geneem word. Ons moet hoor dat hulle totaal ontken dat hulle Hom ooit geken het, en dít in Sy grootste uur van nood. Hulle is onseker en bitter bang vir dít wat vir hulle voorlê. Nogtans, ten spyte van al hierdie dinge, noem hulle Hom steeds “Here”, want hulle volle vertroue, hoe wankelrig ookal, is in Hom. Judas, aan die anderkant, ondervind hierdie selfde onsekerhede en vrese, maar hy besluit dat hy sy vertroue in Jesus onttrek. Jesus is vir hom nie meer die “Here” wat hy aanvanklik gedink het Hy is nie, en hy verkoop Jesus uit aan die vyand.
Daar kom ‘n tyd in elke Christen-gelowige se lewe waar onsekerheid, vrees en selfs blatante lafhartigheid jou vasgryp. Dit is baie, baie belangrik dat jy dan steeds na Jesus kyk as die enigste Here, al lyk dit of die einde van die wêreld aangebreek het. As jy vandag in daardie situasie is, en soos Judas besluit het dat Jesus nie meer Here van jou lewe is nie, dan is daar selfs nóú nog vir jou omdraaikans! Jesus se hand van liefde is uitgestrek na jou. Gryp dit aan met al jou mag!
Gebed:
Here, waar daar dikwels storms in my lewe woed, en waar onsekerheid en angs dreig om my te verswelg, hou asseblief my hand styf vas, en hou my oog gevestig op U alleen, want U is my Here en my God. Op U alleen vertrou ek!