Handelinge 17:1-9
Die arme Paulus moes seker dikwels uiters gefrustreerd gevoel het as hy so keer op keer verhinder word om sy werk te doen. Ek vat van myself, hoe gefrustreerd ek soms voel. My ou rekenaar wil nie altyd lekker saamwerk nie. Ek moes maar tevrede wees met die héél goedkoopste, stadige tweedehandse model want beter kan ek nie bekostig nie. My grootste frustrasie is egter ons internetverbinding wat dikwels pynlik stadig of selfs skoonveld weg is! Hiermee moet ek elke dag die dagstukkies skryf en aan duisende mense stuur en boonop die gemeente en sinode se kommunikasie ook behartig. Dit kan soms bitter frustrerend wees! Gelukkig kan ek darem soms die gemeente se rekenaar gebruik.
Paulus, Silas en Timoteus het afskeid geneem van hulle dierbare vriende in Filippi. Al was hulle geslaan en in die tronk in blokke vasgeketting, hou hulle tóg mooi herinneringe oor van hierdie stad se gelowiges. Hulle volgende bestemming is Tessalonika, die hoofstad van Masedonië.
Paulus volg sy gewone roetine en begin op die Sabbat in die sinagoge te preek vir die Jode. So hou hy vir drie weke aan. Hy bewys vir hulle uit die Ou Testament dat Jesus die Christus, die Messias is. Paulus was ‘n uitmuntende prediker en etlike Jode kom tot inkeer deur sy preke. Die grootste oes het gekom uit die geledere van die “Godvresendes,” Grieke wat die Joodse geloof aangeneem het.
En dis juis ook hiér waar die probleme begin het want die Joodse godsdiensleiers was jaloers op Paulus se groot sukses as prediker.
Dis tóg interessant dat Lukas praat van ‘n groot aantal vooraanstaande vroue wat ook die Christelike geloof aangeneem het. In die antieke wêreld het vroue slegs ‘n baie ondergeskikte rol gespeel, veral in die Joodse gemeenskap. Hulle was nie eers toegelaat om die wet van Moses saam met die mans te bestudeer nie! In die Grieks-Romeinse wêreld was dit egter anders en vroue het op godsdiensvlak heelwat meer regte gehad. Daar is selfs gevalle bekend waar vroue leidende posisies in sinagoges gehad het in Klein-Asië. Dit was waarskynlik welgestelde vroue wat hierdie sinagoges geldelik gedra het en dan in ruil daarvoor die een of ander ereposisie gekry het. Dis sulke “vroue met invloed” waarvan Lukas hier skryf, wat ook gelowig geword het.
Die Joodse leiers het hulle mes ingehad vir Paulus en sy metgeselle en sommer gou-gou het hulle met die hulp van ‘n klomp leeglêers ‘n betoginkie gereël. Ek is séker daarvan dat die manne elkeen ‘n paar munte in die hand gestop was om groot lawaai te maak! Op hierdie lawaaierige noot trek hulle op na die huis van ‘n man met die naam Jason, die Griekse weergawe van Josua. Paulus-hulle het by hom tuisgegaan, maar toe die klomp daar aankom was die Paulus-geselskap elders. Toe gryp hulle maar vir Jason en sleep hóm na die stadsbestuur toe. Normaalweg het Romeinse stede twee magistrate gehad wat die stad bestuur het. Tessalonika was egter anders - hierdie stad het nie minder nie as vyf of ses munisipale hoofde gehad.
Soos dit al by soveel vorige geleenthede gebeur het, het die Jode weereens ‘n klomp misleidende aantygings gemaak om die Gelowiges in ‘n slegte lig te probeer stel. Hulle eerste klag was dat hierdie mense die hele wêreld in beroering sou bring! Hoe ironies! Hier kom die klomp met ‘n betoging en hulle beskuldig vir Paulus-hulle van oproer …..
Hulle tweede klag het ‘n sterk politieke kleur: Paulus en sy geselskap handel in stryd met die keiser se wette deur te sê dat daar ‘n ander koning is, een met die Naam Jesus! Die Christene word skielik hier voorgehou as ‘n rewolusionêre politieke groep wat die goeie orde van die Romeinse Ryk bedreig! Dit impliseer natuurlik dat Christene gladnie lojaal sou wees aan wêrelse owerhede nie. Natuurlik is hierdie ‘n totale verdraaiing van die hele wese van die Christelike geloof!
Jason moes mooi verduidelik en nadat die stadsbestuur hom aangehoor het, gooi hulle die saak uit die hof. Die gelowiges was totaal onskuldig aan hierdie misleidende aanklagte!
Wat behoort ons standpunt te wees wanneer dit by hierdie soort dinge kom? Om in die eerste plek ‘n “beroering” te veroorsaak wanneer dinge nie loop soos wat ons dit graag wil hê nie, is beslis nie die antwoord nie. Dit werk net eenvoudig nie! Nét so min werk dit om ‘n regering te verwerp omdat hy nie Christelike beginsels navolg nie. Jesus het sélf gesê: “Gee aan die keiser wat die keiser toekom.....!” Dit het Hy terloops gesê van ‘n totaal goddelose Romeinse regering! Wees lojaal aan die regering van die land, al stem jy nie saam met sy beleid nie. Daar is gewoonlik ‘n wettige manier om selfs wette wat jou verhinder om jou geloof ten volle uit te leef, te omseil. Maar as die wet die dag loodreg teenoor jou geloof staan en jy ‘n keuse moet maak tussen die landswet en God, dan durf géén gelowige ‘n ander uitweg kies as om vir God te kies nie.
Daniël en sy vriende moes destyds so ‘n keuse maak en hulle het die onverskrokke voorbeeld gestel van hoe dit gedoen behoort te word. Duisende Christene het later in hulle voetspore gevolg en baie het met hulle lewens geboet. Één ding kon die bose egter nóóit van hulle wegneem nie: die wonderlike ewige lewe saam met God in die hemel!
Gebed:
Here, hou my asseblief altyd gehoorsaam aan U alleen, al dreig die vyand my!