Die Oes is Ryp

31 October, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Oes is Ryp

Rut 2:1-2

Toe Naomi en haar skoondogter naby Betlehem aangestap kom, het haar hart vinniger geklop, sommer so ‘n bokspring gegee. Nee, dit was nie omdat sy uiteindelik weer by die huis was nie, maar wat sy daar in die veld gesien het, het haar baie opgewonde gemaak.

Daardie aand langs Jerigo se omgevalle mure, het sy hard gebid vir leiding van die Here. Toe sy vir Rut vertel het van Ragab, het daar skielik ‘n gedagte by haar begin posvat. Daardie seun van Ragab, Boas – as sy net iets met hom uitgewerk kan kry. Hy is dalk nét miskien die antwoord op al hulle probleme. As hy nou net nie intussen weer gaan staan en trou het nie!

En toe hulle naby Betlehem kom, sien Naomi skielik die landerye. Die oeste het ryp gestaan, en die boere het so pas begin om die oes af te haal. Dit sou beteken dat daar vir haar en Rut die vooruitsig van kos op die tafel is. Die wet sê mos dat die manne wat oes, nie die are wat val mag optel nie. Dit moet daar laat lê word vir die weduwees en armes om te kom optel, sodat hulle ook op hierdie manier kan deel in die oes. Daar is sommer klaar ‘n huppel in Naomi se stap, en sy glimlag vir Rut. “Die Here het vir ons voorsien!”

Rut verstaan nie baie mooi waaroor Naomi se opgewondenheid skielik gaan nie, en dan moet sy verduidelik van die voorskrifte wat Moses destyds gemaak het, sodat die weduwees kon oorleef. “Beteken dit dan dat ek vir ons kan gaan are optel sodat ons kos in die huis kan hê?” Rut het nooit eers gedink daaraan dat hulle iets sal moet doen om te oorleef nie.

Naomi se huisie wat sy agtergelaat het toe sy en Elimeleg destyds Moab toe is, staan steeds vir haar en wag, en sy en Rut trek in. Natuurlik is die bure baie bly om weer vir Naomi daar te hê, en aan hulle gasvryheid is daar géén tekort nie. Almal kom help om hulle huis weer leefbaar te kry, en van oral dra mense kos aan.

Vir ‘n week of twee gaan alles baie goed, maar dan begin die kosvoorraad opdroog. Naomi besef maar al te goed dat hulle vinnig sal moet planmaak, anders gaan hulle twee beslis nie oorleef nie. Rut bied aan om are te gaan optel in die lande waar hulle besig is om te oes, maar Naomi is bang dat sy weggewys sal word omdat sy ‘n Moabiet is. Alhoewel almal baie innemend is teenoor Naomi, staan hulle maar bitter afsydig teenoor Rut, hulle kan haar maar net nie aanvaar nie.

Kan ek gaan are optel, asseblief Ma?” pleit Rut een aand by haar skoonma, toe daar nog net ‘n klein handjievol meel oorgebly het. Half teësinnig stem sy uiteindelik in. Sy ken haar volkie, en sy weet maar ál te goed dat hulle nie vreemdelinge duld nie. Maar dalk is daar iewers iemand met ‘n sagte hart.

Baie vroeg die volgende môre is Rut op. Sy is opgewonde, want sy het uitgevind dat sy ook haar deeltjie kan doen om hulle twee te laat oorleef. Met ‘n huppel in haar stappie en ‘n lied in die hart draf-stap sy hoopvol uit Betlehem na die landerye. Daar tref sy die werkers al klaar aan, besig met hulle sekels om die geil gerwe graan af te sny. Haar oog vang die enkele are wat per ongeluk op die grond val, en dan sien sy dat dit presies ook net so is soos wat haar skoonma haar vertel het. Die manne buk nie om die verlore graan op te tel nie, dit word net so laat lê.

Gretig stap sy nader, maar dan tref die antagonisme van die Jode haar. Die manne maak allerhande ongemaklike aanmerkings oor haar, en die vrouens wat agter die snyers aanloop om are op te tel, is haar baie vyandiggesind. “Wat soek jy hier?” wil hulle weet. “Hier is nie plek vir heidene nie!”

Rut wil nog probeer verduidelik dat sy ook nou die God van Israel aanbid, maar hulle wil nie eers luister nie. Dit staan lewensgroot oor haar geskryf: “Hierdie is ‘n Moabiet!”

Rut is in trane wanneer sy laatmiddag by Naomi aankom, sonder ‘n enkele graankorreltjie om te wys vir haar dag se werk. By hóéveel landerye was sy aan, maar by elke plek is dit presies dieselfde storie. ‘n Moabiet is hier beslis nie welkom nie! Rut en Naomi is moedeloos!

Hoe lyk ons gasvryheid? “Maar natúúrlik is ek gasvry!” Ons gasvryheid strek egter gewoonlik so ver as ons familie en vriende, of dalk selfs ‘n vreemdeling, solank hy darem nie te veel van my verskil nie. As iemand egter anders as ek is, dan raak ek baie kriewelrig!

Wie is almal welkom in my kerk? As ‘n boemelaar daar instap met klere wat lanklaas seep en water gesien het, word hy dikwels baie gou die deur gewys! Dan is ons beslis nie gasvry nie!

Jesus het niemand verwerp nie, nie eers die gehate Samaritane en tollenaars nie. Hy verwag dieselfde van jou en my. Ware gasvryheid is een van die moeilikste maniere om ware liefde uit te leef.

Gebed:

Here, ek staan diep skuldig voor U, want so dikwels is ek liefdeloos en leef ek nie ware gasvryheid uit nie. Maak my waarlik gasvry asseblief.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026