Die Oes is Groot

12 June, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Oes is Groot

Matteus 9:35-38

VIDEO | OUDIO

Die Vrystaat kan ‘n genadelose plek wees waar daar sommer op ‘n dag ‘n stofstorm opsteek, en dan sien jy hierdie bank van verskrikking aangerol kom wat alles in sy pad verswelg. As die stofbank oor jou toemaak, raak dit donker en die verstikkende stof beroof jou van jou asem. In ons grasdakhuisie voel dit amper asof dit reën, soos die stofkorreltjies stadig deur die dekgras sif en alles in die huis toestrooi in ‘n lagie van rooi mynsand. Genadiglik gaan die stofstorm ook verby na ‘n paar dae. Dan volg die versengende, skroeiende hitte van die somer. Die kurkdroë lug brand jou longe en die reën bly dikwels weg.

Maar die grond is vrugbaar, en as die reën net betyds kom, gee die rooi grond in oorvloed en die lande lewer ‘n milde oes op. Daardie spesifieke jaar het die reën op presies die regte tyd gekom en boonop was dit genoeg. Nou staan die lande hoogswanger met goue koringare wat uit hulle nate wil bars. Die verhoog is gereed, en die afwagting en spanning kan jy aanvoel in die lug.

Dan, een oggend vroeg dreun die swaar masjiene in ‘n dik stofwolk in die plaaspad af. Vooraan die stoet is ‘n reuse groen monster met ’n lang ry tande. In sy stofstreep volg nog ‘n vyftal stropers en vragmotors. My hart mis ‘n slag! Dis oestyd! Ek is oorstelp van opgewondenheid!

Vir die volgende paar dae dreun die stropers op en af deur die landerye. ‘n Dik stroom goue koringkorrels spuit in die vragmotors se wagtende bakke in, totdat hulle oorlaai en kreunend wegry met hulle kosbare vragte. Uiteindelik bly net die stoppels oor op die kaalgestroopte landerye. ‘n Doodse stilte sak toe oor die plaas. Die windjie suis ysig en weemoedig oor die geraamtes in die koringland. Maar in my hart is daar ‘n warmte want die oes is ingesamel!

En die oes wás groot!

Jesus se preke het reuse skares mense gelok. Die mense het mekaar vertrap om net naby Hom te kom. Jesus het die mense bitter jammer gekry (Mat. 9:36) en Hy het gesien dat die oes baie groot gaan wees. Om egter ‘n oes in te samel, is die werk van baie mense. Daar is arbeiders nodig wat bereid is om die harde werk in die wind en weer en son te doen. Om te oes is nie maklike werk nie, maar die bevrediging wat dit gee is onmeetbaar groot. Met ‘n geestelike oes is dit nog véél groter, en baie gou is jou harde arbeid totaal vergete wanneer jy die vreugde geniet van ‘n suksesvolle oes.

Vir ‘n tyd lank het Sy twaalf leerlinge nou al dag-vir-dag gesien wat Jesus doen, en gehoor wat Hy sê. Die tyd het egter nou aangebreek dat hulle prakties gaan toepas wat hulle geleer het. Maar Jesus stuur hulle nie met leë hande in die veld in nie. Hy rus hulle behóórlik toe. Hierdie is steeds net ‘n leerskool maar later, ná Jesus se hemelvaart sou hierdie selfde manne die bal aan die rol moes sit om die Evangelie deur die hele wêreld te versprei.

Ek en jy is ook deel van Jesus se span van “landbouers”. Sommige van ons word nog opgelei, en ons moet tevrede wees om maar bossies uit te trek of water te gee. Ander weer bestuur daardie groot masjiene wat tonne en tonne siele oes. Aan sommige van ons word slegs ‘n ou klein landjie toevertrou wat ons moet vertroetel totdat dit gereed is vir die oes. Sommige het selfs net een enkele ou mielieplantjie om op te pas! Dan is daar diegene wat ‘n reuse land gekry het om te bestuur, waar die oes reusagtig groot is, en die verantwoordelikheid nog báie groter. Dis egter baie belangrik om te weet dat elke werker, hoe klein of groot sy verantwoordelikheid is, presies ewe belangrik is in die span! Die een wat tee aandra is presies nét so belangrik as die prediker!

Die vraag is vanoggend: is jy al deel van daardie span? Doen jy jou deel om die oes vir Jesus in te samel? Net soos wat daar op ‘n plaas verskeie werkers is en elkeen sy eie taak het, so is daar in Jesus se oesland ook ‘n verskeidenheid van werkers. Op ‘n plaas is daar maar net ‘n paar wat die reuse stropers bestuur. Die ander moet voertuie onderhou, onkruid uitkap, ploeg, bemesting gee, natlei, of selfs vir die boer koffie aandra! Nét so is elkeen in Jesus se oesland nie predikante, pastore en sendelinge nie, maar elkeen het sy nis waar hy meewerk om die groot oes in te samel. As jy nie deel van daardie span is nie, en jy verkies om niks te doen nie, is daar ‘n leemte in die span. Dan kan dit nie behoorlik funksioneer nie. Vind uit waar jou plekkie in Jesus se span is, en gaan sit skouer aan die wiel. As dit moet beteken dat jy opleiding van die een of ander aard moet ontvang, dan beter jy dit doen. Jesus het gesê: “Die oes is groot maar die arbeiders min.” (Mat 9:37). Is die arbeiders dalk min omdat jóú plekkie steeds leeg is?

Gebed:

Here, die oes op die lande is baie groot. Gee my asseblief die passie in my hart en die ywer om te werk om U groot oes te help insamel!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026