Openbaring 21:9-22:5
Nadat Johannes die stem van God gehoor het, neem ‘n engel hom na ‘n hoë berg, en wys hom die nuwe stad, Jerusalem, waarvan ons gister gelees het. Dit is ‘n asemrowende gesig, en Johannes beskryf in fyn detail wat hy sien, want alles is te wonderlik. Die beelde wat hy gebruik is natuurlik weereens propvol simboliek en beeldspraak om sekere waarhede by ons tuis te bring.
Johannes vertel dat die hele stad glinster soos ‘n kristalhelder opaal, ‘n edelsteen wat altyd met God geassosiëer word. Dit beklemtoon bloot dat die stad vol is van God se teenwoordigheid en heerlikheid. Sy heerlikheid is stralend en glinsterend. Die hoë muur met twaalf poorte benadruk die feit dat daar voldoende toegang is vir al die navolgers van die Lam, terwyl die muur terselfdertyd dien as ‘n skeiding tussen die gelowiges binne en die ongelowiges buite die stad. Daarom word die toegange bewaak om slegs die gelowiges toe te laat. Ons sien dat die name van die twaalf stamme van die volk Israel op die poorte geskryf is, en die name van die twaalf apostels op die fondamente. Die simbool hiervan is dat die Ou-Testamentiese sowel as die Nuwe-Testamentiese geloofsvolk van God deel het aan die stad.
Die stad word nou deur ‘n engel gemeet met ‘n goue meetstok. Hiermee wil die engel sê dat hierdie God se eiendom is wat blyplek gee aan almal wat daar hoort. Die stad is in die vorm van ‘n kubus - ‘n ontsaglike groot kubus van 12’000x12’000x12’000 kilometer. Weereens is hier simboliek by betrokke. Die allerheiligste in die tempel was in die vorm van ‘n kubus, en hierdie beklemtoon eenvoudig dat God se teenwoordigheid die ganse stad vul.
Die muur van 144m hoog dui op God se volledige beskerming aan al die inwoners van die stad. Die muur is van opaal, wat weereens die goddelikheid daarvan, of eerder God se teenwoordigheid daarin beklemtoon. Die fondamente van die muur is met twaalf edelstene versier, wat herinner aan die twaalf edelstene aan die borssak van die hoëpriester. Die twaalf poorte in die stadsmuur is elk uit een enkele pêrel gekerf.
Die stad self is van suiwer goud, en so ook die strate. Nie alleen is dit onbeskryflik waardevol nie, maar het ook ewigheidswaarde. As ons nou na ‘n geheelprentjie kyk van die goue stad en die waardevolle edelstene, en hoe dit aan priesterlike dinge herinner, dan moet ons tot die gevolgtrekking kom dat die ganse stad, net soos ‘n priester, in diens van God staan. Die hele stad is ‘n tempel omdat God en die Lam daar teenwoordig is, en daarom word daar ook pertinent genoem dat daar gladnie ‘n tempelgebou in die stad is nie, want dit is nou totaal oorbodig!
Nog ‘n wonderlike aspek van hierdie stad is dat die natuurlike lig van die son en maan totaal oorbodig is, want die heerlikheid van God verlig die stad. Die glansryke heerlikheid van die Goddelike teenwoordigheid dien as ligbron om in te leef. Daar is dus ook gladnie meer ‘n onderskeid tussen dag en nag nie. Om die waarheid te sê, bestaan daar nou gladnie meer so ‘n ding soos nag nie!
Die stadspoorte word nooit meer gesluit nie - dit staan heeldag lank oop omdat die bose mos nou reeds vernietig is. Boonop het slegs gelowiges burgerskap in hierdie stad. Dit het hulle natuurlik gekry op grond van die offer van die Lam.
Nadat Johannes hom verkyk het aan hierdie wonderlike stad, wys die engel hom ‘n ander wonderwerk: die rivier met die water van die lewe. Hierdie rivier stroom kristalhelder uit die troon van God en die Lam. Dit is simbolies van God wat die lewe, die éwige lewe gee. Tussen hierdie wonderlike rivier en die hoofstraat staan daar ‘n boom - die boom van die lewe. Hierdie boom dra heel jaar deur vrugte, twaalf keer per jaar. Jy onthou seker nog die boom van lewe in die Paradys? Dit was beskryf heel aan die begin van die Bybel, aan die begin van die mens se geskiedenis. En nou sluit hierdie verhaal van God se liefde vir die mens af met ‘n soortgelyke boom. Nou is die paradys dus herstel, en die totale vrede wat daar in die tuin van Eden moes heers, dié kan uiteindelik nou in vervulling gaan. Liggaamlike en geestelike siektes bestaan nie meer nie, en daar is ‘n totale afwesigheid van sonde. Selfs die son en maan is nou onnodig, want God se heerlikheid verlig alles en almal. In volmaakte saamwees met God, regeer die triomferende gelowiges nou vir ewig in ‘n wonderlike en volmaakte gemeenskap met God en die Lam.
Is hierdie nie ‘n wonderlike ding om na uit te sien nie? Hierdie beskrywing wat Johannes gee is genoeg om enige gelowige opgewonde te maak, en met groot verwagting te laat uitsien na die eindtyd.
Gebed:
Here Jesus, ek sien so uit na die volmaakte lewe saam met U. Gee my asseblief die krag om hierdie lewe op aarde voluit te leef vir U. En wanneer ek pyn en smart beleef - versterk dan die wete in my dat dit net tydelik is, en dat die volmaakte op my wag.