Handelinge 23:12-35
Drama, drama! Paulus se “verhoor” voor die Joodse Raad eindig in ‘n totale wanorde, waar die Fariseërs en Sadduseërs mekaar aan die keel wil gryp. Kommandant Klaudius Lisias moet haastig spring om Paulus te red en daarna plaas hy hom weer in aanhouding.
Nou is die Jode woedend! Hulle is lelik uitoorlê en hulle soek Paulus se bloed! Omdat Paulus ‘n Romeinse burger is, kan hulle hom egter niks aandoen nie. As hulle hom nie wettig in die hande kan kry nie, sal hulle maar ‘n ander plan moet maak. ‘n Groep van sowat veertig Selote konkel dus saam om vir goed van Paulus ontslae te raak. Die Selote was ‘n fanatiese faksie van die Jode wat geglo het dat die Joodse tradisies ten alle koste gehandhaaf moes word. Paulus was vir hulle ‘n ernstige bedreiging, en hulle was bereid om die vloek van God oor hulleself te bring as hulle nie vir Paulus om die lewe kon bring nie. Om dit te beklemtoon sweer hulle dat hulle niks sou eet of drink voordat hulle grusame taak afgehandel was nie.
Met hulle makabere voorstel gaan hulle na die Joodse Raad, wat natuurlik ronddans van vreugde. Hierdie slinkse manne sou voorgee dat hulle Paulus weer wou ondervra, en dan sou die Selote hom op pad daarheen voorlê en vermoor.
Maar hulle het nie met God rekening gehou nie: Paulus het ‘n suster gehad wat in Jerusalem gewoon het. Haar seun kom te hore van die komplot, en hy gaan vertel vir Oom Paulus. Dié stuur die seun toe na Klaudius om vir hom die nuus mee te deel, en die kommandant moet baie vinnig ‘n plan beraam. Deur die eeue het ons nou al geleer dat jy die Jode nooit moet onderskat nie. Kyk nou maar hoe het Gideon met ‘n ou klein handjievol soldate die ganse weermag van die vyand verslaan. Soortgelyke voorbeelde is vandag nog steeds aan die orde van die dag. Klaudius het hierdie feit maar té deeglik besef, en hy maak dood-dood seker dat Paulus se veiligheid gewaarborg word. Hy laat roep sy kapteins en beveel dat Paulus onder streng bewaking en onder die grootste geheimhouding na die Goewerneur, Feliks geneem moet word. ‘n Afdeling van 470 swaargewapende soldate en perderuiters, bykans die helfte van die Romeinse weermag in Jerusalem word opgekommandeer. In die middel van die nag vertrek die konvooi na Sesarea, sowat ‘n honderd kilometer noord van Jerusalem.
Klaudius skryf ‘n brief aan Goewerneur Feliks waarin hy verduidelik waarom hy Paulus na hom toe stuur, asook oor die omstandighede van sy gevangeneming. Hy stel dit duidelik dat Paulus niks gedoen het om die doodstraf of selfs tronkstraf te verdien nie, maar dat hy slegs die een of ander van die Joodse godsdienstige wette oortree het. Hy bly egter doodstil van die feit dat hyself so byna-byna vir Paulus laat gésel het omdat hy nie bewus was van die feit dat hy ‘n Romeinse burger is nie.
Dwarsdeur die nag het die geheimsinnige konvooi gereis tot by die halfpadmerk in Antipatris. Daar keer die helfte van die soldate terug, en die res begelei Paulus tot by Feliks in die hawestad Sesarea.
Antonius Feliks het die pos beklee van Romeinse Goewerneur. Hierdie man was eens op ‘n tyd ‘n slaaf. Na sy bevryding het hy ‘n fenominale opgang gemaak, hoofsaaklik te danke aan sy broer, Pallas, wat te doene gehad het met Keiser Klaudius se huishouding. Van slaaf tot goewerneur - dit wil gedoen word! Maar Feliks het baie beslis nie om dieselfde vuur gesit as die Jode nie, en daar was gedurigdeur konflik, veral omdat die Jode hulle al hoe meer verset het teen die Romeinse regering.
Wanneer Paulus veilig aan Feliks oorgelewer word, oorhandig die bevelvoerder die brief aan hom. “Waar kom jy vandaan?” wil Feliks van Paulus weet. Volgens Romeinse reg moet ‘n misdadiger verhoor word waar hy die oortreding begaan. Die alternatief is dat hy verhoor word in sy plek van herkoms. Paulus kom natuurlik uit Tarsus, wat ‘n sogenaamde “vry stad” was wat nie aan die gesag van Romeinse provinsiale owerhede onderworpe was nie. Dus besluit Feliks dat hy maar sélf die verhoor sou behartig. Paulus se aanklaers, die manne van die Joodse Raad, sou maar die lang pad van Jerusalem af moet vat vir die verhoor in Sesarea.
En Paulus? Hy is ‘n tree nader aan Rome, sy groot ideaal!
As ons hierdie opwindende verhaal lees, dan kan jy maar net weereens onder die diepe besef kom van God se wonderlike voorsiening. Sy plan vir Paulus is nog baie ver van klaar af, en selfs die mees fanatiese Joodse faksie sit magteloos wanneer hulle te doene kry met die Almagtige God. En boonop sit hulle met ‘n reuse dilemma oor die eed wat hulle gesweer het! Hy gebruik selfs heidense goewerneurs, kommandante en soldate om Sy kind te bewaar sodat Sy groot raadsplan ten uitvoer gebring kan word.
God het ook ‘n plan met jóú lewe, en net soos wat die duiwel alles in sy vermoë probeer het om ‘n stok in Paulus se speke te steek, so probeer hy dit met jou en my doen. Soos Paulus, moet ons egter ál ons vertroue op Hom alleen plaas, want Hy is almagtig, en baie groter, selfs as die duiwel homself.
Gebed:
Here, ek aanbid U vanoggend as die Almagtige, want aan U behoort alle mag in die hemel en op aarde.