Matt, 26:26-30 & Lukas 22:1-13
Dit is al donker as die Meester by die bovertrek opdaag. Die twaalf manne gaan sit saam met Hom om die tafel. Eintlik sit hulle nie, hulle lê nadat almal se voete gewas is soos gebruiklik.
Die Paasmaaltyd word in stilte genuttig. Jesus neem die leiding en verduidelik vir die manne die betekenis van die lam en die bitter kruie, soos wat die tradisie is. Petrus luister al lankal nie meer nie, want hy het dit al talle male gehoor vandat hy 'n baba was. Hy ken die woorde uit sy kop.
“Ek het baie uitgesien na hierdie Paasmaaltyd saam met julle,” sê Jesus, “want hierdie is My héél laaste Paasmaal wat Ek sal eet saam met julle voordat Ek gaan ly. Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die Koninkryk van God volle betekenis gekry het nie.”
Skielik is Petrus se volle aandag nou by Jesus en hy wil sommer weer aan die grens gaan as hy sy geliefde Meester so hoor praat. Maar hy sal by Jesus staan deur dik en dun! Die Fariseërs en kerkleiers moenie dink dat hulle sommer iets aan sy Meester kan doen sonder om eers by hierdie “Rots” verby te kom nie. Hy het g'n bang haar op sy kop nie! Die Meester is verniet beangs.......
Petrus val amper van sy kussing af as die Meester skielik 'n bom los: “Een van julle gaan My verraai.”
“Meester, maar dis tog seker nie moontlik nie! Wie is dit?”
“Dis tog sékerlik nie ék nie, Meester?” vra iemand.
“Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My gaan verraai.”
“Is dit miskien ék, Rabbi?” vra Judas Iskariot.
“Dit is soos jy sê!” Verdoemende woorde!
“Hoe kón jy!?” stoom dit in Petrus, maar hy is te geskok om die woorde te uiter. Die manne staar na 'n doodsbleek Judas wat opspring en uit die vertrek hardloop die nag in.
Die Meester lyk verslae. Met bewende stem vra Hy die seën. Dan tel Hy weer 'n broodjie op en begin dit in stukkies breek. Petrus wil nog wonder wat nou aan die gang is, want die maaltyd is dan mos verby. Dan hoor Hy die Meester praat terwyl Hy die stukke vir die manne aangee: “Neem, eet; dit is My liggaam.”
Petrus voel hoe hy yskoud word. Beteken dit dan nou werklik dat hulle vir Jesus gaan vang en Hom doodmaak? Alles voel so verskriklik onwerklik. Hy wens so dat hulle nóóit na Jerusalem toe gekom het nie. Dit was van die begin af 'n gróót fout, 'n ramp!
Dan neem Jesus die wynbeker en terwyl Hy dit in die lug hou, doen Hy 'n dankgebed. Wanneer Hy Amen sê, gee Hy die beker vir Petrus aan. “Julle moet almal hieruit drink,” sê Hy, “want dit is My bloed.” Terwyl die manne die beker omgee en elkeen 'n slukkie neem, verduidelik Jesus: “Hierdie is die bloed waardeur die verbond beseël word. Dit word vir baie vergiet om hulle sondes te vergewe.”
Petrus verstaan, soos gewoonlik, nou gladnie waaroor dit gaan nie. Al wat hy weet is dat dit alles niks goed voorspel nie!
Hulle sing die gebruiklike lofsang, maar in Petrus se hart is daar géén lof nie. En dan staan hulle op en loop in stilte na hulle slaapplek in die tuin van Getsemane.
“Julle gaan My almal vannag in die steek laat,” verbreek die Meester die stilte.
“Nóóit, Meester!” protesteer Petrus, “ek wat Petrus is sal U nooit as te nimmer in die steek laat nie! As die ander U dalk sou verlaat, ek sal dit nóóit doen nie, al moet ek dan ook saam met U tronk toe gaan of met my lewe daarvoor boet!”
“Petrus,” sê Jesus aangedaan, “Ek het vir jou gebid. Wanneer alles verby is moet jy jou broers versterk.”
Petrus wil net bly word, maar dan moet hy tot sy ontsteltenis hoor: “Maar jy gaan My vannag nog verloën. Voordat die haan kraai, gaan jy My drie maal verloën.”
Petrus is stomgeslaan as hulle in 'n verstikkende stilte die pikdonker paadjie opstap in die rigting van hulle slaapplek in die tuin.
'n Aangrypende verhaal wat afspeel in daardie laaste nag voor Goeie Vrydag. Daar gebeur so baie dinge gelyk, dat 'n mens se kop draai – die Paasmaal, die nagmaal, Judas se verraad, Petrus se selfversekerdheid wat aan flarde breek, alles nét te veel om op een slag in te neem.
Maar steeds is dit nie verby nie, die ergste lê nog voor! Boonop is die paadjie na die Olyfberg vanaand ektra lank en hulle Meester het nog baie om vir hulle te sê voordat hulle daar aankom.....
Ek en jy kan vandag net gevul word met verwondering, met deelname aan die gebeure, met intense emosie en innige dankbaarheid oor wat Jesus alles daardie verskriklike nag moes deurmaak sodat ek en jy die Ewige Lewe kan hê. Ons sal nooit werklik kan besef hoeveel Jesus moes ly nie. Dit was nie net die géseling en gespot en vernedering en die kruis nie. Ek dink dat die dissipels se onvermoë om te begryp wat werklik aan die gebeur was, vir Jesus verskriklik moes wees. Daarby die verraad van een van Sy intieme kring van dissipels, en die feit dat Sy staatmaker, Petrus Hom sou verraai. Is ons werklik genoegsaam dankbaar?
Gebed:
Here, ek bely vanoggend dat my dankbaarheid ver tekort skiet. Ek loof U vir wat U vir my deurgemaak het!