Matteus 10:34-11:1
Om ‘n naald in ‘n hooimied te soek, beteken beteken dat ‘n situasie totaal onmoontlik is en dat daar géén manier is om dit op te los nie. ’n Paar jaar gelede het iemand ‘n TV program gemaak waar hulle getoets het of jy daardie spreekwoord werklik letterlik kon opneem. Hulle het aan twee spanne die opdrag gegee om al hulle kreatiwiteit te gebruik om elkeen vier naalde in ‘n hooimied op te spoor. Die een span het besluit om die strooi in hulle hooimied bietjie-vir-bietjie te verbrand en deur die as te sif vir ‘n naald. Die ander span het weer hulle strooi in ‘n watertrog gegooi en met ‘n magneet die naald probeer opspoor. Na baie ure se harde werk is ál die naalde toe wél opgespoor. Wat gelyk het na ‘n totaal onmoontlike taak, was toe tóg moontlik. Terloops, die water-en-magneet-span het uiteindelik gewen! Die spreekwoord, om ‘n naald in ‘n hooimied te soek, sal voortaan dus vir my nie meer hééltemal dieselfde betekenis hê nie!
Ons kry in vandag se gedeelte met so ‘n onmoontlike naald in die hooimied te doen, ‘n tweestrydigheid wat jou tussen die oë slaan! Ons het nog altyd geleer dat Jesus vrede bring. Hy is immers die Simbool en Bron van VREDE. En nou sê Jesus vir Sy leerlinge dat Hy NIE gekom het om vrede te bring nie, maar TWEEDRAG en selfs VYANDSKAP. Dit maak nie sin nie! Om dit erger te maak, praat Hy spesifiek van tweedrag tussen mense wat baie naby aan mekaar is, tussen ouers en kinders, man en vrou! Hoe dan nou? Net 'n paar sinnetjies terug leer Jesus hulle om hulle gashere vrede toe te wens, en nou kom sê Hy hierdie verskriklike ding. Hoe moet ons dit dan nou verstaan?
Deur die eeue heen is hierdie gedeelte dikwels verkeerd opgeneem, en het dit onder andere daartoe gelei dat monnike hulleself in kloosters opgesluit het om hierdie woorde letterlik te vertolk. Om, met ander woorde, Jesus voluit te volg moet jy letterlik 'n keuse téén jou gesin maak, want jy kan nie jou gesin én Jesus liefhê nie, só het hulle geglo. Later het die sogenaamde bevrydingsteologie gevolg, waar daar 'n soort heilige oorlog gevoer word teen alle vorme van politieke verdrukking.
Wat dan van die gebod: Eer jou vader en jou moeder? Dan weerspreek jy mos die gebod? Hoe moet ons dit verstaan?
Ons moet allereers na die agtergrond en bedoeling van hierdie woorde kyk en dit verstaan voordat ons kan weet wat Jesus bedoel. In Miga 7:6 lees ons van 'n gesin-skeuring, wat tekens van die eindtyd sal wees. Matteus se gemeente het die begin van die eindtyd beleef. In die samelewing van daardie jare was gesinsbande (ook van die uitgebreide gesin) geweldig belangrik. Lees gerus die kosbare boekie: "Vensters wat die Woord laat Oopgaan" deur Joyce Malina, wat 'n wonderlike agtergrond gee op die leefwyse van die mense van daardie tyd. Wanneer dit dan gebeur het dat sekere lede van so 'n gesin Jesus as Verlosser aanvaar het, was hulle net eenvoudig uit die gesin geskop. Dit was 'n reuse ramp vir so 'n gesin.
Vandag is dit steeds so tot 'n sekere mate. Wanneer slegs 'n gedeelte van 'n gesin Jesus as Verlosser het, is daar verdeeldheid in die gesin. Waardes verskil, en daar is gedurigdeur stryd en onmin. Dit is veral wanneer 'n Moslem vir Jesus ontmoet, waar hierdie verdeeldheid soveel erger raak. So 'n persoon word nie alleen totaal afgesny van alle familiebande nie, maar ook van sy vriendekring. Hy word beskou as 'n verraaier en 'n ketter, en dikwels word hy voëlvry verklaar - dat enigeen wat hom teëkom, die volle reg het om hom dood te maak. Sulke persone word dan ook dikwels tereggestel in sommige dele van die wêreld.
Natuurlik soek ek as kind van God nie hierdie verdeeldheid nie, maar daar is keuses om te maak. Die verkeerde keuse het 'n verskriklike einde...
In die laaste paar verse voordat Jesus Sy leerlinge uitstuur, troos Hy hulle, deur eerstens die absolute verbondenheid van Sy dissipels aan Hom te beklemtoon. Staan jy in Jesus se diens dan is jy onlosmaaklik aan Hom verbind, en alles wat mense aan jou doen, doen hulle indirek ook aan Hom. Maar dit is nie al nie: daar is ook 'n groot beloning wat wag.
Om op te som: Ons taak as gelowiges, om die Evangelie uit te dra, het baie groot waarde - dit maak immers die verskil tussen lewe en dood - en absoluut niks mag ons daarvan weerhou om die taak uit te voer nie. Tweedens moet ons besef dat mag en geweld nie die Evangelie versprei nie maar dienende, oorredende liefde alleen, selfs tot op die punt van lyding en martelaarskap.
Gebed:
Here, ek wil U wonderlike Evangelie die wêreld instuur - maak nie saak wat die koste is nie!