Markus 1:40-45
Het jy al ooit iemand teëgekom wat melaatsheid het? In my ganse lewe het ek dit nog nooit gesien nie. Tóg voel dit vir jou wanneer jy die Bybel lees, asof elke dorp in daardie tyd sy groep melaatses gehad het. Het die dokters dan nou so slim geword dat alle melaatsheid uitgeroei is? Ja, die wetenskap het seker iets daarmee te doen, maar die groot ding is eintlik dat die dokters in die jare van die Bybel nie so ‘n goeie diagnose kon maak nie. Gevolglik was feitlik alle velsiektes bestempel as melaatsheid.
Om in daardie jare “melaatsheid” op te doen, was sekerlik die mees tragiese ramp wat enigiemand kon tref. ‘n Melaatse het net eenvoudig nie meer ‘n plek gehad in die samelewing nie. Hulle was totaal uitgedryf uit die stad, en hulle het nie eers naby ‘n gesonde persoon durf kom nie. Aanraking was absoluut taboe! Nie alleen was dit baie ongemaklik vir so ‘n persoon nie, maar ook uiters vernederend. As ‘n gesonde persoon per ongeluk naby hom kom, moes hy skree: “Onrein! Onrein!” Die arme melaatses was soos die pes vermy.
Melaatsheid het darem ook nie altyd die einde van die wêreld beteken nie: sommige melaatses het wél gesond geword. Maar dan was dit beskou as niks minder nie as ‘n Goddelike ingryping. Wanneer dit gebeur het, kon hy nie sommer net terugstap huistoe nie. Hy moes eers deur die priesters ondersoek word en rein verklaar word.
In die melaatse kolonie buite die stad sit ‘n paar baie bedremmelde manne. Hulle vriende het hulle verwerp én hulle familie het hulle verwerp. Hulle leef van aalmoese wat mense daar eenkant vir hulle neersit. “Ek hoor daar is ‘n nuwe Wonderwerker in die omgewing,” vertel een kêrel, “die mense sê dat Hy glo siekes gesond maak. Dink jy ‘n melaatse het ook ‘n kans?”
“Nee, vergeet dit! Hoe gaan jy in die eerste plek naby Hom kom? Nee wat, dis onmoontlik, slegs God kan ‘n melaatse gesondmaak! Droom maar voort!”
Nahum (‘n skuilnaam om sy identiteit te beskerm) sit in stilte en luister na hierdie gesprek. “Sê nou maar net.....” dink hy. “Nee wat!” bedink hy homself. Dan hoor hy dit: ‘n klomp mense wat nader kom - stemme wat opgewonde gons. “Seker maar ’n bruilof,” dink hy en hy begin regmaak om uit hulle pad te kom. Wanneer hulle egter binne sig kom, sien hy dat hierdie géén bruilof is nie. ‘n Groot klomp mense drom saam om ‘n Man. Sy hart begin woes klop: “Is dit nie dalk daardie Wonderwerker nie?” Op die ingewing van die oomblik besluit hy: “Vandag is die dag!” Hy spring skielik op en draf vinnig in die rigting van die skare.
“Wat byt jou nou alweer, Nahum?” wil sy skurwe maats weet. Maar Nahum hoor hulle nie eers nie. Die waagstuk wat hy beplan kan hom sy lewe kos as dit nie uitwerk nie, maar hy is desperaat. Hy kan nie langer só lewe nie!
“Hoe gaan ek óóit naby daardie Man kom?” wonder hy. Versigtig bedek hy sy liggaam met sy klere sodat niemand dalk sal agterkom dat hy melaats is nie. En vir ingeval iemand hom dalk herken, trek hy ‘n kopdoek laag oor sy oë. Met bewende knieë en ‘n woes-kloppende hart, wurm hy homself deur die skare. “As hulle my nóú moet uitvang is ek maalvleis!”
En dan skielik is die “Wonderwerker” hier reg voor hom. Nahum se mond droog op. Die woorde wil maar nie uitkom nie. Hy kry ‘n blik van die Man se vriendelike gesig. Soos ‘n dooie val Nahum voor Jesus se voete neer. “As U wil, kan U my gesond maak!” Rou snikke ruk deur sy liggaam. “Asseblieftog, asseblieftog!”
Dan gebeur die wonder: Jesus steek Sy hand uit en vat aan die man: “Ek wil,” hoor Nahum die sagte stem, “word gesond!”
Oombliklik trek die vreemdste gevoel deur Nahum se liggaam. Hy voel hoe die aaklige swere skielik opdroog en net eenvoudig verdwyn. “Is dit moontlik?” skreeu sy oorblufte verstand vir hom. Hy trek sy mou op. Waar daar minute gelede nog ‘n pynlike, septiese seerplek gesit het, is dit nou silwerskoon vel.
“Moenie vir enigeen sê nie,” hoor hy vaagweg die stem van die Wonderwerker, “maar gaan wys jou vir die priesters.”
Maar hoe kan Nahum dan nou hieroor stilbly? Hy hardloop en dans en huppel en sing: “Ek is gesond! Ek is gesond! Kyk hier: daardie Wonderwerker, Jesus het my gesond gemaak!”
“Rabbi,” sê Simon later vir Jesus, “U moet tog versigtig wees: daardie man was melaats, en U het sommer so aan hom gevat! U kan mos in gróót moeilikheid kom!” Maar Jesus beduie hom om net doodstil te bly hieroor.
Ek en jy is deur Jesus genees van iets baie erger as maar net melaatsheid. Ons was verdoem tot die ewige verderf. Jesus het ons daaruit gered, en in die proses nie net Sy hande vuil gemaak nie, maar aan die kruis gesterf. Die vraag is of ons ook so opgewonde is oor ons redding as daardie melaatse? Kan ons ook net eenvoudig nie stilbly daaroor nie? Kom ons verkondig dit wyd en syd dat Jesus ons genees het!
Gebed:
Dankie vir wat U vir my gedoen het, Here. Gee my die opgewondenheid en waagmoed om dit wêreldwyd uit te basuin!