Die Luggeveg Oor Juda

2 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Luggeveg Oor Juda

Daniël 10:1-3

VIDEO | LUISTER

Dit was die 24ste Maart 536 vC. Die tagtigjarige ou profeet Daniël tuur oor die Tigrisrivier. Sy hart is seer, want eintlik wou hy ook saam met sy volk na Juda teruggegaan het, maar sy hoë posisie in die regering het dit verhoed. Daniël sien skaars die jolige klomp mense om hom raak - mense wat nou al vir byna ‘n maand lank feesvier. Nuwejaar is verby, maar die feesgevoel kan maar nie uit die mense kom nie. Hier in Persië word nuwejaar gevier op die eerste Maart. Daniël ril as hy dink aan die partytjies. Alles begin op 1 Maart wanneer die afgod Mardoek deur die heilige Isjtarpoort gedra word. Bo-op die Tsikkurat (dis nou die tempeltoring) word dan offers gebring aan die gode wat daar in hulle nuwejaarsvergadering die lot van die volgende jaar sou bepaal. Dat mense jou waarlik sulke snert sou glo! En snags hou die Babiloniërs partytjie - vir ‘n volle twee weke lank - nie sommer net partytjie nie: hulle “brannewyn” het gládnie brieke nie!

Vir twee weke lank het die rook swaar oor die stad gehang - rook wat opstyg van meer as ‘n duisend afgods-altare ter ere van Mardoek, die koning van die gode. Die ganse stad het meegedoen, en gesing en gedans en hulle oorvreet en gesuip soos visse! Die lawaai en geroesemoes het die arme ou Daniël byna gek gehad. Hy het homself in sy kamer toegesluit en getreur ...... en gebid. Buite walm die afstootlike rookwolke van afgodsoffers - in Daniël se kamer styg die heerlike reukwerk van gebed op tot God…...

Dit is nie die geroesemoes van die skare wat hom so treurig stem nie, maar die berigte wat hy gehoor het uit sy vaderland, Juda. Daar het dit gladnie goed gegaan met die Jode nie. Dit was ‘n blye dag toe die volk kon terugkeer na hulle geliefde land. Maar die geestelike verval onder hulle was baie erg. ‘n Volle sewe maande na hulle terugkeer was daar vir die eerste keer weer ‘n altaar waarop hulle vir God kon offer. Tweehonderd-duisend mense het teruggekeer na Juda - brandarm mense. Hulle was die geestelike kern van die Joodse volk. Die Jode wat nie in ballingskap weggevoer was nie, het intussen geestelik baie agteruitgegaan, en heidense gebruike was aan die orde van die dag. Hulle het nou nie juis oorgeloop van vreugde toe hulle broers uit ballingskap by hulle kom aansluit nie, en daar was dikwels onenigheid en openlike vyandskap, veral toe daar aan hulle voorgeskryf word oor wat dit beteken om God te dien.

Daar is, na baie struwelinge, weer begin bou aan die tempel, wat totaal verwoes was. Die bouwerk was nou al nege maande aan die gang, en Daniël was diep bedroef oor die berigte wat hy hoor - van al die teëstand wat die bouers kry op hulle Godgegewe taak. Gedurige sielkundige aanvalle op die bouers, en dikwels fisiese oorlog teen hulle deur hulle half-heidense mede-Jode, het uiteindelik sy tol geëis, en die bouwerk aan die tempel is gestaak!

Daniël ken net een pad as die laste van die lewe so swaar op hom druk. Hy gryp na die magtigste wapen wat hy in die hande kan kry: gebed! Ja, dit is ‘n wapen wat selfs die kleinste en swakste gelowige met groot krag kan gebruik. Daniël is so ernstig in gebed gewikkel met God, dat hy vir drie weke lank vas en hom verootmoedig voor die Here.

En in hierdie tyd beleef Daniël weereens die asemrowende krag van gebed. Hemel en hel kan daarmee beweeg word - so moet Daniël uitvind. Daar word aan hom geopenbaar dat ‘n gees uit die hel die duiwelse werk in Juda ondersteun. Maar terselfdertyd beleef hy die hemelse wanneer een van die magtigste engele uit die hemel gestuur word om hom in te lig en die invloed van die helse mag te breek. Tussen hierdie twee magte ontbrand daar ‘n titaniese stryd om die beheer van Juda.

Waarom Juda? Wat is dan so besonders aan Juda dat die duiwel so verbete daaroor veg? En waarom was dit so noodsaaklik dat die tempel herstel moes word ten alle koste? Maar het jy dan nie geweet dat juis uit die stam van Juda die Messias, die Christus gebore moes word nie? Daar in Juda moes die diens van die Here herstel word, en ‘n tempel gebou word - ‘n tempel wat baie heerliker sou wees as die vorige wat gebou was. Daar moes ‘n tempel wees waar die Seun van God sou inkom en die waaragtige woorde van lewe sou verkondig. Vir die duiwel was die gebeurtenisse in Juda van lewensbelang, want as hy daar kon oorwin ...... Maar God is baie groter as die duiwel. In Betlehem, in Juda het daar vyfhonderd jaar later ‘n totaal nuwe geskiedenis begin - ‘n geskiedenis wat vooruitgeloop sou word deur die herstel van die tempel.

Vandag stel die duiwel steeds intens belang in dít wat in die kerk gebeur, en hy probeer sy uiterste bes om die kerk onregeerbaar te maak, net soos wat hy in Daniël se tyd gedoen het. Ek en jy is die geestelike kern wat moet bou aan God se koninkryk. Moenie dat die duiwel ons bouwerk beduiwel nie!

Gebed:

Here, rondom ons is daar soveel geestelike verval. Maak ons asseblief paraat, en gee ons die moed om die bouwerk voort te sit met ywer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026